Aberdeen beleef Midde-Oosterse kultuur

 

Aberdeen beleef Midde-Oosterse kultuur

Posted by VLV in Aberdeen Tak, News 26 Apr 2018

Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 25 April 2018

 

Opvoeding en Kultuur is die portefeulje vir Aberdeen VLV se April vergadering.  Sameroeper Luise de Jager open met die lees van Joh 15:9-17 wat vra dat ons in God se liefde bly en mekaar moet liefhê.

 

Luise de Jager stel dan vir Estelle van Wyk, ook ‘n plaaslike VLV lid, aan die woord om haar ervarings van die Midde-Oosterse kultuur te deel.  Sy en haar man, Dick, het 9 jaar in die Midde-Ooste gewoon en gewerk.

 

Van Wyk omskep die lokaal in ‘n tipiese sitkamer met dekor, mat en sitbank.  Sy klee haarself ook in die tradisionele drag en verwelkom elkeen asof die vergadering by haar aan huis kuier.  Ons leer die manier van groet en word bedien met tradisionele koffie en dadels.  Daarna hang ons monde letterlik oop soos sy vertel van die gewoontes, gebruike, higïene en veral hoe vroue hanteer word en hoe hulle leef.  Gereëlde huwelike en poligamie is aan die orde van die dag.  Huise is omring met hoë mure aangesien die vrou glad nie sigbaar mag wees sonder haar tradisionele bedekking nie.  Die praatjie word afgesluit met die eet van tradisionele geregte wat self deur van Wyk en haar man voorberei is.  Inderdaad interessante smake om te pas by ‘n ewe interessante kultuur.

 

Die gelukkige trekking van die dag word gewen deur Carina Esterhuizen en die leersame oggend word afgesluit met smaaklike verversings verskaf deur Carina Esterhuizen en Luise de Jager.

 

Estelle van Wyk, in tradisionele Midde-Oosterse drag, demonstreer hoe die tradisionele kosse geëet word.

 

 

 Tradisionele Oosterse sitkamer

 

Post a comment

five × five =