De Aar Weerkantoor

 

De Aar Weerkantoor

Posted by VLV in News, Petrusville Tak 29 May 2014

Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Petrusville

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Beriggewer: Alta Waldeck

Datum: 28 Mei 2014 

Tydens ons Mei-vergadering het mnr. Danie Ferreira van die weerkantoor op De Aar ons kom toespreek oor hul werksaamhede daar.

De Aar se weerkantoor is een van 15 oor die hele land wat aktief besig is met daaglikse insameling van data wat aan Pretoria gestuur word.

 

Omdat De Aar geleë is op die vlieg-hoofroete tussen Gauteng en Kaapstad, is die inligting wat hier bekom word baie belangrik vir die beplanning van vlugte op hierdie roete omdat waarskuwings van gevaarlike weerstelsels in die bolug ‘n groot invloed het op vlugte wat hierdie roete gebruik.

 

Data word ingesamel d.m.v. balonne wat om 12:30 elke dag opgestuur word. Onder aan die balonne is sensors wat inligting i.v.m. wolke, wind, sigbaarheid, temperatuur, vog en lugdruk meet. Die balonne styg 20 – 25 km in die lug op waarna dit dan bars. Ook radartegnologie word in die kantoor gebruik waar lesings elke 8 minute geneem word soos die weerstelsels beweeg. Inligting word uurliks na Pretoria gestuur en vandaar word hierdie inligting dan wêreldwyd versprei.

De Aar se weerkantoor bedien ‘n baie groot area. Daar is 57 plase in die area wat ook reënval meet en deurstuur. Dit is ‘n semi-staatinstelling wat inkomste genereer deur weerinligting te verkoop.

 

Mnr. Ferreira het ook tydens ‘n paar geleenthede gewerk op Marion- en Gough-eilande, asook by die weerstasie op Antarktika. Hy sluit dan sy praatjie af met pragtige foto’s en staaltjies van sy verblyf op hierdie eilande.

Post a comment

19 − six =