Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 8 Desember 2019

 

Vir die eerste keer in baie, baie jare het Acqua nét 10 vergaderings vir die jaar gehad. Die tak se program sou op 4 Desember tot einde gekom het met die tradisionele Kersfees Kabaret. Helaas. Geen Kersfees Kabaret vir die jaar 2019 nie.

 

Een van die, seker die belangrikste, redes vir die besluit om te volstaan met 10 vergaderings en in November af te sluit, was dat 2019 ‘n uitsonderlike vol en besige jaar was vir die tak.

 

Acqua was gasvrou vir Sirkel Middelland se 85ste Konferensie. Die Konferensie, aangebied by die Internasionale Konferensiesentrum van die Sun Boardwalk Hotel, was ‘n baie spoggerige geleentheid. ‘n Konferensie met ‘n begroting van meer as R160 000 val nie sommer sonder RUIM borgskappe, baie harde werk, goeie beplanning en deeglike uitvoering, uit die lug nie. Die Konferensie was, in tipiese Acquastyl, tot in die fynste besonderheid beplan en uitgevoer! Enige dag net so mooi en spesiaal soos enige van vorige VLVK-president, Erika Lubbe, se uithaler Kongresse. Sirkel Middelland het met groot swier 85 geword.

 

Die jaarlikse jaffelbak, met 2000 bestellings, het genoeg inkomste genereer dat daar maandeliks hulp verleen kon word met die voedingskemas by twee plaaslike Laerskole. Die voorbereiding, soos die maalvleis se gaarmaak en die smeer van die brode, is volgens gebruik op Vrydag gedoen. Die volgende dag, die Saterdag, het lede in 90 minuut tydgleuwe ingeval om te bou en te bak. Acqua skrik nie vir 2000 jaffels nie! Nog minder vir ‘n stewige R23 000 wins.

 

Kinders word nie net iets gegee om te eet nie, maar is ook bederf met lemoene.

 

Taklede het Rise against Hunger, ‘n internasionale organisasie wat hongersnood verlig, gehelp om nagenoeg 12 000 kospakkies gepak te kry. 67 Minute is geskenk in die naam van Nelson Mandela, maar eintlik gegee vir die honger kinders in Afrika. Die kospakkies wat in Port Elizabeth gepak is, is in die Oos-Kaap versprei.

 

 

Die Duiwe Wedvlug, met 120 kampioenduiwe wat vlerk in die lug gedruk het om in Victoria-Wes hok te kry, het wengeld van R2000 vir die “eienaar” van die vinnigste duif beteken. Beloftes om ‘n duif met peri-peri te smeer vir ekstra spoed was bloot ydele-tong-in-die-kies praatjies. R7000 was egter geen ydele wins nie.

 

Intertak was óók Acqua se verantwoordelikheid. Die tak was gasvrou vir dié gebeurtenis waartydens die vier “stedelike” takke kompeteer aan die hand van ‘n tema deur die gasvroutak bepaal. Kompetisies is nou nie juis hoog op die tak se prioriteitslys nie, maar wanneer nodig kan die Kwa-Kwa’s styg  tot die vlak van enige geleentheid. Die tema was ‘n Middagtee om vriendskap te vier. Elke tak moes ‘n tafel dek, uitnodiging ontwerp, spyskaart voorberei, koek bak, middelplasing maak en hekel. Beoordelaars en wenners van die verskillende afdelings is met pragtige geskenke geskep deur Wilandi Esterhuyzen en Nicci Stewart beloon. Daar was nie ‘n trofee in sig nie. Gaste van die ander  3 takke is tydens Acqua se (aand)vergadering onthaal en verwittig van die punte.

 

 

Krismis in Julie het, soos die vorige twee jaar, natuurlik in Julie plaasgevind. Daar was 30 uitstallers wat van klere, keramiekwerk, leerware, juweliersware en houtdekor tot kuns gebied het. Mooigoed. ‘n Mooi manier om fondse in te samel. R13 000 wins is ‘n MOOI bedrag.

