Vroue wêreldstap

 

Vroue wêreldstap

Posted by Natania Schmidt in Acqua Tak, News 29 Apr 2012

Sirkel: Middelland
Beriggewer: Natania Schmidt
Datum: 29 April 2012

 

stap 2

 

Huidjie en muitjie uit die Nelson Mandela Metro het April se laaste Sondag letterlik te voet aangedurf. Dit is mos darem nie aldag wat daar geleentheid kom om een te wees met mense uit meer as 70 ander lande van regoor die wêreld nie.

 

Sirkel Middelland se lede, families en vriende het ‘n luilekker dag by die Cuyler Hofstede Museum deurgebring, waar daar al met die lusernlande langs tot by die Cuyler kerkhof gestap is, ‘n afstand van nagenoeg 1 km. Loop is daar geloop, heen en weer oor die plaaswerf, om die museumopstal, af na die watermeule en op na die stookketel. Die jongspan het saam gestap, maar eens hulle die lekkerte van die donkiekar geproe het, was die voetjies nie meer gemaak vir loop nie!

 

Daar is gekuier in die teetuin, gesmul aan Hercula tak se pannekoek, roosterkoek so van die kole af geëet en skuins gelê onder die bome. Dit was nou natuurlik ná almal hulle gesondheid ‘n hupstoot gegee het met die voete saam.

 

stap 4

Cuyler Hofstede se hase, skilpaaie en hoenders is op dieet na die kleinspan rojaal kossies uitgedeel het. En Boeboe en Valie voel pure donkie na al die geelwortel-happies. Selfs die ganse het pad gevat toe hulle sien hoe flink oud en jonk aan’t stap is.

 

stap 1

Middelland se vroue is baie beïndruk met die manne wat tree vir tree bygehou en ondersteun het. Almal erelede!

Leave a Reply