Sirkel: Tygerberg

Tak: Kraaifontein

Beriggewer: Ita Van Der Merwe

Datum: 12 September 2019

 

Kraaifontein Tak het vir hul Septembervergadering op ‘n daglange bustoer na die Weskus gegaan. Vroegoggend weg om by Yzerfontein se padstal ‘n koppie koffie en ook van die heerlike pasteie te geniet. Dit was pragtig om na die groot pappegaaie en ander voëls en die, soms rare, artikels in die padstal te gaan kyk. Die interessante gordynjies is gehekel met gekleurde breidraad en met skulpies versier.

 

Daarna was hulle na die Weskus Nasionale Park en het gebruik gemaak van die gratis toegang vir RSA-burgers. Die uitsig oor die Langebaanstrandmeer, met die verskillende skakerings van blougroen was pragtig en ‘n volstruispaar met hulle kroos van 8 het vir groot vermaak gesorg.  Daar is inligtingsborde wat vertel van al die dier- en plantspesies en ander interessante inligting oor die park wat daar gesien kan word. Dit was bewolk en daar was dus min blomme te sien, maar tog kol-kol bossies met pers blommetjies, kapokbos en ander struike in die blom.

 

Volstruise

 

‘n Vinnige besoek aan Langebaan wat hul 100e bestaansjaar gevier het, het gevolg. Daarna deur Vredenburg gery o.a. by die kerk verby wat gebou is op ‘n stuk grond nadat twee boere daar ‘n noodlottige twis gehad het. Die dorp is daarna Vredenburg genoem.

 

Net ‘n entjie verder het hulle by Tietiesbaai aangedoen, wat bekend is vanweë die staaltjies van Pieter Pieterse. Op Paternoster het hulle die piekniekmandjies uitgehaal en al was die windjie skraal, het almal dit geniet.

 

Piekniek by Paternoster

 

Op pad terug deur Hopefield en by Malmesbury is hulle by plate pragtige varkore verby. Niks het ons verhinder om bestuursverkiesing in die bus te hou nie – daar was ‘n kworum teenwoordig en ‘n streng verkiesingsbeampte.

 

Veilig terug by die huis danksy die verantwoordelike busbestuurder, Joseph.

 

Die bus met lede en busbestuurder