Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Portefeulje: Kunste & Handvlyt

Sameroeper: Wanita Nielsen

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 13 November 2019

 

VLVK vier vanjaar 90 bestaansjare. Ons is met reg BAIE trots op ‘n vereniging wat in 90 jaar soveel vermag het en soveel vroue bemagtig het. Die VLV is egter so ‘n klein bietjie jonger as mosaïekkuns. Mosaïekkuns is ‘n kunsvorm wat sowat 4000 jaar gelede in Mesopotamia ontstaan het.

 

Ten spyte van ‘n gróót verskil in bestaansjare het die VLV en mosaïek nogal ‘n paar dinge gemeen. In mosaïekkuns word ‘n verskeidenheid materiale gebruik om ‘n dekoratiewe geheel te vorm. Klein stukkies gekleurde glas, steentjies, keramiekteëltjies, gebreekte porselein, spieëltjies, knope, juweliersware of ander materiale word alleen of in kombinasie gebruik. Die doel van die kunsvorm is om te verfraai en ‘n verskil in ‘n bepaalde ruimte te maak.

 

So bestaan die VLV ook uit ‘n verskeidenheid vroue. Elkeen in eie reg pragtig. Saam ‘n krag om mee rekening te hou. Elke lid is ‘n teëltjie, ‘n stukkie glas, ‘n spieëltjie wat ‘n belangrike deel vorm van ‘n vereniging wat op baie gebiede baie waarde toevoeg. Die VLV en haar lede het ‘n lang geskiedenis van vroue wat ‘n bydrae en wesentlike verskil maak in die ruimtes van huis, beroep en gemeenskap.

 

Natalie Stroojberg, eienaar van Mosaic 4 Africa, en ‘n mosaïekkunstenaar van formaat, het die kuns van mosaïek aan lede en gaste verduidelik.

 

 

Die materiale, genoem tesserae, kan direk op ‘n (ondersteunende) oppervlak geplak word. Die oop ruimtes, tussen die gekose materiaal/e, word met voegbry gevul nadat die tesserae vir die ontwerp vasgeplak is.

 

Met baie groot projekte word die tesserae, gesig na onder, op ‘n papierbasis geplak. Die papier (met die tesserae) word dan na die muur, vloer of waar dit ookal sal pryk, oorgedra. Dit word die indirekte metode genoem. Hierdie metode help ook om die vooraaansig of voorkant van die kunswerk gelyk of op dieselfde vlak te hou, al word daar tesserae van verskillende diktes gebruik. Muurskilderye, tafelblaaie en tuinbankies word gewoonlik met hierdie metode gemaak/gedoen/versier.

 

Mosaïek kan binnenshuis of buite gebruik word. Dit kan bloot praktiese waarde hê, maar is bowenal ‘n manier om asemrowende kreatiewe meesterstukke te skep. Dit is kuns wat ewe tuis is op ‘n vloer én teen ‘n muur. Dit kan onder water gebruik word in ‘n swembad of waterpoel en ook in die stort. Waar daar ookal nodigheid is vir dekorasie wat die toets van tyd kan deurstaan, daar sal mosaïek met groot vrug gebruik kan word.

 

Daar is 5 basiese tipes mosaïekkuns. Klassiek, klippies, industrieël, handgesny en doelmatig geskep (ontwerp). ‘n Mosaïekkunstenaar sal hom/haar ten opsigte van die tipe mosaïekkuns laat lei deur die ruimte of doel van die kunswerk.

 

Natalie bied klasse aan in mosaïek en piouter.

 

Sien haar Facebookbladsy vir meer inligting. https://www.facebook.com/Mosaic4Africa/?__tn__=%2Cd%2CP-R&eid=ARB4wX24V2M6nQwMtzzpkQW5DE_AnFJMD6qIlOHPUhv5yjYaPr3gqhL3vqVkQdtFklwPddQz7rjwnFte

 

Die tafelmiddelplasings was alles mosaïekkunswerke wat Natalie gemaak het.

 

Daar was ook mooigoed te koop.