Sirkel: Overberg

Tak: Villiersdorp

Portefeulje: Kunste &Handvlyt

Datum: 11 Junie 2019

Beriggewer: Hermien Van Zyl

 

 

Villiersdorp se VLV-tak: 90 nie uit nie!!

So stilweg kon die Villiersdorpse VLV-tak, die oudste tak in sirkel Overberg, op 9 Junie hul 90ste bestaansjaar herdenk. Die tak is as ‘n Vroue-Opbouvereniging gestig volgens die model wat reeds in die Bossiesveld-area o.l.v. mev Maria Stofberg (gebore Botha), ‘n boervrou van Stettyn, baie goed gefunksioneer het. Sý het dan ook op 9 Junie 1929 die Villiersdorp-tak kom stig met 23 vroue onder die voorsitterskap van mev F.K. Siebrits en met mev Maranda Joubert as sekretaresse. Vier maande later, op 15 Oktober 1929, sou mev Siebrits een van die afgevaardigdes wees na ‘n vrouekongres op Franchhoek, waar uit al die splinterorganisasietjies oor die hele destydse Kaapprovinsie, ‘n nuwe vroue-organisasie, die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland tot stand gekom het. En Maria Stofberg is verkies as een van twee vise-presidentes van die nuwe organisasie. Hierdie groot gebeurtenis word in Augustus tydens die VLV se jaarkongres te Goudini Spa gevier met die bekendstelling van ‘n omvattende VLV-resepteboek wat die ontwikkeling en vernuwing van resepte oor die afgelope 90 jaar sal dek.

 

Voorsitter Johlene Viljoen (links) het ‘n verjaarsdagkoek gebak en Hermien van Zyl (middel) het met die aansteek van die kers hulde gebring aan al die VLV-lede wat voetspore gelos het in VLV-Villiersdorp. Elizette Bosman kyk toe.

 

Die Kunste&Handvlyt-groep was verantwoordelik vir die maandvergadering op 11 Junie toe die tak hulde gebring het aan hulle voorgangers wat diep spore getrap het in die gemeenskap van Villiersdorp. Hermien van Zyl, die tak se voorsitter vanaf 1994 – 2006, het die verjaarsdagkers aangesteek en aan die hand van die tak se bydraes vir die VLV-resepteboek, gewys hoe VLV-Villiersdorp en die organisasie in die algemeen, saam met die tye verander het, soms voor geloop het, maar nooit stagneer het nie. Sy het weer die lede se aandag gevestig op die VLV se geskiedenis soos Ds Van Lill dit opgeteken het in die NG Kerk se gedenkalbum.

 

Hierdie oud-lede wat van Kleinmond af gekom het om saam fees te vier, het elkeen ‘n ruiker ontvang van pragtige Villiersdorpse proteas. V.l.n.r. Hermien van Zyl, Frieda Maree (oud-bestuurslid) en Elizette Bosman (óók ‘n vorige takvoorsitter) saam met Johlene Viljoen, die huidige voorsitter.

 

 

 

 

Liz Baker, die gasspreker.

 

 

 

 

 

 

Liz Baker, veelsydige kunstenares, was die gasspreker en het van haar pragtige kunswerke uitgestal. Deur kuns kan mense vaardighede geleer word en ‘n nuwe wêreld vir hulle oopgemaak word, het Liz die gehoor oortuig. Sy het pragtige hekelwerk en kunsartikels vertoon van ‘n werksgroepie waarby sy betrokke is.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

‘n Bonus was die item van die middag, die optrede van Fatimar met haar lieflike sangstem terwyl sy haarself op die kitaar begelei.

 

Gaskunstenaar, Fatimar

 

Die Kunste&Handvlyt-gasvrougroep verantwoordelik vir die vergadering is v.l.n.r. Riana Langenhoven (saamroeper), Mareen de Wet en agter haar Sharmaine Roux, en regs voor Elsabé Stemmet en agter haar Anne-Marie Botes.

 

Van Liz se kunswerke.

 

 

Riana Langenhoven oorhandig ‘n geskenkpakkie aan Fatimar

 

V.l.n.r. Riana Langenhoven (saamroeper vir Kunste&Handvlyt), Fatimar (gaskunstenaar), Mareen de Wet (taksekretaresse), Johlene Viljoen (voorsitter) en Liz Baker (gasspreker).