Bewaar ons erfenis

 

Bewaar ons erfenis

Posted by VLV in Hofmeyr Tak, News 16 Jul 2019

Sirkel: Cradock

Tak: Hofmeyr

Portefeulje :  Openbare Sake

Beriggewer :  Teresa Opperman

Datum:  15 Julie 2019

 

Hofmeyr VLV kuier saam met die spoke

 

28 lede van Hofmeyr VLV-tak het heerlik saamgekuier in die kompleks van die Karoobos Padstal in Hofmeyr.   Hierdie kompleks huisves ook die museum wat onder die VLV ressorteer nadat die stigter van die museum,  Katie du Plessis, die museum aan die VLV oorgegee het, met haar vertrek na ‘n aftree-oord.

 

As gasspreker tydens die geleentheid, het Riana Mulder van die Erfenis Stigting vir ons ‘n skrywe met groete gebring vanaf Neeltje Louw, Voorsitter vanaf VLU Brits.  Ook het sy kom vertel van die Erfenis stigting se werksaamhede.  Die erfenisstigting is in 2002 gestig as ‘n nie-winsgewende organisasie wat die Suid-Afrikaanse kulturele erfenisbewaring ten doel stel.  Hul belangrikste doelstelling is om erfenisbewaring te bevorder.

 

Riana Mulder (regs) van die Erfenisstigting, het twee vriendinne
saamgebring na Hofmeyr.

 

Riana en haar metgeselle het vanaf Zastron, oor Steynsburg na Hofmeyr gereis.  Hul het ook op Zastron en Steynsburg besoek afgelê by plattelandse museums, wat gebuk gaan onder ernstige agteruitgang.  Soos in Hofmeyr, merk sy orals op dat die monumente wat deur voorgeslagte opgerig was, tot niet gaan. Dit word nie meer instand gehou nie, en hierdie monumente word dikwels afgebreek dat daar net ‘n hopie klippe daarvan oorbly. Dit was ook die geval met die 1938 ossewabrandwagtrek monument in Hofmeyr se publieke park.

 

Teresa Opperman,  kenner van Hofmeyr se geskiedenis,  het ‘n kort opsomming van die dorp se indrukwekkende geskiedenis weergegee, en ook vertel van die 36 000 jaar oue skedel wat hier ontdek is, en wat van Europese afkoms is, n.a.v. koolstof datering.    Daar is ook verwys na Iris Vaughan wat haar dagboek op die dorp begin skryf het.  Ongelukkig kort die talle geskiedkundige huisies op die plattelandse dorpie, ‘n ernstige kontantinspuiting om weer hul eertydse glorie te herwin, en dit kan slegs deur toerisme bewerkstellig word.

 

Teresa het ook ‘n paar kort spookstories wat deur die jare die rondte in die klein dorpie gedoen het, met lede gedeel.  En menige luisteraar kon lekker koue rillings kry, want as daar van spoke in ‘n museum gepraat word, roer elke ou trourok grillerig.

 

Keurige gevulde pannekoeke is bedien en Isabel Wilken het voorts haar leefstyl halfbeurt benut om vir lede te wys hoe serpies op talle maniere gevou kan word om die beste uit ‘n uitrusting na vore te bring.  Sy het ook haar skoondogter Anneke Wilken en ‘n vriendin se dogter, Elisma de Jager, genooi om te demonstreer hoe serpe ook as haarversierings gebruik kan word.

 

Talle interessante wenke is deur sameroepsters gedeel.

 

Isabel Wilken het ‘n hele versameling bloeses gebring wat sy met
haar serpe versier het, wat sy op verskeie maniere gevou het.  Elke lid het
ook ‘n blad huistoe kon neem met instruksies.

 


Links is Elisma de Jager (Hoof: Tegnologie  by Hofmeyr VLV)  besig
om Anneke Wilken (sittend) (Kuns sameroepster) se pragtige bos hare om te
tower deur ‘n serp te gebruik terwyl sy ‘n Franse vlegsel maak.

 

Hofmeyr VLV is altyd ‘n lekker kuierplek, ook vir die kinders.  En
heerlike pannekoek is mos nou ‘n groot bederf.

 

 

 

 

 

 

 

Hofmeyr VLV lede lewer gereeld pragtige artikels vir die marktafel, en hierdie maand was daar tot tuisgemaakte handeroom, pasteie en vars groente te koop.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

So ‘n pragtig gedekte lang tafel in die Karoobos Padstal, is nou net die regte plek om spoke te bespreek en te besweer.

 

 

Post a comment