DIE ROL VAN DIE VROU IN LANDBOU – Corwyn Botha

 

DIE ROL VAN DIE VROU IN LANDBOU – Corwyn Botha

Posted by VLV in News, VLVK-nuus 18 Aug 2009

VLVK

 

REIK NA DIE STERRE!

 

DIE 80ste JAARKONGRES!

MALMESBURY

18 AUGUSTUS 2009

 

DIE ROL VAN DIE VROU IN LANDBOU

DIE BEELD VAN LANDBOU

CORWYN BOTHA

Besturende Direkteur Kaap Agri (Edms) Bpk

Voorsitter Landboubesigheidskamer

 

 

Ons agenda is verkeerd om, heeltemal verkeerd om, ja, so dink ek! Ek bedoel nou ons groot agenda, die ene van ons landbou familie. Ons baseer ons sekuriteit en ons vervulling op ons behoeftes. Dit is, soos dit tans vir my lyk, ons benadering. Dit beteken ons plaas onsself in die hande van die ander om dit wat ons meen ons nodig het, van ons te weerhou. Ons stel onsself sodoende op as ’n slaaf, as ’n afhanklike.

 

Ons het grootgeword dat Pretoria sal help? – Die Landbank, – die Volkskas, – die Koöperasie, – die Pa, – die broederbond, – die NG Kerk, dis die ouens wat sal help! Ja, so het ons grootgeword, meen ek. Wat van eerder om jouself te help, selfstandig op jou eie keuses te staan? Sjoe! So ’n aangeleerde onbeholpenheid, ag nee wat. Dit gee ons natuurlik ’n magtelose gevoel. Ek meen, wat moet boer-alleen nou doen teen al die dinge wat op die oog af, tans hier teen hom opgestel is? Dit lyk mos onmoontlik? Kom laat ons sien.

 

Wat is landbou? Dit lyk vir my ons almal dink dis net bloot boerdery? Dit is tog baie meer as dit? Dit is die hele voorsieningsketting van voedsel, vesel, wyn en bier en moenie vergeet nie, dit begin alles op ’n plaas. Dit raak elke lid van ons nasie elke dag en as ons dit verwaarloos sal mense hongerly en koud kry. Dit is landbou. Dit het ’n edele bedoeling, dit bewerk die grond en dit versorg die basiese behoefte van die mens. Dit is ook waarvoor ek lief is.

 

Baie dankie vir die voorreg om hierso bietjie met u te kan gesels. Die spasie’tjie het Kaap Agri so omtrent twintig duisend rand gekos en ek hoop dit sal waarde skep vir u kongres, weerskante toe. Waarde vir Kaap Agri, vir die landboubesigheidskamer, vir AgriSA en natuurlik, ook vir u, vandag die heel belangrikste van die hele lot en dan, ons almal se customers, wie eintlik die heel-heel belangrikste in ons lewens is, in hierdie verband.

 

Al hierdie gepratery en ge-toesprakery kan straks net op ’n lot warm wind neerkom? Ek hoop nou nie dit sal so wees nie, inteendeel ek hoop regtig ek kan u keuses vorentoe beïnvloed, dan sal dit die moeite werd wees. Ek wil en moet, u keuse beïnvloed, so nie mors ek u tyd. As ek dit egter kan regkry dan, dan moet ons Bid vir die moed om ons keuses toe te pas en uit te voer of deur te voer.

 

Aanhaling: If you base your security and fulfilment on your needs, you enslave yourself. However if you can base it on your contribution, you wil be free, no matter what the world or life, throws at you.

 

Kom ons sê jy staan daar by jou perskeboom en ek kom ook daarso by jou aan? Ek sien jou boom gaan tien kissies perskes dra en ek wil twee daarvan hê? Jy moet mos nou dadelik oorgaan om jou boom en jou perskes teen my te beskerm en dit is wat jy dan ook sal doen. Ek meen hoekom moet jy jou oes met my deel? Wat nou gebeur is dat jy nie verder op die versorging van die boom en die vrugte kan fokus nie, want jy moet op die beskerming daarvan teen my konsentreer. Andersom, as ek jou egter sou benader met ’n aanbod om die boom se drag op te stoot na veertien kissies omdat ek oor die kundigheid beskik om dit te kan doen, sal jy tog bereid wees om die groei in produksie met my te deel in ruil vir my bydrae? So kry jy dan twaalf en ek, twee kissies?

 

Dit is hoe ek die agenda wil regdraai. Ek wil hê ons moet ons uitgangspunt, of dan, ons benadering, op ons bydrae baseer en nie op ons behoeftes nie. Dan is ons beeld die van ’n kontributor en nie die van ’n afhanklike nie.

 

Ons landbouers is entrepreneurs wie vrylik kies om kapitaal, kundigheid en energie in die bedryf te belê. Daardie mense is boere en hulle beskik oor daardie onderliggende kundigheid om ’n ram te laat spring, ’n druiwestok en ’n boom te laat dra en water, grond en klimaat te kombineer om vir ons voedsel, vesel, wyn en bier te produseer. Dis wat landbou is. Dit is die middelste woord van julle naam! Dit is waaroor dit gaan hierso!

 

Hulle doen dit om wins te maak. Nie om die nasie te voed en te klee nie en hulle kan juis daardie bydrae in hierdie land lewer sodat hier kos en klere sal wees. Dit is hulle bydrae. Dit is die Staat se werk om die nasie te voed en te klee en sowaar, hulle kan dit doen deur van die bydrae en van die poteniële bydrae van die boere gebruik te maak, dit te aanvaar en hulle aan te por om dit meer en meer en beter en beter te doen. Dit is so maklik, eintlik. ’n Ryk en welvarende landbou kan tog soveel meer bydra en gee as ’n sukkelende bedryf?

