Presidentsrede: Kongres 2019

 

Presidentsrede: Kongres 2019

Posted by VLV in Announcements, Uit Die President Se Pen 28 Sep 2019

 

PRESIDENTSREDE
90ste VLVK-kongres
ATKV GOUDINI SPA
Karien van Schalkwyk
23 Augustus 2019
 

 

BELê IN VROUE  / INVEST IN WOMEN

 

Hierdie tema wat die VLV vir die komende jaar gekies het, gee ons as vrouens die kans om ons staal te wys.  En om dit te doen, moet ons sterk wees sodat daar van ons notisie geneem kan word.

Al gehoor hoe baie mense die gesegde, “vandag se vroumense…” gebruik, om te verwys na n houding of ingesteldheid van die moderne vrou? En hoe daardie verwysing selde na iets positief is?

Maak nie saak deur watter bril na vroue gekyk word nie, hulle bly planmakers, omgeemense en ondersteunmense.  Juis daarom het vroue na die Groot Griep, in 1918/19 hulle deur Mej Ferguson laat lei sodat die nasie van emosionele en fisieke verwaarlosing gered kon word.

Ondanks al die veranderings en aantygings bly vroue enigmaties, sterk en inspirerend.  En dit is die rede waarom  in Vroue belê moet word!

Dis soms asof die samelewing nie ‘vandag se vrou’ ten volle kan aanvaar nie; asof sy terselfdertyd geprys en veroordeel word, deur die einste mense wat een vir een hulle klippe sou neergooi as hulle voor haar staan en die Meester hoor sê, “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.” Ons dwing haar, om in haar eindelose geveg vir gelykheid, te kies tussen wie sy wil wees, sterk en onafhanklik, en wie sy moet wees, in vergelyking met haar “voormoeders”.

  1. Die vrou van vandag het drome, passies en potensiaal van lewensdraende vermoë, maar sy staan dikwels arm voor haar eie ideale.

In haar linkerhand is die wysheid van ouds —

– ‘n generasie van vroue wat hul dae agter kastrolle, kinders en wasgoed spandeer het.

– Dié vrou het geglo, soos Lucas Maree sing in Die Weduwee se Kruik, “…dit is die goeters wat mens  weggee wat jou ryk maak.” Dis ‘n mooi tradisie; hierdie moederlike steunpilaar van ‘n huisvrou.

Sy is sterk!

Sy is knap!

En sy is vreesloos!

En in ‘vandag se vrou’ se regterhand

– is die aantreklikheid van nuut, vars en vinnig — die multi-dinamiese vrou wat haar eie lewe met ‘n ysterhand balanseer.

– Sy het die geheim van self-vervulling onder die knie en sy is ‘n raakvatter.

– Sy is nie onbekend met rolle verandering nie;

– Sy is in baie gevalle ma en pa, en sy skroom nie.

– Dit wat sy soek is, waarvoor sy mik, want sy is bewus dat sy dikwels twee keer soveel moeite moet insit om teen haar manlike eweknie, met sy breë skouers, self-vertroue en welsprekendheid, mee te ding.

Ek het groot respek en eerbied vir ‘vandag se vrou’.

Ook sy, is sterk en knap en vreesloos!

 

  1. Ek het simpatie met VANDAG SE VROU, wat dikwels moedeloos sit tussen die opsies- om te ‘wees’ of te werskaf. Veg sy vir haar identiteit as n vrou, of haar rol as een?

 

Jesus het eendag by twee susters, Marta en Maria, tuis gegaan.

– Marta was druk aan die werskaf, besig om haar rol as gasvrou te vervul,

– terwyl Maria haar identiteit by die voete van Jesus gevind het.

– Marta se gewerskaf het Jesus geensins beindruk nie, maar van haar suster het Hy gesé, “…dit sal nie van haar weggeneem word nie.”

Identiteit (wie jy is) kan nie van jou af weg geneem word nie, maar ‘n rol (wat jy doen), kan in ‘n oogwink weg geneem word. Die sterk vrou is nie noodwendig die een met die top posisie nie, of die een wat die chaos en vereistes van vandag kan balanseer nie. Die sterk vrou is dikwels net die een wat weet wie sy is – met of sonder enige aanhangsels.

3 ‘n Sterk vrou is nie ‘n vrou van sterkte nie.   

– Dis maklik om die gehoor met jou uiterlike sterkte te fnuik maar die vrou van sterkte verstaan haar emosionele kapasiteit beter as haar klerekas s’n.

– Sy is nie bang vir leiding neem of onderdanig wees nie, want sy besef dat die ware leier juis in onderdanigheid lei.

– Die vrou van sterkte staan onafhanklik, maar sy is nie trots om te vra nie. Sy werk met haar passies, benader haar drome en staan nie terug vir probeer nie.

