Besoek aan Funky Ouma

 

Besoek aan Funky Ouma

Posted by VLV in News, Suider-Paarl Tak 19 Oct 2017

Sirkel: Paarl

Tak: Suider-Paarl

Beriggewer: Elsa Hanekom

Datum: 18 Oktober 2017

 

Van soute meng in die kombuis vir eie gebruik, tot die garage en soute verkoop by markte, tot ‘n eie fabriek waar soute gemeng en verpak word vir verskaffing aan ander besighede – dit is die storie van die ma-en-dogter span van Funky Ouma.

In Oktober het Suider-Paarltak haar jaarlikse uitstappie na Funky Ouma onderneem waar ons vir ma Anneke van Rooyen, en haar dogter, Johannita Eksteen en hul span ontmoet het.

 

Nadat Anneke se man gediagnoseer is met kanker, het sy probeer om alle preserveermiddels en kleurmiddels uit sy dieet te skakel.  So het sy begin om soute en kruie, wat hulle self kweek, te meng.  Hierdie mengsels was ook baie gewild onder vriende en familie en met Johannita se aanmoediging het Anneke begin om die soute te verpak en het hulle by markte hierdie sout begin verkoop.  Hulle het egter besef hulle produkte het ‘n naam nodig en as ‘n grap het Johannita voorgestel dat hulle dit Funky Ouma noem.

 

Winkels het begin navraag doen en nadat hulle op Kwêla verskyn het, het hul besigheid verdubbel.  Skielik was die garage te klein en het hulle na ‘n fabriek in die “Old Tannery” op Wellington verskuif.  Hulle werkspan het intussen ook gegroei en so word werksgeleenthede aan die plaaslike gemeenskap verskaf.

 

Anneke vertel dat Funky Ouma se soute almal Himalaya sout as basis het.  Himalaya sout bevat 84 minerale.  Hulle gebruik slegs natuurlike growwe sout van Walvisbaai en die Himalayas in al hul mengsels.  Ons ken almal Himalaya sout as ‘n pienk sout.  Wees egter versigtig, nie alle pienk soute is die gesonde Himalaya sout nie, dit is eerder die kleur van die jodium.

 

Een van hul gewildste soute is die beetsout wat ‘n pragtige kleur het.  70 kg beet moet gedroog word om slegs 7 kg beetpoeier te kry.  Beet bevat ‘n hoë persentasie natuurlike yster.  Hul beetsout is ‘n “na-sout”.  Dié sout word nie in kook gebruik nie, maar word eerder op slaaie gebruik.

 

Selfs die kookkuns volg modekleure en Funky Ouma skep gereeld nuwe mengsels wat die modekleure reflekteer – so is daar dan ook ‘n mooi geel borrie- en gemmersout wat gewild is vir kerries.  Daar is egter vele meer soute.  Al hul soute is natuurlik en bevat geen kleurmiddels, MSG of preserveermiddels nie en is laag in sodium.

 

Die tak het na haar besoek aan Funky Ouma die oggend by die baie bekostigbare Mariaan se Koffiehuis, ook op Wellington, afgesluit.

 

VLV Suider-Paarl lede by die Old Tannery op Wellington

 

Lede geniet ‘n koppie tee na die uitstappie

 

 

Organiseerders van die uitstappie, Wilma Kock en Berta Spangenberg voor die ingang van Mariaan se Koffiehuis

 

 

Funky Ouma-fabriek by die Old Tannery in Wellington

 

Funky Ouma, Anneke van Rooyen

 

Die braai en kook sout

 

Gonny du Plessis (Voorsitter) by Johannita Eksteen

 

Die jaar se armoede projekte is ook in Oktober afgesluit.  Die tweede projek vir die jaar was “Booties for Babies”.  Lede is versoek om almal een paar babasokkies te brei.  Ons stoutste verwagtinge is egter oortref toe familie en vriende ook ingespring het en in die proses kon ons 134 pare babasokkies en ook nog vele babatruitjies en -mussies aan die Pediatriese afdeling van die Paarlse Provinsiale Hospitaal oorhandig.

 

 Dokters en verpleegpersoneel neem babasokkies in ontvangs

 

Wilma Kock (Ondervoorsitter, heel links) en Gonny du Plessis (Voorsitter, heel regs) by verpleegpersoneel van die Pediatriese afdeling

Post a comment

1 × 5 =