Belê in Vroue se gesondheid

 

Belê in Vroue se gesondheid

Posted by VLV in Kleinmond Tak, News 26 Feb 2020

Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Gesondheid

Datum: 25 Februarie 2020

Beriggewer: Hermien Van Zyl

 

 

Vlv-Kleinmond Belê In Vroue (en Mans!) se Gesondheid

 

Met die VLVK-tema “Belê in Vroue” in gedagte, het Kleinmond se Gesondheidgroepie besluit hulle sal vir die maandvergadering fokus op hoe vroue in hulle gesondheid kan belê. Die bekende dr. Gerhard Schoonbee van Stellenbosch was hiervoor die aangewese spreker.

 

Hy het die gehoor geboei met die vertelling van sy dieëtgeskiedenis sedert 2013 toe hy sy eetgewoontes verander het na ‘n lae koolhidraat/gesonde vet-lewenstyl. Dr Schoonbee het persoonlik die gevolge van Metaboliese Sindroom (dit kom by 1 uit 4 volwassenes voor) in sy lewe ervaar. Dit is ‘n sindroom wat ‘n kombinasie is van al die risikofaktore wat tot kardiovaskulêre siekte, beroerte, nierprobleme en diabetes kan lei. Dit word gekenmerk deur vetsug en die hoofoorsake is leefstylfaktore (soos verkeerd eet), oorerflikheid (sommige families is geneig tot obesiteit) en mediese faktore soos hormoonverandering en die neem van sekere medikasie. Die verandering in sy dieët van ‘n laevet-dieët waar hy steeds met diabetes en hoë cholesterol gesukkel het, het hom laat besef dat die teorië dat alle vette gevaarlik is, ‘n mite is.

 

“Dit is die oormaat koolhidrate in ons dieët wat kan bydra tot verskeie gesondheidsprobleme. Sny suiker en stysels uit jou dieët en fokus op ‘n lae koolhidraat/gesonde vette leefstyl” is dr. Schoonbee se advies.

 

In sy praktyk kan dr. Schoonbee, gewapen met die kennis van persoonlike ervaring en verdere studie, nou persone behandel wat aan tipe 2-diabetes, vetsug, outo-immuun en chroniese inflammatoriese siektes ly. Die paar resepte om heerlike suikervrye, maar voedsame kos te berei, was ‘n treffer by die dames.

 

Lizette van Jaarsveld het met ‘n voorlesing uit Matie Brink se “Dis nou Potjiekos” heel gepas aangesluit by die tema van die dag.

 

Dr. Schoonbee saam met Lisbé Badenhorst (taksaamroeper vir Gesondheid, links) en  Cecile Jonkheid (takvoorsitter).

 

Dr Schoonbee het Lizette van Jaarsveld se voorlesing baie geniet!

  • letty-ann möller June 6, 2020 at 10:56 am / Reply

    Ja, en nou is ds Matie Brink nie meer met ons nie, maar sy dogter, Martelize Brink (RSG) het ook ‘n resepteboek uitgegee en sy suster, Marina du Toit en haar seun, Antonie maak opslae met hulle onthale in die Overberg en elders. “It runs in the family!”

Leave a Reply