Sirkel: Middelland

Beriggewer: Lynette Martin

7 Desember 2019

 

You live only once;

If you live right,

Once is enough.

Jy het ‘n verskil gemaak in elkeen van ons se lewens wat vandag ons laaste huldeblyk aan jou bring, MAAR VERSEKER NIE DIE LAASTE mooi herinneringe nie!…………..

Jy was so lief vir versies, gesegdes en wyshede wat uit jou kinderjare en lewenservaring gekom het; …

EN die  grappies – Het ek jou al hierdie grappie vertel? So begin die telefoon gesprek.

 

Naas jou onwrikbare verhouding met God, dit was so belangrik vir jou, was jou liefde vir die mooi dinge in die lewe. Jy het met sagte treë oor die aarde geloop, maar jou voetspoor is sigbaar vir ons wie die voorreg gehad het om jou te ken.

Jou gesin was altyd eerste!

Ons sê dankie vir die vrou wat jy vir Pat was;

Die skoondogter vir sy ma, die dogter vir jou moeder en die suster vir Martie;

die moeder vir jou kinders, skoonseuns en skoondogter;

Die ouma vir die kleinkinders – Jy was so trots op elke kind en kleinkind se doen en late.  Jy het gebel om te hoor wat jy vir julle kon bak en die spesiale koek was gereed as hulle kom kuier het;

Jy was ‘n mentor vir baie van ons – hoe kan ons diè wyse woorde vergeet:

As jy nie weet wat om te doen nie, dan doen jy niks – ons bid daaroor en moreoggend het die probleem homself opgelos – dikwels was dit werklik so!

Jy het Madelein van Biljon se woorde aangehaal;

Dit het niks met my te doen nie;

Leer om nee te sê;

En lag meer.

 

Helen het van goeie maniere gehou – die kleinkinders het jou Ouma Maniertjies genoem! Beatie noem dat ma Helen hulle op hul tone gehou het!  Vir my ook – John het dikwels gespot dat ek die bottermes uithaal as Helen kom kuier!!!!

 

Helen was uitgesproke – dit was swart of wit, mooi of lelik, heerlik of sleg, reg en verkeerd – daar was NO GREY AREAS.

Van die dinge wat sy altyd gesê het:

  • If in doubt – Don’t!
  • Jou man en jou Ma hoef nie als te weet nie
  • Sê niks, dan is daar niks.
  • Doen wat reg is!

 

Dankie vir die vriendin wat jy vir ons was – jy het ons altyd spesiaal laat voel!  Dankie dat jy vir ons gebid het – dit is so wonderlik om te dink dat iemand tyd maak om vir ons te bid. Jy het belanggestel in elkeen van ons – Helen het ons kinders se name geken en na hulle gevra.

 

 

Jy het gedien in organisasies waar hulle jou nodig gehad het – want jy wou altyd bruikbaar wees. Jy het hulp aangebied oral waar jy kon – By die kerk, in die gebedsgroep, in die omgegee groep, in die kompleks se raad, die Boekklub – dikwels boeke opgesom, uiteengesit en voorgelê en dit geniet.

 

Jy het geglo om kontak te hou met mense, of dit nou die familie was of net vriende en ten minste 1 maal per week gebel om te hoor hoe dit gaan.

 

Ons sê vir jou dankie vir jou gasvryheid – jy is ‘n gasvrou van formaat  – eintlik sonder gelyke.  Jy het vir geen getal besoekers of gaste geskrik nie!!! Niks was ooit moeite nie – jy het beplan en alles het seepglad verloop.

Jou en Pat se gasvryheid op die plaas– jy ry nie voordat jy nie in die besoekersboek geteken het nie!  Van Pat gepraat – ek is dikwels vermaan om goed te kyk na my man – ek glo jy het dit onder jou ander vriendinne ook gedoen. Menigte etes is aangery en met styl voorgesit waar Pat ookal ‘n vergadering gehad het.

Na ‘n kuier is daar altyd ietsie saamgestuur huistoe vir die mans.

 

Sal ons ooit die keurige gedekte tafel met lapservette vergeet?  – natuurlik self gestyf – hoe dan nou anders, Helen?  Jou standaarde het jy nooit verlaag nie – hier in Jeffreysbaai het jy middagete gekook net vir jou en by ‘n gedekte tafel aangesit vir ete. Op 15 Junie  hierdie jaar het jy vir my gewys hoe pragtig die servette by die teedoek pas.

Baie van ons kan vandag sê ons het deel gehad hieraan – die lekker kos EN LEKKER EET – wie het ooit met ‘n leë maag en hande van jou weggegaan. En dan altyd die EKSTRA koppie by die teetafel en die ekstra gedekte plek by die etenstafel.

