Aberdeen kuier rondom Kruie

 

Aberdeen kuier rondom Kruie

Posted by VLV in Aberdeen Tak, News 14 Nov 2017

 

Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Landbou en Tuinbou

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 8 November 2017

 

November se VLV byeenkoms word by Aberdeen Self Catering aangebied.  Die gesellige onthaalarea met tafels, leerbanke en bedieningspunte onder afdakke binne die beskutting van die gastehuis se lieflike karootuin is die ideale plek vir so ‘n jaarafsluiting.

 

Die Woord van God sê in Rom 8 dat niks ons van God se liefde kan skei nie en in Fil 4 lees ons dat God vir ons vrede sal gee wat alle begrip oortref as ons tot Hom bid, smeek en Hom dank, selfs binne-in ons moeilike omstandighede.

 

Lea van der Vyver open met die boodskap dat ons nie in vrees moet leef nie – selfs te midde van droogte en al die negatiewe dinge in ons land wat ons tans oorweldig.

 

 

 

Na ‘n paar VLV sake en die finalisering van 2 Kersprojekte wat beplan word, is dit tyd om meer oor tuinmaak met kruie te leer.

 

Annalie Lategan, sameroeper Landbou & Tuinbou, vertel lede hoe om ‘n kruietuin te maak.  Die eerste besluit is rondom die tema van jou kruietuin, bv. slaaituin, insekwerend, medisinaal ens.  Daarna moet besluit word waar die tuin gevestig word – sommige kruie soek son en ander koelte.  Dit is ook belangrik dat kruie beskut is en naby die kombuis vir oes.  Die ontwerp van die kruietuin kan formeel of informeel wees, afhangend van jou smaak.  Besluit op die spesifieke kruie wat geplant gaan word – kies tussen 5 en 10 soorte wat jy graag self gebruik.  Die voorbereiding van die grond is baie belangrik – kruie hou nie van kleigrond nie en moet goed dreineer.  Potte werk uitstekend, maar moenie te klein wees nie.  Na al die beplanning en voorbereiding kan die kruie aangeplant word.

 

Lategan demonstreer die plant van ‘n verskeidenheid kruie in een pot en beklemtoon die belangrikheid van beenmeel, kompos en ‘n deklaag.  Sy vertel ook hoe die kruie geoes word.  Na afloop van die demonstrasie word die kruiepot aan Voorsitter, Lea van der Vyver, geskenk as bedanking vir wat sy die jaar vir die tak gedoen het.

 

Daar word weer ‘n marktafel met tuisgemaakte produkte gehou.  Die keer is daar heelwat kruieplantjies te koop wat behoorlik opgeraap word, aangesien almal geïnspireer is om te plant!

 

Lede bring elkeen ‘n kersgeskenk wat uitgeruil word sodat elkeen ‘n ander se geskenk ontvang.  Die dag word afgesluit met koffie en heerlike eetgoed wat Carina Esterhuizen gemaak het.

 

Lea van der Vyver ontvang die kruiepot van Annalie Lategan na die plantdemonstrasie.

 

Elise Steynberg, Luise de Jager, Karin Pienaar en Theresa van der Merwe met geskenke wat uitgeruil word

 

Elise Steynberg en Elna van Niekerk by die marktafel met kruieplantjies

Post a comment

12 − 3 =