Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Murraysburg

Al 6 Studierigtings

Datum: 20 Oktober 2020

Beriggewer: Theresa Troskie

 

Vyfde  damesoggend  vir  huishulpe  in  Murraysburg

35 gaste en 9 VLV lede het die oggend bygewoon.

Susanna van der Merwe (Openbare Sake) het die byeenkoms afgeskop met ’n aangrypende dramatisering en praatjie oor:  Respek vir jouself, jou medemens, jou omgewing en vir God.  Ons almal is uniek omdat ons Godgeskape is, in liefde en met respek!  Ouers se voorbeeld en die opvoeding wat hulle vir hul kinders gee, moet hul kinders met respek laat opsien na hul ouers.  Vroue moet mekaar dra in moeilike tye.  Wees vir mekaar soos ’n boom vol pragtige lentebloeisels wat rondwaai en ’n heerlike geur versprei, wees soos ’n boom met sy herfsblareprag soos die warm sonskyn, wees soos ’n kaal regop boom in die winter met die krag van lewe binne-in hom.

Die vaardige Margaret Martin, Leefstyl, het oudergewoonte ’n interessante kosdemonstrasie gedoen.  Sy het gewys hoedat jy jou eie aartappelplantjie of soetsuurdeegplantjie kan maak om heerlike brood mee te bak.  Almal kon proe aan haar heerlike brood!

Adri Kruger, Kunste en Handvlyt, het Ps. 91:11 aangehaal en gesê dat ons die engele sommer baie nader aan ons moet bring!  Engele is sinoniem met Kersfees en daarom het sy gedemonstreer hoe om verskillende engelversierings vir Kersfees te maak.  Sy het pragtige artikels wat maklik en teen ’n baie lae koste gemaak kan word, gewys.  Die versierings kan in plaas van Kersklappers gebruik word.  ’n Koekie of lekkertjie kan gebruik word i.p.v.’n nuttelose plastiekspeeldingetjie wat die omgewing besoedel!

Maretta Theron, Gesondheid, het daarop gewys dat ’n mens baie maklik jou liggaam kan skade berokken deur altyd die verkeerde keuse te maak as dit by kos kom.  ’n Mens kan jouself soms bederf met ’n lekker eetdingetjie, maar dis belangrik om die meeste van die tyd gesond te eet.  Sy lees ’n lys van “goeie” en “slegte” kosse voor.

Hannelize van Heerden, Opvoeding en Kultuur, het die vroue vermaak met vereenvoudigde fisionomie.  Sy het enkele eienskappe van die ore, neus, mond en lippe uitgelig.  Die dames het geskaterlag as hulle die eienskappe hoor van byvoorbeeld die ligging en grootte van hul ore!  Almal was verras om te hoor dat hul fisiese voorkoms baie van hul karaktertrekke verklap.  ’n Goeie kennis van hierdie basiese fisio-nomie, kan jou help om ander mense te plaas en “reg” teenoor hulle op te tree.

Elana Grobler, Landbou en Tuinbou, het gesorg dat elke vrou wat die oggend bygewoon het, met ten minste een pragtige huisplantjie huis toe is.

.Vl.n.r.  Bo: Gaste;                           Gaskunstenaar Edward Daniels

Middel:   Margaret Martin besig met Leefstyl demonstrasie;

Adri Kruger, Kunste en Handvlyt besig met demonstrasie;

Onder:    Maretta Theron Gesondheid, Renée Swanepoel, Voorsitter, het geopen en Hannelize vanHeerden,      Opvoeding en Kultuur.
Gaste