Dankie VLV

 

Dankie VLV

Posted by VLV in News 01 Nov 2019

Fraserburg

Beriggewer: M van Wyk

Datum: 31 Oktober 2019

 

 

DIE PROPÉT SE KRUIK

Die skoenboks staan en staar op die leë kombuistafel vir my. BOKS VIR ‘N BOERVROU. Boks sonder skoene. Boks sonder naam of van. Net Propét, die skoenvervaardiger se naam, gedruk in vet letters aan die sykant.

 

Die Boer, en die kinders kom staar saam. Wat is daarin mamma? Maak dit oop! Koekies, blikkieskos, handeroom, tandepaste, sepies, waslappie en tissues. Tissues. Die trane begin vorm. Hierdie kom uit die weduwee se kruik! Die onsigbare gee, van iemand se hande en hart met tasbare opregtheid, praat so hard.  Tog so sagkens. Hoe sterk maak dit nie die een in die huis wat moet luister, bid, vashou, positief wees en ook soms net stilbly nie. Die vrou, agter elke man, wat skoene van hoop nodig het om aan te hou stap, op hierdie woestynpad van die Karoo lewe.

 

Dan kyk ek weer na die ‘Propét’ woord. Dit tref my skielik. Dit beteken profeet! Profeet, die een wat God se ware wil en karakter bekend maak aan die mense. Die weduwee het kom profeteer. God gee om. Hy vergeet ons nie. Hy sal voorsien, selfs daar waar die kruik van die veld en die hart leeg lyk.

 

Dankie Profetes. Dankie Boks vir ‘n Boervrou.

 

Leave a Reply