Sirkel: Weskus

Tak: Clanwilliam

Studierigting: Leefstyl

Beriggewer: Alida Stone

Datum: 16 Oktober 2019

 

 

Die dames van VLV Clanwilliam het as deel van die Leefstyl studiegroep ‘n uitstappie na Vredendal onderneem.  Alida Stone, sameroeper vir Leefstyl, het ‘n behaaglike oggend by Teubes Wyne gereël.  Die dames is vriendelik ontvang en verwelkom met ‘n koue glas ystee.  Tydens die byeenkoms is twee praatjies gelewer.

 

 

 

Annari Hayes van Beaute-Sante Holistic Wellness het gepraat oor die regenerasie proses van die liggaam.  Hierdie proses, Plasma Stamsel Stimulasie (PSS) word deur dr John Hayes en Annari self toegepas in hul kliniek.  Die proses word eenvoudig en kortliks aan lede verduidelik en heelwat vrae is beantwoord.

 

Aletta Laubscher, lewer ‘n praatjie oor hul hidroponiese komkommerboerdery.  Die lang reis van ingevoerde saadjie, ent van plantjies (dit word in Brits in Noordwes gedoen en met koeltrokke na Vredendal vervoer), toediening van ingevoerde goggatjies vir pesbeheer, plant en oes word verduidelik.  Die Laubschers oes drie dae van die week vir 52 weke van die jaar.  In die Wes-Kaap is 6 komkommerboere waarvan 5 uit die Olifantsrivierstreek kom.  Hulle lewer onder ander vir Fresh Line(Spar) en Shoprite Checkers.

 

Die dames kon elkeen vir hulle n blomkrans maak ter viering van Tuindag op 20 Oktober.  Alida het blomme en loof uit haar tuin saamgebring en almal het heerlik kreatief meegedoen.  Die eindresultaat was ‘n vrolike affêre.

 

 

 

 

 

 

 

 

Ella Teubes het die dames onthaal op heerlike kos en n dekadente sjokoladekoek.  Sybrand Teubes, wynmaker, het ‘n wynproe aangebied van die kelder se nuutste wyne onder die handelsmerk No Zulpher Added.  In die reeks is ‘n Lae Kilojoule Rosé, Sauvignon Blanc, Shiraz en ‘n Cabernet Sauvignon.  Die wyne word van organies verboude druiwe gemaak.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Vredendal Kwekery is ook besoek waar nuwe plante bekend gestel is en waterwys plante uitgelig is.