Acqua is uit die blokke vir 2018

 

Acqua is uit die blokke vir 2018

Posted by VLV in Acqua Tak 08 Feb 2018

Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 7 Februarie 2018

 

 

Op die 1ste Januarie het ons die geskenk van vooruitsig op 365 dae vol belofte en genade ontvang en so aan die begin van ‘n jaar moet ons gedagte gee aan alles wat ons in die nuwe jaar sal kan vermag. Dink net wat ‘n verskil ons op soveel verskillende vlakke sal kan maak. Die vreugde wat ons sal kan saai is onbeperk en onuitputlik. Daar is natuurlik geen belofte of waarborg dat die jaar nie ook bewolkte, stormagtige dae sal hê nie. Maar VLV-samesyn sal vir ons ‘n skuilplek teen die storms bied. ‘n Beskutte vriendskapshawe vir die dae wat ons op genade oorleef.

 

En ‘n groot genadegeskenk was die Acqua-lede se weersiens. Acqua is uit die blokke vir 2018 en wat ‘n wegspring was dit nie gewees nie!

 

Dit was natuurlik hoogtyd dat ons mekaar se geselskap weer ‘n slag opgesoek het. Na die Feesgety was daar dalk minder(of meer – dit was mos darem Krismis) van mekaar om te bekyk, nuwe haarstyle of dalk ‘n gesonde son-blos op die ledemate, maar herken het ons mekaar herken. As die hart eers aanklank gevind het en iemand se teenwoordigheid jou siel verwarm het, is so ‘n mens mos nooit weer ‘n vreemdeling in die poorte van jou menswees nie. Dit was tyd vir die Kwa-Kwa’s om laer te trek en onsself te omring met toegeneentheid in die geselskap van vroue wat jou siel laat blom.

 

So in die maand van die liefde is die gholfklub (Acqua se vergaderingtuiste, reeds vir die afgelope 7 jaar) rooi geverf. Die Kwa-Kwa’s was luid en laf, opgewonde en lus vir kuier. Almal het hul kaste deursoek vir ‘n ietsie rooi om aan te trek en die ou Vaaltyne in die kroeg se oë het behoorlik geblink. So ‘n mooi klomp vrouens met breë glimlagte sit ‘n beter huppel in ‘n man se stap as die duurste Whiskey.

 

Selfs Kwakkie was getooi in rooi vir die samekoms.

 

Soos in die verlede het ons die eerste vergadering gebruik om almal te herinner aan watter wonderlike vereniging ons behoort. Nuwe en voornemende lede, selfs die veteraan-lede, moet ingelig wees oor die vereniging se ontstaan, doelstelling, betrokkenheid in die gemeenskap, tema, projek, affiliasies, kongres, ensovoorts, ensovoorts. Dit is gedoen met die hulp van ‘n PowerPoint aanbieding, wat die inligting maklik en sigbaar by almal tuisgebring het.

 

      

 

Acqua is een van 14 takke in die Middelland Sirkel (geografiese area) en dit is natuurlik ook nodig om die Sirkel en veral Acqua-tak onder oë te neem, so aan die begin van ‘n nuwe VLV-jaar.

 

  

 

      

Maar daar is nie net VLV-sake bekyk en bepraat nie. Die dames van Fitch & Leedes en Woodstock het die lede ingelig oor Gin of Jenewer, soos die Hollanders dit noem. Daar is ‘n ou proeseltjie ook gemaak. Interessant genoeg word daar meer mengeldrankies met Jenewer gemaak, as met enige ander spiritus. Ons het meer gehoor oor Jenewer wat uit die 17de eeu dateer toe die Nederlandse soldate dit gedrink het om hulle moed te gee. En dis waar “Dutch courage” vandaan kom. So het die Kwa-Kwa’s sommer proe-proe moed geskep by die eerste samekoms van die jaar.

 

  

Suzette is duidelik nie ‘n Gindrinker nie!

 

Acqua-tak beplan gróót dinge vir 2018, want huistoe gaan is beslis nié ‘n opsie vir die dinamiese VLV-vriendekring genaamd ACQUA nie!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Post a comment

5 + 1 =