Sirkel:  Kaapstad

Tak:   Strand

Portefeulje:   Landbou en Tuinbou

Beriggewer:  Erna De Waal

Datum:   17 Oktober 2019

 

 

Strand Tak kuier in die kruietuin en ontdek die geure van kruie en speserye

 

VLV Strand-Tak het op 17 Oktober 2019 ‘n toer deur ‘n kruietuin gemaak met Yvonne Swart, Sameroeper vir Tuinbou en Landbou,  as toerleier. Dit was nou wel nie ‘n toer in realiteit nie, maar die pragtige en in-diepte beskrywings het die lede teenwoordig laat voel en dink hulle is IN daardie tuin met die geur van die speserye wat in die lug gehang het. Tafels was gelaai met kruieplantjies met naamkaartjies en botteltjies vol droë kruie en selfs ‘n mandjie vol kruiekoekies om later te eet. Haar passievolle en entoesiastiese aanbieding het haar groot liefde en deeglike kennis van kruie en speserye weerspieël.

 

 

 

 

 

Yvonne Swart, Sameroeper van Landbou en Tuinbou gesels entoesiasties oor kruie en speserye en bied spesery- en kruie koekies aan.

 

 

 

 

 

Die geskiedenis van kruie kom ‘n ver pad.  Die literutuur is deurspek met name soos Hippokrates, Aristoteles, Plato – almal geneeskundiges. Kruie is vanaf die vroegste tye gebruik vir medisyne en rate.  Roosmaryn, wynruit, kruisement, salie, dille en perdeblom is maar enkele voorbeelde hiervan.  Jan van Riebeeck en Jan Hendrik Boom het al in 1652 in die Kaap begin kruie soek – en gevind. Daar was ‘n gereelde vloei van plante vanaf die Kaap na Europa en andersom. ‘n Medisinale tuin is begin by die fort.  Die Kompanjiestuin, waar menige kruieplante gegroei het, was alombekend. Sy verwys na en haal aan uit boeke geskryf deur Margaret Roberts en Eve Palmer.

 

 

 

 

 

Yvonne Swart het ook die definisies van kruie en speserye – wat sommige mense verwar – uitgelig. Speserye verwys na die aromatiese blare en blomme van plante wat vars of gedroog gebruik word om disse mee op te kikker, soos roosmaryn, tiemie, koljander, basiliekruid, kruisement en origanum. Die raklewe van gedroogde kruie is korter as dié van speserye.  Meeste kruie word eerder vars as gedroog gebruik.  Speserye verwys na sade, bas en wortels van plante wat meestal droog gebruik word, byvoorbeeld peper (saad), borrie (wortel) en kaneel (bas).  Sommige plante is beide kruie én speserye, bv. koljander, dill en vinkel waar die blare vars of gedroog gebruik word asook die sade van die plante. Onkruid is ook ‘n kruid wat gebruik word in kos bv. miergras en muurkruid in slaai en gekookte geregte, ander het medisinale eienskappe wat gebruik word in die behandeling van artritis, velprobleme, hoes, en verkoue. Wynruit is ‘n onkruid in Suid-Afrika waarvan ‘n blaaraftreksel gebruik word vir skarlakenkoors, ingewandskoors, stuipe, tandpyn, oorpyn en asma om maar ‘n paar te noem.

 

Welriekende kruie is welbekend, bv. laventelsoorte, roosmaryn, kruisement, sitroen, marjolein, lourier en tiemie. Die blare, blomme en saad van kappertjies word wyd gebruik. Welriekende speserye is ook bekend, soos naeltjies, steranys, vinkel, anys, koljander (fyngemaalde saad) wonderpeper (fyngemaalde korrels), komyn en kaneel. Kaneelstokkies in jou klere- en skoenekas gee ‘n verfrissende geur – so sê Nataniël! Ons moet ook nie vergeet dat gesondheidsolies ook gemaak word nie, bv olie van koljandersaad, laventel van die blomme en roosmaryn gemaak van die blomtoppies. Potpourri is goed bekend en word in ons huise geplaas vir die heerlike geur.  Hiervoor word verskeie plante se blomme gebruik, soos blare en takkies van roosmaryn, laventel, marjolein, kruisement, roosblare vorm die basis hiervan. Reuksakkies, gevul met hierdie plante se blomme en blare is ‘n gewilde geskenk waarvan die laventelsakkies die gewildste is.

 

 

 

 

 

Die tafel was gelaai met kruieplantjies – wat later weggegee is – en botteltjies met speserye en sade.

 

 

 

 

 

Sy het ook verskeie rate teen insekte uitgelig:  wurmkruid vir lyfluise, weeluise en vlooie, muggiewortel om muggies, motte in kaste en klerekasste te verdryf, galsiektebossie teen weeluise, balsaminie en basielkruid se blare is goeie muskietweerders en polei is ‘n ou antieke vlooiverwyderaar.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Kruie-geneesmiddels vir geringe kwale is veral by die ouer garde bekend: kwale soos vir aambeie (tuinkerwel), afmatting (kamille-  en roosmaryntee), asma (gerookte bloekomblare), bedsere (smeerwortel), byt- en steekplekke ( basiliekruid, gousblom, kruisement), floutes ( basielkruid in water), hoofpyn (aftreksels van laventel, roosmaryn, basiliekruid, marjolein peperment), liddorings (sap van blare daarop geverf: perdeblom, speenkruid, gousblom), oorpyn (warm sap van basielkruid, ui of salot en blaarsap van pietersielie op ‘n wattepluisie).

 

Vir sere word smeerwortel, rooi peper en violet gebruik, vir slegte spysvertering anys, basielkruid, koljander, tiemie, komyn en dragon gebruik, vir verkoue bloekom, vinkel, salie, koljander, tiemie en dill, vir wonde aalwyn, gousblom, tiemie en duisendblad.

Om af te sluit, het sy ‘n gedig deur haarself geskryf, voorgelees: Sy noem dit

 

“Kruie, Speserye, Onkruid”

God se koskas, medisynekas, skoonheidskas Soek ook sagte, klein, koelplekkies  
vir mens en dier, al wat lewe. agter rotse en bossies.
Kruie ook vir tuinplesier, Skiet wortel in sagte, klam grond
kruie uitgelate in die klipperige heuwels. al langs die oewer van ‘n klein stroompie.
   
Voëls bring groot vreugde, Onkruid en hul avonture
word gelok deur die huilboerblom kan rondom die wêreld rol –
met sy juweelrooi blomknoppies, Die vlooikruid het hier kom wortelskiet
blomknoppies vol soet nektar. Veilig gereis in die krop van ‘n voël.

 

Dankie Hemelse Vader.

Kruie, ontelbaar, legio

Deel van die natuur:

U ongelooflike Skepping!

 

Om die dag nóg meer op te kikker het Sam en Calla, bekende kunstenaars wat die land vol reis en ook in die buiteland toer, die voete gekielie en lede lekker laat saamsing.

 

Sam en Calla, gaskunstenaars, saam met Yvonne Swart.