Sirkel: Middelland
Tak: Aberdeen
Portefeulje: Opvoeding en Kultuur
Beriggewer: Lea van der Vyver
Datum: 7 Augustus 2019
Na die lang breek van die Wintervakansie kom Aberdeen VLV in Augustus 2019 weer byeen met studierigting Opvoeding en Kultuur aan die beurt. Luise de Jager, Saamroeper Opvoeding en Kultuur, open met ‘n stukkie oor positiwiteit – in moeilike tye moet ons ons denkwyse verander en iets kry om ons op te lig.
Na afhandeling van ‘n paar VLV sake vaar lede die stofstrate in om die dorpie se unieke argitektuur te beskou, ten spyte van ‘n sterk wind wat die wêreld vaal het van die stof! Aberdeen se inwonende argitek, Archie Norval, vertel op interessante en humoristiese wyse van die vier basiese style van argitektuur in Aberdeen. Sommer gou is die wind vergete en leer lede hoe om die style uit te ken en hoe sommige huise verskillende elemente van verskillende style kombineer. Daar word baie vrae gevra en Archie deel ook tuisgemaakte stokkielekkers en klein botteltjies water uit as lafenis tydens die stappie. Die vier basiese style is die Karoo, Victoriaanse, Edwardian en Art Nouveau style en as elemente daarvan gekombineer word, is dit Eklekties.
Na die leersame uitstappie word daar afgesluit met koffie en eetgoed verskaf deur Carina Esterhuizen en Karen van Rensburg. Die pragtige protea ranskikking en die heerlike koeksisters pas ook by die Kultuurtema. Lucille van der Merwe wen die gelukkige trekking van die dag.
Aberdeen VLV lede saam met argitek Archie Norval voor Aberdeen se eerste huisie
Argitek Archie Norval verduidelik die elemente en eienskappe van die argitektuur en styl
Pragtige proteas en heerlike koeksisters pas by die Kultuurtema.
Leave A Comment