Bredasdorp VLV-dames loop Waenhuiskrans plat

 

Bredasdorp VLV-dames loop Waenhuiskrans plat

Posted by VLV in Bredasdorp Tak, News 02 May 2018

Sirkel: Overberg

Tak: Bredasdorp

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Madelè Burger

Datum: 1 Mei 2018

 

 

Om Women Walk the World te vier, het Bredasdorp  VLV op ‘n uitstappie Waenhuiskrans toe gegaan. Ons het ‘n hele ent gestap deur Waenhuiskrans en oom Ferdie Spamer wat hierdie wêreld soos die palm van sy hand ken, het ons baie interessanthede vertel.

 

Waenhuiskrans het mos nog ‘n naam: Arniston. Hier in ons kontrei praat die Afrikaanssprekendes van Waenhuiskrans, terwyl die Engelse van Arniston praat. Oom Ferdie wys ‘n artikel in Die Burger oor Waenhuiskrans, dat die vissers sê, as hulle duimgooi en ‘n boer stop, kry hulle slegs ‘n saamrygeleentheid as hulle Waenhuiskrans toe ry, nie Arniston toe nie!

 

By die hawe met sy kleurvolle, bekende Waenhuiskrans visserskuite, vertel oom Ferdie dat al hierdie skuite deur dieselfde persoon gebou is, en dat hy onlangs dood is. As gevolg van ‘n sandbank, is dit vir die skuite moeilik om in die water te kom. Hulle het ‘n groot katrol (?) in die see gebou waarvandaan hulle die skuite dan oor die sandbank sou sleep. Dit was egter ‘n totale mislukking. Die skuite word met ‘n trekker gestoot tot in die water.

 

Wat ‘n belewenis was dit nie om deur Kassiesbaai te stap met sy tradisionele Waenhuiskranshuisies nie. Oom Ferdie was tog te spoggerig by sy vissersvriende oor die span vroue wat hy vir homself bymekaar gemaak het. Hy vertel dat die vissers aanvanklik by Oubaai (Roman Beach) gewoon het, maar later hulle kom vestig het in Kassiesbaai. Aanvanklik was dit almal vierkantige riethuise, maar later is die huisies gebou soos dit vandag is.

 

 

Bredasdorp VLV uitstappie is gereël deur Marie Spamer (voor links). Die bekende Arniston hotel is in die agtergrond.

 

 

Voor die hawemuur.

 

 

Ferdie Spamer deel sy kennis oor Waenhuiskrans/Arniston met VLV dames.

 

 

Tee en botterbroodjies by Willeen’s restaurant op Kassiesbaai.

 

Post a comment

2 × two =