Denise Minnaar motiveer VLV

 

Denise Minnaar motiveer VLV

Posted by Natania Schmidt in Murraysburg Tak, News 18 Sep 2013

Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Murraysburg

Portefeulje: Landbou en Tuinbou

Beriggewer : Mette Kromhout

Datum: 17 September 2014

 

de

Denise Minnaar

 

Soos ´n vars briesie het Denise Minnaar, tuinboukundige van Kleinfontein, die lede gemotiveer om met nuwe oë na hulle tuine te kyk.

 

Sy het haar PowerPoint- aanbieding met ´n wintertoneel van haar tuin begin.  Alhoewel alles met ‘n dik lag sneeu bedek was, het dit nogtans danksy die goeie struktuur ´n eie bekoring gehad.  Sy het beklemtoon dat dit moontlik is om met goeie beplanning ´n tuin uit niks tot stand te bring.

 

Die eerste stap is om struktuur te skep. Fonteine, boë, pilare, tuinbeelde en immergroen heinings moet so geplaas word dat dit gedurende alle seisoene interessante fokuspunte is.  By die keuse van bome, struike en heinings moet nie net die klimaat in ag geneem word nie, maar ook of hulle bladwisselend is al dan nie.  Juis in die koue dele van die Karoo is immergroen plante ´n groot aanwins.  Minnaar demonstreer met haar foto’s die belangrike rol van heinings in haar tuin en gee sommer die wenk om ´n eenvoudige draadstruktuur te maak, wat oor die heining geplaas kan word om egalige snoei te vergemaklik.

 

Die grond moet reeds in April voorberei en kompos en mis, verkieslik perdemis, ingewerk word.  Aangesien mis die grond laat verhit, hou dit die wortelstelsels warm en voorsien dit voldoende voeding sodat die nuwe groei, sodra dit warmer begin word, letterlik kan uitbars.

 

Klipmure vang warmte vas en die hoeveelheid sowel as die soort son (oggend- of middagson) moet bepaal word. Minnaar het foto’s van houtkaste vol welige kruie, wat in ´n driehoek van mure wat middagson kry, geplaas is, vertoon.  Die kaste is hoër as die grond en moet natuurlik goed dreineer.  Sulke kaste is ook ideaal vir aarbeie.

 

By die tuinbeplanning moet daarop gelet word dat oortollige water goed kan dreineer en dat bome en groot struike so geplant word, dat die uitsig nie versper word nie.  Aangesien arbeid al hoe duurder word, moet die tuin eenvoudig wees en die werk, wat dit sal vereis, beperk word. Dit is ook goed om plante, wat gereeld teen siektes gespuit moet word, te vermy.

 

Denise Minnaar se entoesiasme het selfs die lou tuiniers begeester en sal menige tuin in die distrik veranderinge ondergaan!

 

Die voorsitter, Theresa Troskie, het verslag van die onlangse uiters geslaagde kongres gedoen en Adrie Conradie, finalis van die Boerderyvennoot-kompetisie, het die tak vir die wonderlike geleentheid om Murraysburg te kan verteenwoordig, bedank.

Post a comment