Besoek  aan  Karl Bremer Hospitaal

 

Besoek  aan  Karl Bremer Hospitaal

Posted by VLV in Brackenfell Tak 23 Jul 2015

Sirkel:   Tygerberg

Tak:   Brackenfell

Portefeulje:  Openbare Sake

Beriggewer:  Lettie Van Wyk

Datum:   23 Julie 2015

 

 

Brackenfell lede het fluks gebrei aan truitjies, mussies en babaskoentjies en daar was groot opgewondenheid in die lug toe 5 lede na Karl Bremer Hospitaal vertrek het met die kosbare vraggie babakleertjies.

 

 

IMG_1450 (Custom)

 

 

Daar aangekom, is die lede ontvang deur Suster La Grange, wat die truitjies,  mussies en babaskoentjies in ontvangs geneem het.   Die lede het die 74 piepklein truitjies met soveel liefde gebrei en dis met groot dankbaarheid ontvang.   Suster La Grange vertel dat van die  jaarlikse 700 geboortes in die hospitaal 95% van die mammas niks het vir hul babatjies nie.

 

 

IMG_1461 (Custom)

 

 

Heelwat babas word prematuur gebore en word dan deur die mammas versorg deur middel van die “Kangaroo Mother Care” metode.   Hierdie metode is al sedert 2005 in gebruik by die hospitaal.   Suster La Grange neem die dames na die saal waar hierdie mammas en babas versorg word.   Die baba word vertikaal teen die mamma se lyf styf vasgemaak , hoog genoeg dat die mamma se ken aan die baba se koppie raak as sy haar ken laat sak en so, vel teen vel, word die baba se temperatuur deur die mamma gereguleer en kry al die liefde en kos wat hy nodig het.   As die baba te koud is, kry die mamma warm gloede en as die baba warm is, bibber die mamma.  Die kleintjie het net ‘n mussie op en skoentjies aan die voetjies, met ‘n klein doekie.  As die baba warm kry haal die mamma die mussie af.   Die Heer het die mens darem wonderbaar gemaak!   Hierdie babas en mammas word vir ongeveer ‘n maand versorg, totdat die baba se gewig 1.7kg is, waarna hulle kan huistoe gaan.   Die baba moet nog so versorg word tot hy ten minste 2.3kg weeg.   Suster La Grange vertel dat die kleintjie dan gewoonlik begin uitklim.   Sy wys vir die lede foto’s van tweelinge en selfs  ‘n drieling wat so versorg is.   Op die oomblik is daar ‘n tweeling in broeikaste omdat hulle geelsug het.

 

 

IMG_1456 (Custom)

 

 

Vigs mammas melk hulleself uit in ‘n glashouertjie wat dan in water geplaas  en verhit word totdat die water sterk begin borrel (die melk is dan verhit tot 60°C)   Hierdie moedersmelk kan dan met veiligheid  aan die babatjie gegee word en bly veilig vir 12 ure.

 

 

IMG_1455 (Custom)

 

 

Suster La Grange vertel dat daar ook ‘n groot behoefte is aan toiletware.    Baie kry nooit besoekers  nie en mense is welkom om te kom besoek aflê op ‘n Saterdag met ‘n eetdingetjie of ander bederf.    Dis baie harde werk om ‘n baba so te versorg en aandag word baie waardeer.    Maak net voor die tyd ‘n afspraak met haar.

Post a comment

17 + 14 =