Behuising op Porterville

 

Behuising op Porterville

Posted by VLV in News, Porterville Tak 10 Mar 2017

 

Sirkel:  Weskus

Tak:  Porterville

Portefeulje:  Openbare Sake

Beriggewer:  Louwna Hoving, lhoving@telkomsa.net

Datum:  9 Maart 2017

 

VLV PORTERVILLE:  TOEKENNING VAN BEHUISING AAN INWONERS

 

Abelia Lawrence van die Bergrivier Munisipaliteit deel die volgende aan lede mee:

‘n Moratorium was geplaas op aanbouings in Porterville, maar in 2013 is ‘n studie gedoen en in 2014 is R38,5 miljoen van die Departement van Behuising verkry vir die aanbou van huise in die Porterville se munisipale gebied.  Die projek word net deur die Munisipaliteit bestuur. Porterville het geen plakkerskampe nie, wel agterplaasbewoners.  Plakkerskampe is ‘n groot probleem omdat dit die broeiplek vir euwels soos dwelms en verkragtings is en dikwels ook die broeiplek vir ongewensde persone en elemente.  Dit is moeilik om beheer uit te oefen waar dit ontstaan, omdat inwoners mekaar beskerm.

 

Die Munisipaliteit is besig om op te gradeer om erwe wat gediens sal word aan inwoners  te voorsien op geskikte grondgebied.  aansoekers word deur die Departement van Behuising op ‘n waglys geplaas, tans ongeveer 5 000.  Daar word volgens sekere kategorieë toekennings gemaak soos 50% word aan inwoners bo 60 jaar wat reeds 10 jaar in die area woonagtig is en in die ouderdomskategorie 40 tot 59 jaar.

 

‘n Gesin moet minder as R3 500 bruto-inkomste verdien om te kwalifiseer en afhanklike kinders word ook in aanmerking geneem.  Ongelukkig is daar ook baie bedrog betrokke omdat aansoekers afhanklikes bokant 18 ook byvoeg of werkgewers verander salarisstrokies sodat werkers in aanmerking kan kom.  Dan word daar appèl aangeteken.

 

Aansoekers moet ook in die Bergrivier Munisipaliteit woonagtig wees om te kwalifiseer.  Aanbouings mag aan die huise gedoen word, mits daar ‘n goedgekeurde plan daarvoor ingedien word.  Die huise mag nie verhuur word nie en dit mag nie binne 8 jaar van okkupasie verkoop word nie.  Dit gebeur wel dat persone dit aan buitelanders ten duurste verkoop en dan in ‘n opslaankamer op dieselfde erf bly.

 

 

 

Die huise is net van koue waterkrane voorsien omdat dit ekonomies nie haalbaar is om warmwaterstelsels te installeer nie.  Badkamers is van baddens in plaas van storte voorsien sodat diegene wat nie oor wasmasjiene beskik nie, ook hulle wasgoed in die bad kan was.

 

Persone wat meer as R3 500 verdien en nie ‘n bankhuislening kan bekom nie, kan aansoek doen vir die gap-huise-projek van      R300 000, ‘n subsidie vanaf die staat.  Dit is beskikbaar vir alle rasse, maar daar is ‘n baie lang waglys.

 

VLV Porterville versoek dat aandag aan straatname en huisnommers gegee moet word, omdat dit moeilik is om inwoners op te spoor, aangesien bure nie altyd mekaar ken nie.  In die lig van die waterskaarste moet dit ook oorweeg word om watertenks by elke huis op te sit.

 

 

Abelia Lawrence

 

 

 

 

 

 

Die VLV Porterville spog ook met twee nuwe lede wat aangesluit het.  Sedert November 2016 het ons reeds 16 nuwe lede in die Tak verwelkom.  Die meelewing in al die lede se doen en late, sowel as die gemeenskap se lief en leed is werklik bewonderingswaardig en dames, ouer as 16, is baie welkom om vergaderings by te woon en te deel daarin.

 

Emelda Cruywagen, Mary-Ann van Schalkwyk (voorsitter), Iline Goosen

 

Tydens die afgelope VLV-konferensie het VLV Porterville-tak se lede getoon hoe bekwaam hulle is.  Van die 24 inskrywings het die Tak 21 pryswenners gehad met 6 eerste plekke, 2 tweede plekke en 4 derde plekke.  Agt trofeë is verower vir die Wisselafdeling, Borduurwerk, Breiwerk, Handvlyt, Fotografie, asook die Meeste punte vir  Handwerk, Meeste punte vir Kunste en Handvlyt en Meeste punte vir Algehele Totaal, asook ‘n Verdienstelikheidsertifikaat.

 

Vlnr:  Louwna Hoving, Mary-Ann van Schalkwyk, Eleanore Grobbelaar, Erna la Cock, Hessie Kühl, Zabetha Albertyn, Willemien Burger, Anneke Smuts en Hedwig Schoch.

  • Estelle du Plessis March 15, 2017 at 9:38 am / Reply

    Trots op julle! Julle is almal sterre! Mooi so, Porterville! Julle hou ons Sirkel se naam hoog.

Post a comment

12 − twelve =