Blomme, bêremengsels en bloeddruk

 

Blomme, bêremengsels en bloeddruk

Posted by VLV in Aberdeen Tak, News 20 Oct 2017

Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 18 Oktober 2017

 

Oktobermaand se VLV vergadering in Aberdeen was leersaam en pret – propvol interessanthede wat elk van die 6 portefeuljes dek.

 

Lea van der Vyver, voorsitter, open met gedagtes uit die Woord – ons is elkeen deel van die lewe se potpourri of mosaïek, elkeen is uniek geskape om haar eie plek vol te staan.  Ons hoef nie soos iemand anders te probeer wees nie – ons moet net meer en meer word soos wat God bedoel het ons moet wees.

 

Sameroeper van Gesondheid, Stephnie van Zyl, is verpleegster by Aberdeen Hospitaal en gee lede ‘n siftingsvorm om in te vul wat vir bloeddruk, diabetes, depressie en TB toets.  Dit bemagtig lede om te weet of hulle ‘n afspraak by ‘n moet dokter maak.  Verder deel van Zyl inligting oor die effektiwiteit van warm water om gesondheidsprobleme aan te spreek en hoe om dit vir spesifieke toestande te gebruik.  Dit is baie gesond om elke oggend 4 glase warm water op ‘n leë maag te drink en dan vir 45 minute nie te eet nie.  Die gesondheidsgevare van baie koue water vir mens se gestel en gesondheid word ook uitgewys.

 

Sameroeper van Openbare Sake, Elna van Niekerk, verskaf idiome van Nederland wat voorgelees word met die regte aksent – lede moes dan raai wat die betekenis is.

 

Sameroeper van Leefstyl, Suzanne Lategan, deel resepte uit oor bêremengsels vir slaaisous.

 

Sameroeper van Kunste en Handvlyt, Heidi Lombard, demonstreer die gebruik van ‘n outydse “Rose Bowl” aan lede.  Vars rose word kort geknip en in die basis se gaatjies gesteek.  Daarna word die glasbal vol water getap en die roos-basis daarin gedruk en geseël.  Die bal word dan omgedraai om op die basis te staan – die rose vertoon pragtig in die water, het lugborrels op die blare en hou baie lank op die manier.

 

Sameroeper van Opvoeding en Kultuur, Lize de Jager, moedig lede aan om nog meer betrokke te raak om die mense naaste aan jou op te hef en te ondersteun, bv huishulp, tuinman, plaaswerkers en hulle kinders.

 

Sameroeper van Landbou en Tuinbou, Annalie Lategan, lewer ‘n praatjie oor die nuutste navorsing oor die sielkundige waarde van tuinmaak.  Daar is ‘n bakterie wat in grond voorkom wat tot die verligting van depressie kan bydra.  Wanneer jy met jou hande in die grond werk stimuleer dit ook die groei van neurone in die brein wat ‘n verhoogde serotonien vlak tot gevolg het en angstigheids vlakke laat daal.  Lategan gee ook ‘n opsomming oor die voordele van tuinmaak.

 

Daar word ‘n marktafel gehou waar lede elk tuisgemaakte produkte bring en dan mekaar se produkte koop.  Die inkomste word aan die tak geskenk.

 

Theresa van der Merwe en Karen van Rensburg word as nuwe lede verwelkom.  Annalie Lategan wen die gelukkige trekking en die dag word afgesluit met koffie en heerlike eetgoed wat Heidi Lombard verskaf.

 

Agter vlnr : Lea van der Vyver, Mimi Lategan, Estelle van Wyk, Annalie Lategan, Elise Steynberg, Karen van Rensburg, Stephnie van Zyl, Gloria Peniston, Heidi Lombard, Jean Watermeyer

Voor vlnr: Anchen van Schalkwyk, Lize de Jager, Carina Esterhuizen

 

Marktafel

 

Post a comment

ten − 3 =