Beplan vandag vir môre

 

Beplan vandag vir môre

Posted by VLV in Kleinmond Tak, News 30 Jan 2018

Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Opvoeding&Kultuur

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 30 Januarie 2018

 

“Môre begin Vandag” hoor VLV

Bogenoemde tema van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland was met die aanvangsvergadering van die Kleinmondtak die onderwerp van die spreker, Hermien van Zyl, ‘n vorige Sirkelpresident van Sirkel Overberg en tans Tak- en Sirkelsaamroeper vir Landbou&Tuinbou. Sy het dit geknoop aan die ontstaan en geskiedenis van die VLV en gewys hoe hierdie begrip altyd soos ‘n goue draad deur die amper 90 jaar van VLV-bestaan geloop het.

 

Reeds vanaf 1929 het Jossie Ackermann, die stigterpresident van VLV die lede geïnspireer met die woorde:

 

 ”Laat ons volhard op die weg wat ons ingeslaan het, want die waarde van wat ons vandag doen, besef ons miskien nie self nie, maar die vrug sal bly vir die nageslag.”

 

 

 

 

 

 

 

Ná mev Ackermann was daar ewe vérsiende VLVK-presidentes in wie se dienstermyne inisiatiewe aangepak en afgehandel is en besluite geneem is wat VLV op die voorvoet geplaas het met vooruitbeplanning. Van Zyl het enkeles genoem soos bv. die restourasie van Jubileumhuis op Stellenbosch gedurende die sewentiger jare in die dienstermyn van wyle mev Glen Uys. Dit huisves sedert 1979 die vereniging se hoofkantoor, argief en tekstielmuseum. Daarná het wyle mev Margie Visagie die vereniging deur die jare van politieke omwenteling gestuur met grondwetveranderings t.o.v. lidmaatskap en naamsverandering wat VLV reg geposisioneer het vir die jare wat sou kom. Op háár beurt weer, het mev Ronella Rademeyer die affiliasie van VLVK by Agri Wes-, Noord- en Oos-Kaap geïnisieer. Sedert die ontstaan van VLV is daar ‘n onlosmaaklike band met die landbougemeenskap omdat alle VLV-lede verbruikers is met ‘n belang in landbou. Meer onlangs was dit die dryfkrag van mev Erika Lubbe wat die VLV-lede oor die hele Kaapland se rekenaarvaardighede opgeskerp het van ‘n skamele 20% tot feitlik 100% vandag. “Môre begin vandag is nie om te droom oor wat môre kan bied nie, dis om vandag te beplan vir môre” het Hermien van Zyl gesê. “Anders sit ons met ‘n situasie soos waarin ons land tans is omdat daar nie vir damme en skole beplan is nie.”

 

Sy het die lede aangemoedig om die beste te maak van hulle besluit om ‘n lid te word van die VLV-tak. Daardeur leer jy nuwe vaardighede en kom jy voor nuwe uitdagings te staan, kan jy self bydra met nuwe idees, nuwe vriendskappe smee en deel wees van ‘n gemeenskapsorganisasie wat ‘n bydrae lewer tot Kleinmond se opbou. VLV is méér as net ‘n dorpsorganisasie. Met wyer skakeling in die Overberg, Kaapland, Suid-Afrika en wêreldwyd deur affiliasie by die Wêreldbond van Plattelandse Vroue, raak die lede betrokke by en blootgestel aan groter kwessies en ander situasies. Môre begin vandag as jy verder kyk, antisipeer en vooruitbeplan.

 

Die middag se verrigtinge het ook ‘n inspirerende openingsboodskap deur Marita Grobler en ‘n vrolike voorlesing deur Susan Marais ingesluit voordat die vergadering verdaag het en die lede met ‘n lekker koppie tee in die hand kon inhaal op die vakansie se wegwees van mekaar.

 

Hermien van Zyl (regs) saam met Cecile Jonkheid, takvoorsitter.

 

Behalwe vir deelname aan VLVK-kompetisieartikels, kon lede ook inskrywings bring vir ‘n wortel&beetring (Mikrogolfwenners 2) en appelkoosblatjang.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Marita Grobler en Hermien van Zyl

 

 

 

Die 83-jarige Susan Marais weet net hoe om met ‘n pittige voorlesing die gehoor in die holte van haar hand te hou.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Blommebeoordelaar Kobus Conradie het ‘n medelid van die Blommebeoordelaarsunie, Pat Wilson van die Strand saamgebring na die vergadering.

 

 

 

 

 Gesellig met ‘n koppie tee in die hand gesels Maria Theron, Susan Marais en Nelie Ungerer.

 

Louna Conradie en Gerda Harding.

Post a comment

eight + seven =