DAAR IS ‘N UNIEKE WEBWERF IN JOU TUIN

 

DAAR IS ‘N UNIEKE WEBWERF IN JOU TUIN

Posted by VLV in Hantam Tak, News 07 Dec 2009

Aangesien VLVK vir die volgende drie jaar ‘n projek loods om al haar lede in rekenaarfundi’s te verander, moes die Hantam-dames sommer met ‘n megagreep wegspring.  Op 20 November, tydens Hantam tak se Landbou en Tuinbou portefeulje vergadering, het  Annalouise van der Colff die oulikste groen “webwerf” vir ons tuine geskep,  WWW.TUIN.COM. Maar moenie probeer om dit op die komper te soek nie, want ons spesiale virtuele ruimte het maar net vir die dag bestaan, daar in die binnehoffie van Jonita van der Merwe se huis, omring deur die ongelooflikste tuinskatte, gebore uit eie innovasie.

 

Wat maak ons in November?  Plant groente en vrugte, bemes alle plante en veral jou grasperk en sorg dat alles goed nat bly.

Wurmplaas – Maak organiese kompos deur spesiale erdwurmpies in ‘n swart vullishouer aan te hou.  Hulle leef van nat karton en afvalskille, maar suiwel, vleis, lemoenskille en uie sal hulle laat vrek.  Die verwerkte materiaal kan net so in die grond gewerk word as kompos en die wurmtee wat afgeskei word, kan verdun word as ekstra voeding vir potplante.

Weg met insekte – Maak ‘n groen inseksproei van uie, knoffel, brandrissie, skottelgoedseep en kookolie om veral brommers van jou plante weg te hou, maar behou steeds die blomme se reuk.

Tuinvriende – Lok voëltjies weg van jou vrugtebome deur vir hulle interessante, helderkleurige lekkernye op ander plekke in die tuin te hang.

Uitwys van swak kolle – Maak ‘n vleituin van waterfonteintjies en ‘n verskeidenheid waterplante op daardie hoekie waar niks anders wil groei nie.

Inspirasie – Raadpleeg gerus die Tuin tydskrifte vir oulike bykomstighede idees wat self gemaak kan word, en dan ook as geskenke gegee kan word.

Nuut op die mark – Bly op hoogte van nuwe produkte vir nuwe lewe in jou tuin.

Coriandrum Sativum – Plant koljander in jou tuin; die moontlikhede daarmee is legio en sluit in slaaisouse, geurmiddels in geregte, ‘n strelende gesigpap vir probleemvelle, spuitstof vir plantluise en die blomme is ‘n skoenlappermagneet.

Omgee – Gesiggies is fyn en pragtig in die tuin, maar kan ook as geskenkies en garnering gebruik word as dit versuiker word.

Maak planne – Ons woon nie naby groot tuinsentrums nie, maar dit hoef ons nie te keer om ook oulike planne maak deur net kreatief te dink nie.

 

So, of jou tuin so groot en baldadig soos die wêreldwye web is, of maar beperk tot ‘n paar potte op ‘n balkonnetjie, niks kan jou meer keer nie om jouself uit te leef daarin en dit in ‘n lushof te omskep. Gaan bos, maar onthou, gaan GROEN!

JCB

Post a comment

3 × three =