Sirkel: NOK

Tak: Dordrecht

Studierigting:  Landbou en Tuinbou

Beriggewer: Antoinette van Pletzen

Datum: 6 April  2021

 

Dordrecht se Vroue Landbouvereniging toer na Rotondo

Dordrecht in NOK se lede het ‘n baie insiggewende uitstappie na die Rotondo Okkerneutplaas, 10 km buite Aliwal-Noord gehad. Huidiglik is Percy Watkins en sy vrou, Bonita, in beheer van die plaas.

Rotondo Walnuts (Pty) Ltd (Rotondo) is a wholly owned IDC subsidiary and was established in 1999 for the development of a 488 ha walnuts project.

Okkerneute is nie inheems aan SA nie. Setlaars van die Britse Eilande en Europa het in die 1600’s die eerste okkerneute na SA gebring en dit oor die oostelike hoë dele (waar die klimaat koeler is) geplant.  Die gebruike vir okkerneute het egter afgeplat in die vroeë 1970’s, waarna die Landbou Navorsingsraad  weer verskeie kultivars ingevoer het vir moontlik okkerneutproduksie in SA. Die projek het egter nooit verder gevorder nie, en die bome het verlore geraak.

Die kweek van okkerneute het nuwe lewe gekry toe die Industrial Development Corporation (IDC) in 1997 studies begin doen het oor die vestiging van ‘n kommersiële  projek met okkerneute. Na uitgebreide toetse is verskeie areas as geskikte teelaarde en klimaat vir okkerneute aangewys, waaronder die plaas Rotondo, naby Aliwal-Noord langs die Oranjerivier – die eerste kommersiële plaas vir die aanplant van okkerneute in SA!

Die kweek van Okkerneute op kommersiële basis het eers in 2000 in alle erns begin, en daar is tans naby 600 ha boorde in SA, waarvan 500 ha op Rotondo geleë is. Dis dus ‘n jong bedryf. In 2015 is 520 ton okkerneute geoes en ‘n styging na 2 000 ton in 2023 word beoog. Die meeste okkerneute word tans uitgevoer, maar om in die plaaslike aanvraag te voorsien, word jaarliks 800 ton van ‘n minderwaardige goedkoper variteit ingevoer.

Groei-toestande in SA is baie goed en bome kan binne 10 jaar hul volle potensiaal bereik. Ongelukkig ontvang Okkerneut-boere geen subsidies van die regering nie, en kwekers ontwikkel slegs klein boorde as ‘n sylyn by hul hoof-boerderyaktiwiteit. Die gebrek aan ondersteuning en fondse is die hoofbeperking in die ontwikkeling van die Okkerneutbedryf  in SA.

Alle navorsing, die invoer van nuwe kultivars, en inligting oor die ontwikkeling van okkerneute in SA word slegs op Rotondo gedoen. Baie van die navorsing gaan daaroor om klein veranderinge in die produksie aan te bring wat dit geskik maak vir SA toestande. Heelwat hulp is ontvang van ervare buitelandse kwekers, soos bv van Kalifornië, Frankryk en Spanje, waar die weer baie ooreenstem met SA s’n. Die bekende  Federico Lopez- Larrinaga konsulteer ook op Rotondo.

Die projek het in 2000 afgeskop toe die eerste 12 ha potloodgrootte boompies geplant is. A.g.v. baie streng plantbeheer maatreëls kon geënte bome nie suksesvol ingevoer word nie, want dit moes vir 2 jaar in kwarentyn gehou word! Dit het die oorlewing daarvan onmoontlik gemaak, en ‘n alternatiewe invoerreëling moes gevind word. Aangesien Rotondo virusvry en siektevry is, het ons toestemming gekry om “self rooted tissue culture trees” vanaf Spanje in te voer. Hierdie bome was egter net 5-8 cm hoog, en moes behandel word om die groeipatroon van die Noordelike Halfrond na die Suidelike Halfrond te verander.

Die vermeerdering van bome op Rotondo word nou gedoen deur die enting en botselvorming van geselekteerde materiaal, op J. hindsii en regia wortelstokke. In totaal is 490 ha (74 000 trees) tussen 2000 en 2008 gevestig waarvan 85% selfgekweekte in-vitro bome is. Elke boom het jaarliks 400 liter water nodig, wat deur besproeiing uit die nabygeleë Oranjerivier verkry word. Verskeie kleure neute (dis nou die inhoud binne-in die doppe) is op Rotondo te sien, nl. swart, bruin, rooi en die gewone roomkleur.

Die spasie tussen bome op Rotondo is hoofsaaklik 8 x 8 meter. Die graspad tussen die rye bome word kort gehou deur dit gereeld met grassnyers te sny, en voertuie móét op die gras bly.  Dis ook ‘n bron van organiese materiaal en verminder erosie na swaar reën. Boomrye word skoongehou deur onkruiddoder te spuit en natgehou met mikro-sproeiers waarvan die water vanaf die Oranjerivier gepomp word. Die belangrikste peste en plae wat gemonitor en beheer moet word sluit in roes, kodlingmot, miet, skubbe, en bolwurm. Vroeë en laat ryp kom sporadies voor en is ‘n groot risiko in SA. Verskeie metodes en spuitstowwe word toegepas om skade te beperk en boorde teen ryp te beskerm. Haelskade gedurende die somermaande is ook ‘n groot risioko.

Oestyd begin vroeg in Maart en duur tot die einde van April. Okkerneute word meganies geoes, met ‘n “afdopper”, ‘n skudmasjien en ander oesmasjinerie wat vanaf Amerika ingevoer is. Die rypmaak-fasiliteit op Rotondo is ‘n eerste vir die okkerneutbedryf  wêreldwyd. Hiervoor word sonkrag gebruik wat hersirkuleer word, en die humiditeit word beheer.  Ons okkerneute kan nooit te droog word nie en gehalte word verseker. Die projek het ten doel om die geskiktheid van okkerneute as alternatiewe gewas met ‘n hoë waarde te bewys, en om inligting aan toekomstige okkerneut produsente te verskaf oor infrastruktuur en bemarking.

Okkerneute is oor die wêreld gebruik vir kook en bak, maar a.g.v. die gehalte wat oor die jare verswak het en ingevoerde okkerneute se slegte smaak, het die gebruik daarvan drasties afgeneem. Dit het eers weer die afgelope paar jaar begin verander  en om ‘n mark in SA te ontwikkel sal al hoe belangriker wees in die toekoms.

Percy Watkins (Bestuurder) en sy vrou Bonita

Die “skudmasjien” waarmee ‘n boom binne ‘n paar tellings van al sy okkerneute verlos word!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die masjien wat die afgeskudte okkerneute optel en dit op sleepwaens laai wat dit uit die boorde uitry.

 

Die gras tussen en onder die bome moet gereeld gesny word, en die blare word bymekaar geblaas om met ‘n ander masjien opgetel te word.

Die was-proses

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Daar word gereeld geklas….

Nog sortering

 

 

En nog……

Bonita Watkins verduidelik die inhoud van een van die vele vervoerbande aan Lede – o.a. die verskillende kleure.