 

 

Fondsinsamelings soos die Duiwe Wedvlug en die kersmark, Krismis in Julie, het gesorg vir genoeg fondse om maandeliks 85 (gedagtig aan die Sirkel se 85 jare) rolle toiletpapier aan ‘n Ouetehuis te gee, hulp te verleen aan DAC (Domestic Animal Care) met hul veeartsrekeninge en die voer van verwaarloosde diere in die Walmer Informele Nedersetting, begrafnispolisse, kosbewyse, verjaarsdaggeskenke en mediese ondersteuning aan die Oues, wat reeds sedert 2006, ‘n maandelikse verantwoordelikheid van die tak is.

 

Voorts het die tak ook, vir die derde agtereenvolgende jaar, ‘n kunsuitstalling en veiling ten bate van KANSA Oos-Kaap gedoen. Meer as 60 kunstenaars het elk ‘n kunswerk vir die stil, geskrewe, veiling geskenk. Met die talent en vrygewigheid van dié uiters talentvolle kunstenaars kon Acqua vanjaar R17 000 aan KANSA Oos-Kaap skenk.

 

 

Die Oos-Kaap (soos groot dele van Suid-Afrika) gaan gebuk onder een van die felste droogtes in menseheugnis. VLV-Wellington het ‘n inisiatief geloods om ‘n boks vol bederf aan boervroue in die droogtegeteisterde distrikte te stuur. Acqua het ook op hulle wa geklim en ‘n BEDERFboks vir boerVROUE in die Oos-Kaap van stapel gestuur. InterTown Transport het aan boord gekom om die bokse gratis te vervoer vanaf Port Elizabeth tot by enige ITT depot in die provinsie, van waar dit na die boervroue versprei is. ITT het ook bokse vanaf Ottery in die Kaap tot Centurion in Pretoria gratis na Port Elizabeth vervoer. Die mense van die Nelson Mandela Metro het natuurlik ook baie ruim bygedra. Elke boks is verstewig en verfraai. Daar’s ook ‘n tydskrif en ‘n kaartjie opgeplak. Boervroue in die distrikte van Willowmore, Graaff-Reinet, Dordrecht, Elliot, Barkly-Oos, Indwe en Grahamstad het BEDERFbokse ontvang. 716 bokse kon met ITT se hulp aan Oos-Kaapse boerVROUE besorg word.

 

 

Acqua se pad met PE Gholfklub het na 7 jaar tot ‘n einde gekom. Dit is baie belangrik dat die tak se datums van vergaderings en gebeurlikhede gewaarborg en eerbiedig word. Die gemiddelde bywoningsyfer vir Acqua se maandelikse samekomste is gewoonlik so om en by 80 siele. Dus ‘n saak van onmoontlikheid om op kort kennisgewing ‘n lokaal te kry wat soveel gaste kan akkommodeer, ete kan voorsien en veilige parkering kan bied.

 

Net een blok vanaf die gholfklub is die Westview Sportsklub. Voortaan Acqua se vergaderingstuiste. Die Acquakalender is reeds in die klub se dagboek aangeteken met ‘n belofte dat Acqua se datums ononderhandelbaar is.

 

Die Breiblokkie-projek, ‘n deurlopende en jaarlikse projek, het gesorg vir 56 kombersies wat aan Care Haven Psychiatric Centre en SMILE geskenk kon word. Lede het fluks gebrei aan die 1400 breiblokkies wat deur taksekretaresse, Magriet Schmidt, in die allermooiste kombersies omtower is.

 

 

Die lede bring ook steeds plastiek, in die vorm van bottels en proppies, na elke vergadering. Dit word dan aan ‘n plaaslike skool geskenk wat dit herwin om rolstoele vir die skool te bekom.

 

Die Acquavriendinne het lang arms, vlak sakke en kort moue. Tyd, deelname, bywoning, donasies, geld, raad of kundigheid. Niks is ooit te veel gevra vir die vroue van Acqua nie. Die allermooiste en beste van elkeen se lidmaatskap, is egter die ootmoed, bereidwilligheid en ongebrydelde entoesiasme waarmee selfs die kleinste onderneming aangepak word.