Depressie: Ek was daar

 

Depressie: Ek was daar

Posted by VLV in Kleinmond Tak, News 28 Feb 2018

Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 27 Februarie 2018

 

Geklee in wit en rooi het die VLV-dames van Kleinmond vrolik die einde van die Liefdesmaand gevier, maar ook by die erns van die siekte van ons tyd, nl depressie stilgestaan. Anita Hattingh, oud-onderwyseres en voormalige predikantsvrou van Malmesbury het vertel van haar soeke na oplossings toe sy met depressie gediagnoseer is. Dis nie iets wat ‘n mens deur selfdiagnose of met inligting uit tydskriftartikels kan bepaal nie, dit moet deur ‘n dokter of ‘n sielkundige gedoen word. Goedmenende vriende se lekeraad beteken net so min soos wat onkundiges wil raad gee oor hartsiektes of vrouekwale.

 

Tog is daar gevaarligte wat begin flikker as sekere simptome begin wys:

Chroniese moegheid

Eetpatrone wat van die een uiterste tot die ander wissel: óf te min, óf te veel.

Slaappatrone wat wissel van te veel slaap tot gebroke slaap, slaaploosheid.

‘n Gevoel van nutteloosheid, swak eiewaarde – niks maak meer sin nie.

Skuldgevoelens oor alles en almal wat ly onder jou toestand.

Swak konsentrasievermoë. Iemand het dit beskryf as “voel bietjie onnosel”.

Vertraagde motoriese bewegings, goed val uit jou hande uit.

Geïrreteerdheid met jouself, ander en situasies.

Geen ervaring van plesier asof “die musiek opgehou het”.

 

 

As die vermoede bestaan dat daar depressiewe neigings is, gaan dokter toe. Indien nodig sal jy verwys word na ‘n sielkundige wat medikasie kan voorskryf wat nougeset volgens voorskrif gebruik moet word. Rus genoeg en leer om nee te sê. Wees geduldig met jouself. Anita het by ‘n Angs- en Depressie-ondersteuningsgroep aangesluit, later ‘n beraderskursus gaan doen en toe self ‘n ondersteuningsgroep onder die mentorskap van ‘n professionele persoon gestig. Dit het vir depressielyers in haar onmiddellike omgewing gesorg vir ‘n veilige ruimte waar hulle kon vrae vra, huil en aanvaarding ervaar.

 

 

Haar raad aan die gehoor was om die depressielyer aan die praat te kry en slegs te luister. Moedig die gesprek aan deur “oop vrae” te vra, soos “Vertel my, hoe voel jy?” eerder as om net te vra “Voel jy sleg?”

 

Depressie tas verhoudings aan, selfs met God, want die depressielyer se seratomienvlakke daal, en dan voel dit vir daardie persoon niemand, nie eens God , kan met hom/haar cope nie.

 

 

 

Maar daar is genesing en kundiges om te help. Maak werk daarvan.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Gasspreker Anita Hattingh(middel) saam met Marie Thomas (links) en Lisbé Badenhorst (saamroeper van Gesondheid)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Alice van Rooyen het die opening waargeneem.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Lezette van Jaarsveld het “Ken jy die see, meneer” van Uys Krige voorgelees.

 

Om die Liefdesmaand af te sluit, was meeste van die lede in wit&rooi geklee. Louie Booysen, Marianne de Wet en Lezette van Jaarsveld het ‘n mooi prentjie gemaak.

 

Rooi lyk net so mooi by ‘n gryskop! V.l.n.r. Tienie Symington, Peggy van Tonder en Maria Theron.

 

 

 

 

Nasionale Melktertdag is terselfdertyd gevier met ‘n voorgeskrewe resep wat 3 melkterte lewer: één word vir die maandelikse kompetisie ingeskryf en die ander twee is vir uitdeel aan geïdentifiseerde instellings.

 

 

 

Post a comment

2 + 11 =