Sirkel:    Tygerberg

Tak:    Brackenfell

Portefeulje:  Landbou en Tuinbou

Beriggewer:   Lettie Van Wyk

Datum:   6 Junie 2019

 

Brackenfell lede is verras met ‘n wonderlike ontspanne, leersame oggend toe Elsa Groenewald, Brackenfell se nuwe Landbou Saamroeper, haar eerste vergadering aangebied het.   Haar jarelange vriendin, Marise Wattel, het vir ons kom vertel wat alles met blomme gedoen kan word en omdat hulle vriendinne is, het Elsa fluks gehelp om aan te gee en by te dra.   Die stukkie wat Elsa gelees het uit Klein Geskenk van die Liefde het pragtig aangesluit by die blom-tema.

 

 

Marise Wattel (spreker) en Elsa Groenewald (sameroeper)

 

Marise begin deur vir ons te vertel dat sy op ‘n plaas grootgeword het en alhoewel hulle nie baie gehad het nie, was hul huis nooit sonder blomme nie.   Sy onthou hoe haar ma met ‘n snoeiskêr die veld ingeloop het en altyd met iets teruggekom het waarmee sy die huis versier het.   Marise het eenmaal ‘n klein sjokoladetjie gewen met ‘n rangskikking wat sy gemaak het en dit, tesame met haar ma se invloed, het haar liefde vir blomme laat ontstaan.   Sy doen wat sy wil en skep die mooiste prentjie uit die minimum.   Sy vertel dat sy nie blomme koop nie, maar gebruik wat sy het.

 

Besonders ….

 

Ons is so geneig om die papier van ‘n bos blomme wat ons present kry, af te haal en weg te gooi, maar sy demonstreer vir ons hoe mooi dit lyk as jy die papier net ondertoe vou, die blomme los skud in die pot en bietjie hier en daar trek.

 

 

 

 

 

 

Ek kry ‘n ruiker – kyk net hoe mooi

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Daar is soveel skoonheid in ‘n bladwisselende boom wat mors, gebruik dit tot jou voordeel!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Fairy lights en oupa se baard bokant jou buitetafel

 

Sy wys vir ons ‘n boomtak met ‘fairy lights’ en ‘oupa-se-baard’ wat bokant haar buitetafel hang.   Op die tafel plaas sy gewoonlik ‘n lang, besondere stomp waarin sy elke keer iets anders rangskik.

 

Tafelversiering wat altyd verander

 

Ons het waarlik vol nuwe idees en geïnspireerd huis toe gegaan!

 

Ons oudste lid, Lydia Brink, het vanoggend haar 70-jarige diensknopie ontvang van Fanny le Roux, wat ingestaan het vir ons voorsitter, Elba van der Merwe, wat as gevolg van siekte nie die vergadering kon bywoon nie.   Lydia is ook erelid van Brackenfell.   Sy word 17 Julie 90 jaar oud en is nog steeds ‘n aktiewe bestuurslid wat haar kant bring.  Sy en haar gesin bly al 68 jaar in Brackenfell.

 

Lydia Brink ontvang haar 70 jaar knopie van Fanny le Roux

 

Lydia het kortliks vir ons vertel hoe sy die VLV oor die jare beleef het en praat ook met trots van haar oorlede man wat ‘n ware ’VLV-man’ was en haar altyd bygestaan en ondersteun het in alles wat sy gedoen het.   Ons is trots om haar in ons tak te hê en uit haar wysheid te tap.

 

Lydia Brink en Fanny le Roux

 

Hibiscusblomme vir voorsitterstafel

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Kyk hoe fraai -rangskikking met groen blare

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Glaspotjies in ‘n raam