– Sy skep vir haar en díe na aan haar ‘n groen, lewenslustige en energieke omgewing, want sy dra die beeldskoonste tuin in haar hart.

– Bowenal, die vrou van sterkte sien wanneer sy leeg is, en word dan hervul deur die Een wat groter as sy.

– Hy vul haar hart met krag en moed .

– Hy verfris haar perspektief oor die dinge wat werklik saak maak, en wat ewigheids waarde het.

– Hierdie vrou van sterkte, is hoe elke jongvrou bestem is om te wees.

 

4.  Daar is wette, maar het vroue werklik dieselfde regte as mans?

Die wet sê mans en vroue is gelyk, maar geld dit regtig in die huis en werkplek? En kan ons praat van geslagsgelykheid terwyl vroue daagliks verniel en vermoor word?

Só byvoorbeeld sukkel plattelandse vroue om

– dieselfde opvoeding en vaardighede as mans te kry;

– daar is ongelyke toegang tot sake- en finansiële dienste;

– en ervaar baie vroue struikelblokke wat hulle beperk om hul eie bates te besit en te beheer.

 

 

5.  Dit bring ons by die vraag oor hoe die rol van vroue oor die jare heen verander het en of vroue (danksy wetgewing) deesdae regtig beter daaraan toe is of nie?  

 

 

Prof. Rachel Jafta verbonde aan die departement ekonomie by die Universiteit van Stellenbosch, meen vroue in Suid-Afrika en vele ander lande het ingevolge wet presies dieselfde regte as mans, maar daar is agterstande in die toepassing daarvan, byvoorbeeld

 

– In die topbestuur in besigheid en

– in die akademie.

 

Oor die algemeen voel Prof. Rachel het baie dinge reeds verander van die vorige geslagte af ten opsigte van

 

   – die rol van belangrikheid en

– die belangrikheid om in Vroue te belê

– As voorbeelde noem sy mans wat by die huis bly en die kinders versorg terwyl die vrou die broodwinner is met ‘n topsalaris;

– asook tegnologie wat dit vir vroue moontlik maak om hul werk só te organiseer dat hulle meer tyd met hul gesinne kan deurbring.

– Maar sy meen daar is tog nog spanning oor wat tradisioneel van vroue in die 21ste eeu verwag word – soos wanneer sy trou en wanneer sy kinders gaan hê.

 

6.   Hoewel baie reeds verbeter het vir vroue, is daar steeds baie uitdagings wat vandag se vrou in die gesig staar.

 

– Vir haar staan persoonlike veiligheid, toegang tot opvoeding en werksgeleenthede uit.

– Vir vroue wat finansieel nie onafhanklik is nie, lyk die prentjie nóg donkerder, want dis hulle wat hulself dikwels vasgevang vind in ’n  verhouding of huwelik en uiteindelik deel van die statistieke word.

– Aan die ander kant van hierdie muntstuk sukkel party mans ook om te aanvaar as die vrou meer geld as hulle verdien, wat hierdie vrou ’n risiko vir geweld kan maak.

 

7. Ter afsluiting en opsommend:   Die vrou se rol in die samelewing het baie verander deur die jare.

   – Vroeër was:

– die tradisionele rol vir middelklasvroue dié van huisversorger, met die klem op kinderversorging,

– en om die arbeidsmark te betree om finansieel ‘n bydrae te lewer tot die huishouding, het net nie bestaan nie.

– Vroue uit die armer segment van die samelewing moes ekonomies noodgedwonge werk bekom buite die huishouding, maar hulle werksgeleenthede was beperk tot ‘n besoldigingsvlak en status veel laer as dié van mans.

– As gevolg van hierdie sosiologiese verskynsel, was dit ‘n teken van welvaart om nie nodig te hê dat die moeder van die gesin “werk” nie.

   – Vandag is Vroue

– bedrywig in sektore van die ekonomie wat vroeër net vir mans beskore was, bv. vlieëniers van passasiersvliegtuie en ingenieurswese;

– die hedendaagse vrou het toegang tot enige loopbaan daarom word daar vandag fluks in Vroue Belê!

Vir die buitewêreld sê ons:  Belê in Vroue, erken, bewonder en waardeer hulle vir wie hulle is.

Vir u as vrou sê ek:  Moenie jouself as vrou onderskat nie. ‘n Suksesvolle vrou is iemand wat ‘n sterk fondasie kan bou met die bakstene waarmee ander haar gister gegooi het.

 

 

 

 

 

 

 

 

Bronne:

Prof. Naeemah Abrahams van die SAMNR se Gender & Health Research Unit

Prof. Rachel Jafta verbonde aan die departement ekonomie by die Universiteit van Stellenbosch en voorsitter van Media24

Sarie Marais-Nell [die Burger 3 Augustus 2019]

 

Leave a Reply