 

Kom ons gaan nou terug na kibbel toe. Kibbel en bestuur het twee bene, die wortel en die stok, of dan, die bekende wortel- of stok-metode. Met die spreekwoordelike uithang van die geelwortel maak jy staat op mense se gulsigheid om te presteer en met die stok weer, op hulle angs of vrees. Beide hierdie is manipulerend van aard en ook vernederend. Glo my vry, die ander ou weet dis wat jy probeer doen en daarom sal hy net dermate presteer om die wortel te kry of les bes, ten minste die stok oor sy rug te vermy, niks meer nie.

 

Nou gaan ek u harte steel. Huisvrouens en moeders is gebore leiers, glo my. Hulle versorg hulle mense en hulle laat hulle groei en ontwikkel. Hulle doen dit met omgee. Hulle doen dit met liefde. Hulle spandeer hulleself om dit reg te kry. Hulle lewe sodat die ander beter doen as wat die ander sou gedoen het as hulle nie daar was nie. Dit, is ’n Christelike beginsel en ons vrouens en moeders leef dit instinktief uit. Kyk maar self.

 

Ons help hulle ja, maar dan, nes ons by die voordeur van ons huise uitstap na daar waar ons werk of woel, dan gryp ons na iets anders, iets ander om ons mense kastig te laat presteer. Dan wil ons hulle dryf. Dryf soos in die anglisme vir drive. Dan gryp ons na die wortels en die stokke? Dis kibbel en kibbel is ’n doodloopstraat. Hoe dan nou? Ons weet dan ons moet andere versorg en ontwikkel? Dit is die regte ding om te doen, met liefde en dissipline.

 

Nou hoe doen mens dit? Kom ons vat gou die tuinier. Hy kies ’n struik om in sy tuin te plant en hy doen dit. Met sy linkerhand versorg hy die struik, hy gee water kunsmis, alles wat nodig is, maar as die struik skeef groei, neem hy staal op in sy regterhand en knip die struik reg. Dit is die dissipline, sonder om te skroom, pas hy dit toe. So met liefde in ons harte en dissipline in ons hande, versorg en ontwikkel ons as leiers, ons mense.

 

Dit is die bydrae van die landbouer, hy lewer die voedsel, vesel, wyn en bier. Hy lewe kontributief, dit is waarvoor hy staan en dit is wat hy doen, met sy produk. Die kommersiële ene, hy sit die groente op Fruit & Veg se rakke.

 

My storie gaan daaroor dat ons landbouers nie na die regering moet kyk om vir hulle te kom help nie, maar eerder om te sien of hulle bydrae tot die Land en sy mense, deur die regering as nodig geag en verwelkom word?

 

Solank as wat ons voortgaan om dinge van Pretoria te vra, solank plaas ons Pretoria in beheer van onsself en in die magtige posisie om dit van ons te weerhou. Natuurlik doen hulle dit dan in ’n poging van regstelling van dit wat ons voorgangers verkeerd gedoen het. Daardie tyd is egter verby en ons het nou ’n wonderlike, edel bydrae om hier te lewer met wat ons doen en wat ons kan doen.

 

Dit is hoekom ek reken ons agenda is verkeerd om.

 

Daar is maniere om dit om te draai. Ons moet hierso by die VLV van KAAPLAND begin.

 

Die eerste ene is om te onthou dat mense nie nuwe dinge kan sien nie, mense kan net dinge herken.

 

Aanhaling: People cannot see, they can only recognise.

 

So, ons moet meer mense, meer dinge wys as ons wil hê dat hulle dit moet kan sien. Ons is naïef om te dink dat almal moet weet hoe landbou werk en wat dit beteken. Dit is eintlik nie so nie, hulle weet nie regtig nie. Hulle sal ook nie vanself wil uitvind daarvan nie. Ons faal tot dusver om dit oor te dra want ons was gewoond aan mense daar wie baie van landbou geweet het en ook lief was daarvoor. Daarom is u en u vereniging so uiters belangrik om juis hierdie boodskap by wyse van ’n nuwe agenda en nuwe gedrag, uit te dra. Die regte beeld daar te stel.

 

Verder sien mense dinge soos hulle dit wil hê, soos hulle dit graag meen om te wees. Dit is maar selde dat hulle dinge sien soos dit regtig is, die realiteit sien. Weereens, wie anders as die VLV hier voor my moet ek gaan roep om die saak vir ons te kom regmaak?

 

Ons is mos eens daaroor dat primêre landbouers, eintlik boere is wie self kies om kapitaal en ander dinge in die grond te belê?  Niemand forseer hom nie. Nou, vat bietjie die ene wat so gaan nl.: vandat ek gekies het wat ek wil doen, het ek nog nie een dag gewerk nie?

 

Ons customers, klante, belanghebbers moet beter doen omdat ons hier is as wat hulle sou gedoen het as ons nie hier was nie. Weereens kom die wonderlike bydrae van die landbouer hierin na vore want hoe sal dit hier wees as hulle nie ons land vir ons bewerk en bewoel om vir ons kos en produkte te lewer nie?

 

Ek reken ons kan verder gaan. Ons kan die VLV gebruik om ons gedrag te beinvloed. Om dit te beïnvloed van ’n behoefte aan dat jy moet dit en dat en sie en sa, te verander na ek sal die en daai en sie en so doen en saam groei en ontwikkel ons?

 

Want ek wil hier wees en ek wil nie ’n OMDAT-MENS wees nie, maar ’n SODAT-MENS!! Ek wil nie kla omdat dit of dat nie, ek is hier sodat dit en dat!!!

 

So, as ek dan gekies het wat om te doen wat ek doen en ek doen wat ek gekies het om te doen en ek lewe om my bydrae uit te leef, wat anders?

Post a comment

eighteen + two =