Cha Cha Cha

 

Cha Cha Cha

Posted by VLV in Acqua Tak, News 15 Jun 2012

Sirkel: Middelland
Tak: Acqua
Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Sameroepster: René Müller
Beriggewer: Natania Schmidt
Datum: 13 Junie 2012

 

Dit mag nou wel ‘n bibberkoue, nat aand in die Vriendelike Stad gewees het, maar Acqua se Junievergadering was vuurwarm. En dit het niks te make gehad met die lustige vlamme van die groot kaggelvuur nie. (Ja, die Kwa-Kwa’s is gelukkig genoeg om in ‘n lokaal te vergader waar daar ‘n lekker groot kaggel vir koue wintersaande is.)

 
Diegene (en dit was almal teenwoordig) wat net nie genoeg kon kry van programme soos Dancing with the starsen So you think you can dance nie, was goed bederf met die sensuele bewegings van twee danspare wat die kwik laat styg het met die Stadige Wals, die Weense Wals, die Tango, Samba, Rumba, die Paso Doble en die Jive, om maar net ‘n paar van die dansstyle te noem wat hulle uitgevoer het.

 
Peter Mann, ‘n geakkrediteerde SADTA beoordelaar en internasionale baldansstyl kundige met meer as 30 jaar ondervinding, het gesels oor die karaktereienskappe wat die verskillende  dansgenres identifiseer. Hy het die ritme, tempo, tegniek en woordeskat om die verskillende estetiese en unieke eienskappe van elke styl in die Baldans en Latyns-Amerikaanse genres, beskryf.

 

cha cha

 
Baldans, ook ‘n komponent van die Olimpiese Spele, is nie net ‘n sosiale stokperdjie nie, maar ‘n kunsvorm wat deur sy eie regulerende liggame en organisasies wat die integriteit van die amptelike baldanse handhaaf, beheer word. Talle van die dansstyle, heelparty met wortels in die Wes-Europese kultuur, het ondanks verskille in oorsprong, tempo en styl ten doel om die vrou die man se leiding makliker te laat volg en ook om die danspaar elegant en vorstelik te laat lyk. Die Weense Wals is die oudste amptelike baldans en het eers in die negentiende eeu sosiaal aanvaarbaar geword.

 
Die uitdrukkingsvolle Tango kan teruggevoer word na die agterbuurtes van Argentinië in die laat negentiende eeu. Die dans word gekenmerk deur die stadig-stadig-vinnig-vinnig patroon, staccato aksie en streng torso posisies.

 
Die Quickstep (Snelpasdans) word beskou as die vinniger weergawe van die Foxtrot en is tegnies ‘n baie ingewikkelde dans, alhoewel dit altyd lyk asof die dansers glad en lig op hul voete beweeg. Die Rumba, dans van die liefde met ekspressiewe, dog stadige, heupbewegings is waarskynlik die lewendigste dansstyl van al die Latyns-Amerikaanse style. ‘n Eksotiese, intense en sensuele dans.

 

 

Daar sal voortaan met ander oë na die tegniek van danspare gekyk word. En ook met groter waardering vir die ure se oefening. Die Acqua-lede se manne is na dese in vir ‘n ding. . . die Kwa-Kwa’s is nou dansgeletterd!

 

cha cha 2

Nicholas, Marelize, Lerato en Roché.

 

cha cha 3

Tafeldekorasies, gepas vir die tema.

Post a comment

eighteen + four =