Deegdag saam met Theresa de Vries van Kokkedoor

 

Deegdag saam met Theresa de Vries van Kokkedoor

Posted by VLV in Britstown Tak, News 16 May 2014

Sirkel:  Noord Karoo
Tak:  Britstown
Portefeulje: Leefstyl
Beriggewer: Wilma Strauss
Datum: 14 en 15 Mei 2014

 

Op 14 en 15 Mei is daar gebak en gebrou in die Buiteklub op Britstown.  Elsa Human, sameroeper van Leefstyl, het vir mev. Theresa de Vries gevra om vir die dames alle moets en moenies van deeg te kom leer.  Hierdie was voorwaar ‘n wonderlike poging om vir die vroue in die platteland iets baie spesiaal aan te bied.

Wilma Strauss (voorsitter Britstown), Sunel JvRensburg (Sirkelpresident), Theresa de Vries, Elsa Human (Leefstyl).

Wilma Strauss (voorsitter Britstown), Sunel JvRensburg (Sirkelpresident), Theresa de Vries, Elsa Human (Leefstyl).

Theresa de Vries was die naaswenner in Kokkedoor 2013, ‘n kosprogram op Kyknet.  Sy en haar man, Bossie, boer op die plaas  Boskop naby Brandvlei in die Boesmanland.  Theresa het kykers veral beïndruk met haar skilferkors wat sy in hewige hitte aangemaak het tydens die Kokkedoorreeks.  Verder is sy bekend vir haar heerlike Nougat wat ook te koop was tydens die kursus.
Omdat die dames (en twee manne) die voorreg gehad het om alles saam met Theresa te doen, was daar ongelukkig net plek vir 40 mense oor die twee dae.  Gewapen met voorskote, koekrollers, maatbekers, mengbakke, ens. het die dames al vroeg opgedaag.  Hulle is welkom geheet met koffie en muffins.  Daarna het die pret begin.  Onder Theresa se wakende oog  is skilferkors- en broskorsdeeg aangemaak.   Daar is ook met gekoopte deeg gewerk sodat mens die verskil kon sien tussen die gekoopte deeg en die ware Jakob.  Theresa het gewys wat alles met die deeg gemaak kan word.  Daar is melktert, konfyttertjies, hertzoggies, snacks”, hoenderpasteitjies, quiche, ens gemaak. Terwyl die dames hard gewerk het, is daar in die kombuis ewe hard gewerk deur VLV-lede om die vulsels vir die terte, ens. voor te berei en om alle gebak gaar te kry.  Dit het sommer goed en flink gegaan in die kombuis danksy die splinternuwe stoof wat deur die VLV aan die buiteklub geskenk is.  Dit was ‘n belewenis om die opgewondenheid van die dames te sien wanneer die gebak uit die oond kom.  Hulle kon nie glo dat die meesterstukke deur hul eie hande gegaan het nie!  Daar is mooi gekyk wie sin is wie sin, wat het geflop en wat was skougehalte.
Na ‘n heerlike middagete waar die quiche, wat gedemonstreer is, bedien is, is daar met fillodeeg gewerk.  Theresa het gewys dat mens dié deeg met Spray en Cook, botter of olyfolie kan smeer. Samoesas, springrolls, fillopakkies, ens. het die lig gesien!   Die dames is huis toe met al hul gebak om vir manlief te bederf!
Dit was voorwaar ‘n dag wat nog lank onthou sal word.
Wenk: Smeer jou broskorstertdoppie wat blind gebak is eers met eierwit voordat jy die vulsel inskep. Dit voorkom dat die tertkors pap word.

Melanie Rust, Zané Botha, Deanne Blomerus.

Melanie Rust, Zané Botha, Deanne Blomerus.

Julie Venter en Theresa de Vries.

Julie Venter en Theresa de Vries.

Sunel Botha, Ilse Grové, Louwna Kruger, Esmé Blaauw; Marthie Oosthuizen.

Sunel Botha, Ilse Grové, Louwna Kruger, Esmé Blaauw; Marthie Oosthuizen.

Post a comment

12 + one =