Sirkel:  Kaapstad

Tak:  Strand

Prysuitdeling en Afsluiting

Beriggewer:   Erna De Waal

Datum:  19 November 2019

 

Alte gou is die jaar op sy rug. Hierdie tyd van die jaar bring ook die geleentheid waarna almal, veral die hardwerkende deelnemers aan die onderskeie kompetisies, met groot afwagting uitsien, nl. die Prysuitdeling – die kersie op die koek! Die saal was feestelik in wit en rooi getooi en brandende kerse en tafelliggies het ‘n tradisionele Kersatmosfeer geskep.  Die nege trofeë was prominent uitgestal en het die wenners byvoorbaat trots laat voel. Nou is alle teleurstellings en hartseer wat elke jaar maar bring, vergete en ‘n gees van afwagting is tasbaar.

 

Die Voorsitter, Mev. Leta du Preez, het die verrigtinge geopen met klem op “Herkenning” (van God se stem) en “Erkenning” (van spesiale bydraes en prestasies) nadat sy lede en gaste verwelkom het. Die Erkenning is afgeskop deur ‘n groot ‘Dankie” aan die Bestuur, beoordelaars, administratiewe personeel wat die Leeskring en organiseerders van Spesiale Geleenthede insluit, asook lede en vriende wat die maandelikse Nuusbriewe help versprei. Die lede wat 100% bywoning gehad het, is geloof vir hul toewyding en beloon met ‘n geskenkie. Drie besondere jaarkentekens is aan drie lede oorhandig, nl. Christine Viljoen 60jr, Mariette du Toit en Maretha Human albei 50 jr.

 

Uiteindelik het die groot oomblik aangebreek vir die getroue deelnemers wat baie tyd en energie aan die onderskeie kompetisies deur die jaar spandeer het. Een lid het besonder hard gewerk en dus besonder goed presteer. Sy is Yvonne Swart, wat 5 trofeë verower het, Handvlyt, Kunste, Landbou en Tuinbou asook Iets uit Niets. Annaleze Sieberhagen het die Kookkuns trofee verower en Bets Basson die Naaldwerk trofee. Yvonne Swart is vir die derde agtereenvolgende jaar as algehele wenner aangewys. Die naaswenner was Annaleze Sieberhagen.

 

Strand Tak het twee lede van Wellington, Karen Barnard en Gerda Smit, wat die projek: Bokse vir Boervroue aan die rol gesit het, verwelkom en Karen Barnard geleentheid gegee om meer oor hierdie wonderlike projek te vertel, waarna Franco Conrad, ‘n plaaslike kunstenaar, ons vermaak het met pragtige sang.

 

“Elke groot prestasie het begin met die voorneme om te probeer.” ~ Vincent van Gogh

 

 

 

 

 

‘n Wonderlike Feesgety en ‘n Voorspoedige 2020 word almal toegewens.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Francis Hugo en Hestesr Gericke by die feestelike en vrolike Kerstafel.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Yvonne Swart en Hannetjie du Plessis, uittredende Bestuurslede.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Maretha Badenhorst, erelid en vorige Voorsitter geniet die oggend saam met Leta du Preez, trotse Voorsitter van Strand Tak

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Breë glimlagte van Leta du Preez, Franco Conrad, plaaslike kunstenaar met ‘n pragtige stem en Irene Myburgh.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Gerda Smit en Karen Barnard, die twee guru’s van Boks vir ‘n Boervrou, ontvang ‘n geskenk van Leta du Preez, Voorsitter.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Yvonne Swart met die vyf trofeë wat sy deur harde werk en deursettingsvermoë verower het. Sy is ook die algehele wenner  vir die derde agtereenvolgende jaar.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Annaleze Sieberhagen, bakster en kok van formaat, met haar Kookkuns trofee. Sy is ook die naaswenner vir 2019.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Marinda Barnard, Marie Bester en Marieta Slabbert is baie trots op hulle 40 jaar kentekens.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Dis altyd ‘n heuglike gebeurtenis om beloon te word met baie jare se lojaliteit aan VLV. Hier ontvang Marieta du Toit en Maretha Human hul 50 jaar kentekens en Christine Viljoen haar 60 jaar kenteken.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Nog lede wat baie gelukkig is met hulle kentekens:  Elize Kotzé (35 jr) Isabel du Plooy (30jr) Erna de Waal (20jr), Heléne Fourie (20 jr) en Hannetjie du Plessis (20jr).

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ons is baie trots op ons beoordelaars en het groot waardering vir hul kennis en talente wat hulle elke maand met ons deel. Hulle is: Agter: Amelia Louw (Blommekuns), Jossie van Schoor (Blommekuns), Andrew Alberts (Woordkuns), Lina Malan (Blommekuns) en Marianna de Villiers (Iets uit Niets, Landbou en Tuinbou).  Voor: Ria Hattingh Leefstyl).

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die lede wat so breed glimlag is: Francoisnette van Zyl en Jossie van Schoor wat verantwoordelik is vir spesiale geleenthede saam met Erna Krüger aan die helm, wat afwesig was, Marieta Slabbert wat die Leeskring behartig, Erna de Waal, begeleier en betrokke by spesiale geleenthede en Wilhelmien le Roux wat die klankstelsel behartig.