Sirkel Weskus,

Tak: Eendekuil,

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer : Lydia le Roux

Datum : 2019-08-14

 

Ons VLV-tak het op 14 Augustus ‘n lywige Leefstyl-vergadering gehad – Helmien Rossouw het haar oortref met die heerlikste eetgoed uit haar kombuis.

 

 

Die byeenkoms was ook spesiaal, want ons het afskeid geneem van tannie Hennah Dreyer.  Sy het as 19-jarige na Eendekuil gekom en is ons oudste VLV-lid. Sy was vir 36 jaar ononderbroke lid van ons VLV-tak.  Sy en haar dogter Heletta, 3 jaar VLV-lid, verhuis na Piketberg.

Op die foto : Marié Grobbelaar, takvoorsitter links, saam met tannie Hennah en Helmien Rossouw

 

Ons tak probeer ‘n verskil maak in ons omgewing deur “ecobricks” te vul met nie-herwinbare afval.  Dit word aan die Christen-privaatskool in Piketberg gegee, waarmee hulle bankies en tafels vir hul speelterrein wil bou.

Ons het ‘n prettige kompetisie met dieselfde tema – “Plastiek, ons vyand”, geloods.    Ons het ‘n kledingstuk met bypassende hoed uit nie-herwinbare materiaal gemaak en by die vergadering ‘n modeparade van ons uitrustings gehou.  (Nie almal was so dapper nie …)

Op die foto van links na regs: Jolene Mouton, Helmien Rossouw, Lydia le Roux en pop, Marié Grobbelaar en Annette Theron

 

 

Spreker Cobis Wilson, woonagtig in Piketberg en argitek in Kaapstad, het met ons ‘n paar praktiese alternatiewe vir ‘n aftree-eenheid gedeel.  Sy eenvoudigste model berus op 2 slaapkamers en woonkamer met kombuis ingesluit.  Dit bevat alles wat nodig is vir ‘n selfversorgende bejaarde.  Die uitleg word só beplan dat alles binne bereik en maklik hanteerbaar is.  Hy beveel aan dat die terrein en wooneenheid van die begin af rolstoel-vriendelik beplan word om latere frustrasies te voorkom.  Hy stel ook ‘n model van ‘n groter eenheid met 4 slaapvertrekke weerskante van die sentrale leefarea voor vir vriende wat kans sien om op hul oudag saam te woon.  Elkeen het steeds privaatheid elk in hul eie vertrek, maar deel die uitgawes,etes en leefvertrek met kombuis.  Dit voorkom vereensaming en afsondering, en skep ook ‘n groter mate van veiligheid – veral na die verlies van ‘n lewensmaat.

Op die foto:  Cobis Wilson, Argitek