Sirkel: Middelland
Portefeulje: Konferensie
Beriggewer: Lea van der Vyver
Datum: 9 Maart 2022

‘n Propvol Sirkel Middelland Konferensie Fokus op Volhoubaarheid

Sirkel Middelland se 87ste Konferensie was op 9 Maart 2022 en is aangebied deur VLV Rocklands Tak by Slipperfields Events and Conference Venue. VLVK tema “Leef Volhoubaar” en konferensie tema “Aardse Goedheid” is deurweef in al die aspekte van die dag, van die plaas waarop dit aangebied was, tot die sprekers se onderwerpe, plante wat as geskenke gebruik is en ook die kos wat voorgesit is.

Ds. Denise Schmidt open uit Psalm 3. Ons moet die Here loof en prys – Hy is barmhartig en genadig en Sy troue liefde vir ewig. Daarna volg die openingsformaliteite en verslae van die Sekretaris, Tesourier en Bemarker.

Sirkelpresident Hannelie Low en Dr. Pieter van Jaarsveld

Die eerste spreker is Dr. Pieter van Jaarsveld, geregistreerde sielkundige met meestersgrade in Teologie en Sielkunde, ‘n doktorsgraad oor die selfbeeld en eie-waarde van die mens, sowel as uitvoerende hoof van Tandem Training, wat internasionaal organisasie-ontwikkeling doen. Hierdie passievolle en energieke spreker verduidelik in eenvoudige terme hoe die kop en liggaam verbind is en hoe moeilike en stresvolle tye veroorsaak dat mens moeg, agressief, depressief en dan fisies siek kan raak. Die brein is geweldig kragtig – verander jou gedagtes en denke om positief te wees – dit verander die bedrading in jou brein, wat weer ‘n invloed op die liggaam het. Maak ‘n lys van positiewe stellings oor jouself en lees dit elke dag hardop. Aanvaar jouself, wees jouself en begin elke dag met ‘n positiewe en dankbare gedagte. Dit sal jou lewe verander!

Ds. Hein Barnard van die Bybelgenootskap van SA vertel dat daar nog 20 miljoen mense in Suid-Afrika sonder Bybels is. Die Bybelgenootskap se doelwit is om ‘n bekostigbare Bybel in moedertaal aan mense te verskaf om sodoende die lewegewende boodskap van God by almal uit te bring. Hy noem die verskillende projekte wat aangepak word en gee inligting oor die gratis Bybeltoep vir selfone. Lede van Sirkel Middelland samel ongeveer 800 Bybels en ander Christelike leesstof in, wat aan ds. Barnard oorhandig is.

Na teetyd is Dr. Derek Odendaal, dermatoloog wat spesialiseer in velkanker, aan die woord. Hy begin met ‘n oorsig van ‘n dag in die lewe van ‘n dermatoloog. Dan verduidelik hy dat mens baie in die vel kan waarneem – bv. gesondheid, siekte, verwaarlosing, stres, pyn en skoonheid. Waarskuwingstekens vir velkanker word m.b.v. foto’s uitgelig en moesie-skandering met gevorderde tegnologie, word verduidelik. In Suid-Afrika word ons baie aan die son blootgestel en die risiko vir velkanker is hoog, daarom is dit belangrik om so gou moontlik met enige abnormaliteit ‘n dokter te besoek.

 

 

Terence Newton van Kowie Bamboo Farm verduidelik dat bamboes kommersieël verbou kan word om as alternatief vir hout gebruik te word. Dit is meer volhoubaar, aangesien bamboes vinniger as bome groei, inheemse woude bewaar moet word en ongebruikte, stagnante landbougrond herwin word. Die projek is nog in ‘n beginfase en fokus op werkskepping vir plaaslike inwoners. Die droogte het ongelukkig ‘n negatiewe uitwerking gehad, aangesien bamboes baie water nodig het om vinnig te groei.

 

 

Na die aanbiedings doen Lynette Martin, vorige Sirkelpresident, ‘n demonstrasie en gee oulike, goedkoop idees om ou bottels en blikke te herwin, wat dan as houers vir spesiale geskenke gebruik kan word. Voorbeelde vir Valentyn, Paasfees, Vadersdag en verjaarsdae word gewys.

 

In Hannelie Low se presidendsrede stel sy die feit dat om volhoubaar te leef nie meer net filosofies kan wees nie – dit is noodsaaklik vir ons eie gesondheid, sowel as dié van planeet aarde. Die uitdaging is wat om te doen en hoe om dit te doen om omgewingskade en klimaatsverandering te verminder. As VLV moet ons betrokke wees en ‘n boodskap uitstuur dat ons ernstig is oor volhoubaarheid in al sy fasette – elke Tak moet projekte identifiseer.

Om die vol oggend af te sluit, speel Ben du Toit kitaar en sing ‘n paar liedjies.

Na middagete deel Annelien Scriven, Arbeidsregadviseur van die Landbou Werkgewersorganisasie, belangrike inligting rakende arbeidswetgewing waaraan voldoen moet word. Hannelie Low bied ‘n oorsig van die jaarverslag en sirkelorganisasie aan. Met die prysuitdeling word 30 trofeë oorhandig en Carpe Diem verwerf die meeste punte vir die kompetisies, met Rocklands in die 2de en Hercula in die 3 de plek.

Slipperfields plaas waar konferensie plaasvind


Pragtige ligte in saal

 

 

 

 

 

 

 

 


Konferensie in sitting

       
Middagete                                                                                   Trofeë

     
Blomplante as geskenke                                               Biltongstalletjie