Wie sal die outydse melktert ooit kan vergeet – LW moet in ‘n emaljebak gebak word!  Die De Bosch Torte, Nougatkoek, jou fyngebak en heerlikste hoenderpasteitjies.  Menigte resepteboeke spog met die gebak van jou.  Dankie dat jy altyd jou resepte gedeel het – niks het saam met jou graf toe gegaan nie!  Jy was mededeelsaam!  En soos jy altyd gesê het:  NIKS IS TE SOET VIR MY NIE!!!!!

 

Dan daar in die dorre Karoo was daar altyd klein angeliertjies op jou tafel in die ronde glasbak en toe in Jeffreysbaai, mooi fyn blommetjies uit jou tuin.  As ek aan ‘n angeliertjie ruik, dan dink ek aan jou.

 

Jy was ‘n voorbeeld vir elke jong boer se vrou wat die distrik ingekom het – jy het hulle gou  deel  gemaak van die Vrouelandbouvereniging–familie daar in Jansenville.

 

Helen jy kon organiseer – as jy eers begin skryf het in jou swartboek dan was daar geen keer aan die funksie/fondsinsameling wat jy beplan nie. Jy is ook vereer as Ere President van Jansenville en in 2000 word jy vereer as Ere Sirkelpresident van Sirkel Middelland.  Tydens ‘n Konferensie 2 jaar gelede het ek die voorreg gehad om die 60 jaar diensknopie vir jou aan te steek. Wat ‘n voorreg!

 

Ek haal aan uit twee briefies van waardering aan jou, Helen:

Gretha Schoeman skryf:

“Jyself was vir my ‘n bewonderenswaardige vrou – kook heerlik, maak pragtig klere, ens. MAAR

Dít wat my die meeste getref het, was dat jy altyd ‘n nuwe uitdaging, ‘n nuwe visie gehad het – jy het nooit gestagneer nie – net gegroei tot ongelooflike hoogtes – dit maak jou merkwaardig.

 

Annette Deyzel skryf aan jou:

“Ek sal terug dink aan al die grappies, die lag, die trane, die lekker etes (veral die melktert) EN DIE GESUKKEL MET DIE DEM MIKROFOON.  Dankie vir al die versies (waar gaan ek so baie versies kry om te lees).

Jy was ‘n vrou met visie – jy was nie bang om nuwe dinge aan te pak nie – jy was ‘n voorbeeld vir almal  – want jy het in alles wat nuut is belanggestel; van ‘n lekker nuwe resep tot die mooiste koppies en nuutste modeneigings… regtig ‘n voorbeeld van ‘n persoon wat voluit geleef het en van die mooi in die lewe gehou het tot die dag van jou dood.  So kan ek vertel dat ‘n maand gelede het jy vir Beatie gesê dat daar tog nie wit blomme by die begrafnis moet wees nie, want dit gaan dan net soos ‘n begrafnis lyk!  Jou sin vir humor sal ons bybly. So van nou af geen wit blomme by ‘n begrafnis nie!

 

SOMETIMES WHEN YOU THINK YOU ARE DONE, IT IS THE BEGINNING!

Die versies – jy was versot op versies – drie boeke is saamgestel vir VLV deur jou en Linette Botha.  Sommer so vinnig kan jy versies skryf oor die 85 jarige bestaan van Sirkel Middelland – dit alles net 1 jaar gelede.  Elke feit het jy nagevors uit die notuleboeke.  Jy kon voorlesings doen en bladsye resiteer en voordra. Dan kon jy Mills en Boon ook lees en geniet. En dan het jy telkemale met die boek en al in die bad aan die slaap geraak.

Die een aanhaling wat wat jy dikwels gebruik het was:

It is nice to be important but more important to be nice.

Juis hieroor was jy geliefd!

 

Jou stokperdjies buiten die van gebak was Naaldwerk – kleurryke materiaal is omtower in stylvolle snyerspakkies – LW alles moet geryg word en oor en oor uitgetrek sodat dit perfek pas. Dan word elke uitrusting afgerond met juwele wat jy baie sorgvuldig gekies het.

 

Daar was nie ‘n mens wat jy nie geken het nie – jy kon enige familie se stamboom uitlê en het presies geweet wie pas waar – en dit het jou so ‘n besonderse mens-mens gemaak.  Jy het altyd belanggestel in almal….

 

Toe ST Francis van Assissi hierdie stuk geskryf het het hy dit sekerlik aan jou opgedra:

Keep a clear eye toward life’s end.

Do not forget your purpose and destiny as God’s creature.

What you are in his sight,

Is what you are

And nothing more.

Remember that when you leave this earth, you can take nothing that you have received …..

But only what you have given;

A full heart, enriched by honest service, love, sacrifice and courage.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Baie dankie, Helen, vir alles wat jy vir ons nagelaat het.  I salute you – soos jy sou sê!