Boekbespreking op Langebaan

 

Boekbespreking op Langebaan

Posted by VLV in Langebaan Tak, News 08 Aug 2019

Sirkel: Weskus

Tak: Langebaan

Studierigting: Kunste en Handvlyt

Beriggewer: Cynthia Huysamen

Datum:  7 Augustus 2019

 

Ons saaldekor hierdie maand, was “shabby chic” met boeke oral.  Al die dames van Kunste&Handvlyt het ingespring om al die tafels, die saal en die badkamers te versier.  Die verhoog se dekor is deur ons kunstige Hennah Greeff gedoen en wat ‘n lus vir die oog was dit nie!

 

Die saaldekor

 

Hilary Nepgen verwelkom almal.  Sanet Basson wens die Augustus Verjaarsdagdames geluk en Carla Snyman stel ons gasspreker voor.

 

Spreker:  Marinda van Zyl – skrywer.

Sy is gebore in Gobabis, Namibië, op 11 September 1948 en het grootgeword op ‘n plaas in die distrik.  Sy voltooi haar laerskooljare op die plaasskool en matrikuleer op Gobabis Hoërskool.  Verwerf ‘n BA Graad en Onderwysdiploma by Potchefstroom University for CHE (Christian Higher Education) en in 1971 trou sy met Jan van Zyl.  Daarna het sy Afrikaans onderrig by Windhoek Hoërskool.  In 1976 trek hulle Bloemfontein toe sodat beide verder kon studeer.  By Bloemfontein Onderwyskollege het sy skool biblioteekarisse onderrig en ook ingestaan as boekselekteerder vir die Provinsiale Biblioteekdienste.  In 1984 verhuis hulle na Vanderbiljpark waar sy Geskiedenis onderrig by die Sebokeng Campus of Vista University.  Sy het ‘n Honeursgraad in Geskiedenis en Biblioteekkunde.  Sy verwerf ook ‘n Meestersgraad in Geskiedenis (UOVS) en Biblioteekkunde (cum laude) van PU asook ‘n Ph.D. in Geskiedenis aan Vista Universiteit.  Sy maak haar fiksie-debuut in 1988 toe haar roman Die reëndagbesluit gekortlys was vir Sarie/ATKV Romankompetisie – dit het Bittersoet Sewe ingesluit wat in 1991 deur Tafelberg gepubliseer is.  In 2011 met die tweede romankompetisie het haar manuskrip Vrypas na Vergenoeg gepubliseer as Wilhelmina kom tuis.  In 2019 is haar kortstorie Jas teen die somerhitte deel van die Woordfees se kortstorie antologie.

 

Kort beskrywings van haar drie gewilde boeke:

 

 

 

Voorstelling van die boek

 

Wilhelmina Radebe kom tuis – ‘n Historiese roman met fiktiewe karakters waarvan die eerste uitgawe in 2011 verskyn het, toe ook as naaswenner van LAPA se romankompetisie.  Die teks is egter van voor af geredigeer om lastige taal en ander foute reg te stel.

Die verhaal is gebaseer op navorsing (1987-1993) wat Marinda van Zyl vir haar PhD-proefskrif “Swart verstedeliking in Vereeniging, 1923-1960”, gedoen het.

 

Die gebeure speel af in die apartheidsjare (rondom 1984) en is uit die perspektief van die 81-jarige Wilhelmina Radebe vertel.  Sy is een van die meer as 100,000 swart moedertaalsprekers van Afrikaans. Sy praat regte “Transvaalse” Afrikaans, anders as die Xhosasprekendes in die Kaap.  Sy is die fiktiewe kleindogter van Wildebeest, wat werklik die agterryer van Paul Kruger was.  Radebe is skerpsinning, wys en enigmaties.

 

 

 

 

Voorstelling van die boek, Amraal.

 

Amraal – in 2016 uitgegee deur Tafelberg- ‘n Historiese roman met laat 18de en vroeë 19de eeu as agtergrond, spesifiek van die groepe wat met mekaar kontak gemaak het Noord van die Garieprivier buite die grense van die toenmalige kolonie, in wat vandag as Namibië bekend staan.

 

Vir minstens ‘n eeu lank tot die grens “gesluit” is, het die kontak tussen Oorlams Afrikaners (afstammelinge van die vermenging van trekboere en Khoi, Namas, Damaras, Boesmans en Hereros) gesorg vir ‘n onstuimige tyd van gewapende konflik oor weiding en toegang tot waterbronne, gepaard met veerowery en grootskaalse jagtogte, asook smokkelary.

Dié roman neem die lewe van Lammert – ‘n ware historiese figuur – wat in 1774 in die Olifantsvallei gebore word as die kind van Oorlams (verwesterde Khoi-plaaswerkers).  As jong volwassene werk hy as slaaf, tot hy by die Hottentot-korps aansluit.  Hierna dros hy ná die slag van Blaauwberg en begin hy vir sy eie onafhanklikheid sorg, hoofsaaklik deur olifantjag.  Hy verander ook sy naam na  Amraal. Hy bou geleidelik ‘n gevolg op, onder meer deur sendelinge goedgesind en behulpsaam te wees en te streef vir die vreedsame naasbestaan van verskillende groepe.

 

 

 

Dors – ‘n Historiese roman – in 2018 uitgegee deur Tafelberg.  Volgens resensis Alta Cloete, is Dors nie ‘n opgewekte boek nie, maar ‘n noodsaaklike boek wat ‘n brokkie van die Suid-Afrikaanse geskiedenis helder verlig.

 

In die laat 1800’s kom families van dwarsoor die Transvaal bymekaar om Damaraland toe te trek om Britse belegging van hul gebied vry te spring.  Van meet af aan is daar egter ‘n leierstryd onder die mans met rampspoedige gevolge. Vroue se deusettingsvermoë in ‘n tyd waar hulle deurgaans onderdruk was, word duidelik in hierdie boek uitgebeeld.

 

Ons maandelikse kompetisies het weer gewilligheid en talent getoon en ons marktafel stel ook nooit teleur nie.

 

Dankie aan al die dames van Kunste&Handvlyt wat vir ons so ‘n lekker vergadering gereël het.

 

 

 

 

 

 

 

 

Marinda van Zyl met die boek Dors

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 


Kunste en Handvlytgroep – van die verhoog dekor

 


Tafels was pragtig versier

 


Kunste en Handvlytgroep onder die leiding van Charlotte van Eeden

Leave a Reply