Adopt-A-Cop en wees paraat!!

 

Adopt-A-Cop en wees paraat!!

Posted by VLV in Hantam Tak 13 Feb 2015

Sirkel:  Namakwaland

Tak:  Hantam

Portefeulje:  Openbare Sake

Beriggewer:  Janine Brynard

Datum:  13 Februarie 2015

 

 

In Calvinia vier misdaad hoogty.  Die mees algemene rede hiervoor, is dwelmverwant,  aldus  AO Smit van Calvinia SAPD se Speurtak.  Hy het die misdaad-prentjie geskets en ‘n mooi prentjie, is dit allermins.

 

 

Dis ‘n gegewe dat daar byna daagliks ‘n dwelmverwante arrestasie in Calvinia gemaak word.  Die mees algemene dwelm is dagga.  Deesdae word dit in enige denkbare vorm ingeneem. TIK bly ook ‘n reuse probleem wat mense stelselmatig vermoor.  En dis nie net die dwelm as sulks nie, maar eerder die gemors wat die dwelm-sindikate daarmee vermeng.  Dit sluit in enigiets van Ratex, Omo, koeksoda, sout tot droë batterysuur!  Dié chemiese byvoegings belemmer die dwelmhonde se reukvernuf heeltemal sodat hulle soektogte oneffektief is.  Daarby is TIK ook heeltemal reukloos.   Maar dis nie moeilik om ‘n TIK-verslaafde uit te ken nie.  Die newe-effekte van hierdie dwelm, sluit in konstante hallusinasies, rusteloosheid en uiterste aggressie.  Die persoon sal geen oogkontak maak nie, kan nie konsentreer nie, sal ‘n afname in gewig toon en beweeg slegs wanneer dit donker is, omdat hy uiters ligsensitief is.  Moet nooit ‘n TIK-verslaafde konfronteer nie, want hy is fisies in staat om jou dood te maak!

 

 

Die mees ontstellende feit, is dat TIK-base kinders van ses jaar gebruik om ‘n nuwe vermenging te toets vir die uitwerking daarvan op die senu-stelsel.  Op hierdie ouderdom kan ‘n mens die beste resultate sien omdat hulle liggame nog sterk en gesond is, maar dit vat slegs een dosis om iemand daaraan verslaaf te maak.  Hierdie jong proefkonyne raak dan almal TIK-verslaafdes wat móét steel om strooitjies in die hande te kry.  Ander dwelms wat ‘n rol speel, is Mandrax, Ecstasy en LSD.  Dit word veral deur bendes versprei d.m.v. ondergrondse netwerke.

 

 

Waarom word hierdie euwel nie uitgeroei nie?  Die Polisie probeer om betroubare beriggewers in sindikate en bendes te plaas, maar dan is hulle dubbelgangers!  Om by die kop van ‘n bende uit te kom, is bykans onmoontlik.  Met slim strategieë word lae-risiko bende-lede afgevaardig om die voetwerk te doen, sodat die meesterbreine nie vasgetrek kan word nie.  ‘n Ander rede waarom die platteland ál meer gebuk gaan onder misdaad, is die feit dat misdadigers uitwyk na kleiner dorpies waar die Polisie dalk nog nie so paraat is vir hul misdrywe nie.  Ongelukkig ten koste van die inwoners wat juis op die platteland woon om weg te kom van die misdaad af!

 

 

Calvinia SAPD funksioneer onder ‘n aantal eenhede, waaronder gesinsgeweld, veediefstal, ‘n honde-eenheid, sigbare polisiëring, patrollies, ‘n plaaslike kriminele rekord-sentrum, ‘n misdaad intelligensie kantoor en ‘n cluster-kantoor. Maar dit sukkel om misdaad hok te slaan.  Sonder die inwoners se hulp, is dit ‘n bykans onbegonne taak.  ‘n Beroep word gedoen om die Polisie te help.  Moenie stilbly oor misdaad nie – hoe klein en onbenullig dit mag lyk.  Wees bewus van wat in jou omgewing aangaan.  Wees paraat.  Doen moeite.  Rapporteer enigiets wat vreemd is en enigiemand wat nie daar hoort nie.  Probeer ‘n beskrywing van die verdagte kry en neem ‘n steelfoto indien moontlik.  Die grootste raaisel vir die Polisie, is hoe sindikate hulle teiken-huise “merk”.  Die oplettendheid van inwoners, kan dalk die antwoord wees hierop.  Wanneer die noodnommer geskakel word, om ‘n moontlike misdaad te rapporteer, vra om die patrollie-beampte se selfoonnommer te kry.  Dit sal kosbare minute spaar en die boodskap kan nie verdraai word nie.

 

 

En, helaas, onthou dat die Polisie net mense is.  Daar ís beamptes wat betroubaar is en wat elke dag hulle lewens op die spel plaas om ons s’n veilig te hou.  Ons kan besluit om elkeen ‘n Polisie-lid aan te neem, hom of haar te ondersteun, te leer ken en betrokke te raak by die werk wat hulle doen.  Deur dít te doen, doen ons iets daadwerkliks om die misdaad aan te spreek.

 

 

Hantam

 

 

Tydens Hantam VLV se Openbare Sake vergadering, het AO Smit, van die Calvinia SAPD Speurtak, die dames kom toespreek oor die misdaad-prentjie in Calvinia.  By hom op die foto is Louise Brynard (links – hulp) en Adolene Nel (regs – saamroeper van die vergadering).

 

Post a comment

three × 2 =