Acqua se Verjaarsdagfees

 

Acqua se Verjaarsdagfees

Posted by VLV in Acqua Tak, News 12 Oct 2017

Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 11 Oktober 2017

 

Vonkelwyn en Vermaak. Vrolikheid en Vriendskap. ‘n Verjaarsdagfees Vol Vreugde. Die Kwa-Kwa’s het ‘n Vreeslike Verruklikke Viering van hul 33ste Verjaarsdag gehad. ‘n V-partytjie. Daar was ‘n Verwer, Vakansiegangers, ‘n Vark, ‘n Viking, Vlae, ‘n Voëlkyker, Verpleegsters, ‘n Vroedvrou, ‘n Voorsitter vol Vere, ‘n Visepresident, Vlinders, ‘n Vier en sestigjarige, Vriendinne en Vrouens. Amper Veel meer kreatiwiteit is aan die dag gelê, as wat Vertel kan word! Gelukkig was daar nie Vyand of Vlooi te bespeur nie.

 

 

    

 

    

 

Dit was ‘n aand vol vermaak in ware Acqua-styl. Daar is gelag en gekwetter van die deur tot by die tafels. Die tafels wat met kleurvolle maskers en vere versier is. Spesiaal om aan te pas by die kabaretvertoning, 50 Shades of Eve, wat na ete aan die beurt gekom het.

 

  

 

Die agenda is gou-gou afgehandel, want dit was ‘n aand van genieting. Geen ernstige sake is in die mond geneem nie. Net vonkelwyn om die tak se drie-en-dertigjarige bestaan te vier. Party vroue raak mos nooit ouer as 29 nie, maar in VLV-geledere word elke jaar met trots bygereken. Acqua is gelukkig om nog ‘n hele paar stigterslede op die ledelys te hê. En daar is hulde gebring aan al die lede wat oor 33 jaar deel was van die tak, die tak uitgebou het en die pad gelyk gemaak het vir ‘n tak wat vandag steeds van krag tot krag gaan.

 

Twee talentvolle manne, Robert Gillmer en Ferdi Coetzee, het die gaste met sang en musiek vermaak terwyl ‘n driegang-ete bedien is. Mooi kos. Lekker kos. Goeie musiek.

 

Na ete kon gaste agteroor sit om die sang, stoute, maar ook bekende liedjies en skerp kommentaar op Christian Grey en Anastasia Steele van 50 Shades of Grey-faam, deur Nicci Cloete-Barrass, Marelize Barnard en Faye Gatley te geniet. 50 Shades of Eve het tot elke vrou gespreek. Ons ís mos Evas. Die drie kunstenaars se talent en uiters genotvolle vertoning is met dawerende applous beloon.

 

 

Acqua se Vejaarsdagfees was ‘n aand vol pret en bederf. Laf, luid en lekker!

 

Kwakkie was natuurlik óók by die fees. Op haar eie troon. Soos dit ‘n Verruklikke Vorstin betaam.

 

Post a comment

sixteen − thirteen =