Afrikaans het gekom om te bly – ‘n Eeu Later

 

Afrikaans het gekom om te bly – ‘n Eeu Later

Posted by VLV in Hantam Tak 24 Jul 2015

Sirkel:  Namakwaland

Tak:  Hantam

Portefeulje:  Opvoeding en Kultuur

Beriggewer:  Janine Brynard

Datum:  24 Julie 2015

 

 
Vandag is Afrikaans ‘n honderd jaar jonk en is die taal wat deur minstens 20 miljoen mense in Suid-Afrika gepraat word.  Meer bruin en swart mense praat deesdae Afrikaans as wit mense.  Afrikaans is nie meer ‘n taal van verdrukking nie, maar van bevryding!  Só verklaar die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging, wat vanjaar sy 85ste bestaansjaar vier.  Annalie Steenkamp, van die Hantam ATKV tak op Calvinia, het lig gewerp op dié organisasie en sy werksaamhede.

 

 

Die ATKV het Christelike beginsels en glo in die bevordering van die Afrikaanste Taal.  Verder roem hulle daarop om ‘n familie organisasie te wees, met talle voordele vir sy lede.  Ten spyte van kompetisie, toon die ATKV groei in ledetal, maar veral ook in voorkeure vir sy vakansiebestemmings.  Die Klein Kariba oord in Limpopo is heeltemal opgradeer, ná verlede jaar se vloed-ramp en Hartenbos gaan in fases ontwikkel word, deur by die pretpark te begin.  Dit behoort einde 2016 voltooi te wees.

 

 

Projekte van die ATKV sluit in die Handevat-projek, waarmee skole of opvoedkundige instansies uit bevoorregte gemeenskappe gemotiveer word om volhoubare projekte aan te pak saam met minderbevoorregte skole.  Jaarliks word suksesvolle Jeugleiersimposiums aangebied vir skoolleiers.  Praktiese vaardighede word ontwikkel, wat dié leerders as leiers by hul skole, maar ook op hul eie lewens kan toepas.

 

 

Die taalafdeling van die ATKV beywer hom vir die bevordering van Afrikaans as hoëfunksietaal en eietydse, gewilde en inklusiewe gebruikstaal, maar ook vir die bevordering van Afrikaans in ‘n meertaligheidskonteks.  Ook fokus die ATKV op die skep van geleenthede of platforms vir die bevordering van geletterdheid op verskillende vlakke, die ondersteuning van Afrikaanse taalonderrig op skool, asook vir moedertaalonderrig.  Taalprestasies in Afrikaans word ook bekroon.

 

 

Die tema van die ATKV vir vanjaar is nasiebou en versoening.  Afrikaans, as wesenlike en waarskynlik die mees inklusiewe taal in Suid-Afrika, behoort aan die voorpunt te staan van hoe nasiebou en maatskaplike kohesie prakties kan werk:  Alle mense moet ingesluit word;  die verlede verdwyn nie, maar ons kan nie daarby stilstaan nie;  ons moet bly help en nie iemand definieer aan hand van die verlede nie;  die hoop vir die toekoms moet sterker wees as my veroordeling;  aanvaar verantwoordelikheid vir jou taal;  skep ruimte vir ander;  moenie jou taal versmoor nie;  wees ‘n omgee-mens en help waar nodig; verstaan wat op die ander kant aangaan;  werk saam aan voorstelle.

 

 

Opvoeding & Kultuur 2015 (Custom) (2)

Tydens Hantam VLV se Opvoeding en Kultuur vergadering is die ontstaan, ontwikkeling en toekoms van die Afrikaanse Taal bespreek, asook die besluitnemingsproses vanuit ‘n brein-gebaseerde oogpunt.  Op die foto is van links Ena van Schalkwyk, hulp vir die saamroeper, Tilla Nel, saamroeper vir die vergadering, Annalie Steenkamp, spreker en verteenwoordiger van die Hantam ATKV tak, Janine Brynard, voorsitter van Hantam VLV en Sonja Squires, spreker van Neurolink.

 

Post a comment

14 − eight =