Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Studierigting: Gesondheid

Saamroeper: Ateline Meiring

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 12 Junie 2019

 

Acqua se Junievergadering was nie nét VLV-waardig nie. Dit was ‘n vergadering van lewensbelang.

 

Daar is net twee dinge in hierdie lewe waarvan ons seker kan wees. Geboorte en dood. Wanneer ons die hiernamaals oordink, wonder ‘n mens tog wat jou nalatenskap sal wees. As vroue met ‘n sterk verantwoordelikheidsin besef ons deeglik dat die onus om van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak, op ons rus! Nié op die mans nie, nie op die jeug nie. Op óns. Die vroue.

 

Dit beteken nou nie dat mans nie ook ‘n bydrae kan of moet lewer nie.  Inteendeel, elke mens kan (en móét) die besluit neem om vir soveel as 50 mense ‘n kans op ‘n verbeterde lewe te gee. Die vrou, die aartsmoeder, is net inherent beter toegerus om voor te loop en ons geliefdes te help om van die wêreld ‘n beter plek te maak.

 

Soveel as 50 mense. Kan jy glo? VYFTIG mense. Jou weefsel, hart, longe, niere, lewer en pankreas kan ernstige siek mense ‘n tweede kans gee. Meer tyd met hulle geliefdes. Dit is ‘n nalatenskap om op trots te wees.

 

Phindile Malewa, van die Stigting vir Orgaanskenking (PE kantoor), het vertel dat daar soveel as 4 300 volwassenes, en ook kinders, in SA is wat wag vir organe of weefsel. Sy beklemtoon dat organe soos die hart, longe, lewer, niere en pankreas slégs geskenk kan word as die skenker breindood verklaar is en aan ‘n ventilator gekoppel is.

 

Dit is noodsaaklik dat organe so gou moontlik nadat ‘n persoon breindood verklaar is (deur twee onafhanklike dokters), verwyder moet word om ‘n suksesvolle oorplanting te verseker.

 

Weefsel kan egter selfs dae na afsterwe geskenk word. Weefsel, soos been, vel, korneas en hartkleppe kan geskenk word as die persoon aan ‘n ventilator gekoppel of selfs reeds in die lykshuis is. Dit is gebruiklik dat weefsel in ‘n spesiale Weefselbank gestoor word, om te gebruik soos benodig.

 

Daar is geen koste om as ‘n skenker te registreer nie. Daar sal ook geen koste van die skenker se familie verhaal word vir die skenking nie. Die hospitaal of Weefselbank sal alle mediese onkoste dek vanaf die oomblik dat die skenker se familie toestemming gee vir die skenking. Dit is baie belangrik om te weet dat orgaanskenking as ‘n geskenk van lewe geag word. Daar mag onder geen omstandighede met organe of weefsel handel gedryf word nie. Dit is onwettig en strafbaar.

 

Dit is ook belangrik om te weet dat ‘n skenker se begrafnis nooit vertraag of uitgestel sal word nie. Medici neem groot sorg dat die skenker se liggaam nie geskend of ontsier word ten einde die organe of weefsel te bekom nie. Die skenker word ten alle tye met die uiterste respek behandel.

 

Ons kan met net een verantwoordelike besluit beslis van hierdie wêreld ‘n beter plek maak. Phindile se praatjie was werklik van lewensbelang. Besoek die organisasie se webwerf om jouself te vergewis van die lewegewende waarde wat registrasie as ‘n skenker het. https://www.odf.org.za/

 

As jy nog nie geregistreer het om met jou afsterwe die geskenk van lewe aan ‘n ander te gee deur jou weefsel of organe te skenk nie, kan jy sonder veel moeite, en terwyl jy leef, ten minste drie lewens red.  Bloed is nodig om voedingstowwe en suurstof na die organe en weefsels in die liggaam te vervoer. Sonder bloed sal jy sterf. Deur bloed te skenk onderskei jy jouself nie net van die 99% van die bevolking wat dit nié doen nie, maar is jy ‘n heldin!

 

Marissa Harris (donor relations practitioner)van die Suid Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) het korte mette gemaak om met ‘n enkele prik lede se bloedgroep te bepaal. Groep O-bloed is die veelsydigste bloedgroep en daar word na dié skenkers verwys as “universele skenkers”. Omtrent een uit elke drie mense behoort tot hierdie bloedgroep. Minder as 1% van die bevolking behoort tot die AB-negatief bloedgroep.

 

Elke eenheid bloed word verdeel in rooibloedselle, witbloedselle, plasma en bloedplaatjies. Rooibloedselle hou 42 dae en bloedplaatjies maar ‘n skrale 5 dae. Volledige bloed, m.a.w. die bloed wat nie verdeel is in selle, plaatjies of plasma nie, het ‘n raklewe van 35 dae.

 

Dit neem net sowat 30 minute om ongeveer 475 – 480 ml bloed te skenk (die maksimum hoeveelheid wat per keer geskenk kan word). Jou liggaam vervang dit binne 24 uur na skenking. Jy kan elke 56 dae jou moue gaan oprol om ‘n eenheid bloed te skenk. In ‘n gemiddelde leeftyd sal ‘n gesonde mens ten minste 330 keer kan bloed skenk. As jy tussen die ouderdomme van 16 en 65 is, meer as 50 kg weeg en ‘n veilige sekslewe lei, kan jy as bloedskenker registreer.

 

 

Die aand se samesyn is afgeskop met die klanke van Cell O Charm. Charlotte en Winnie Grundling (Ma en dogter) en Neil Green tower die mooiste klanke uit hulle onderskeie instrumente. Winnie is ‘n onderwyseres (in musiek)en orrelis, terwyl Charlotte en Neil lede is van die Oos-Kaapse Filharmoniese Orkes. Cell O Charm kan bespreek word vir enige geleentheid waar klas en musiek nodig is.

 

 

Sameroeper, Ateline Meiring, het gesorg vir pragtige middelplasings op die tafels. Dit is gebruik by Acqua dat daar moeite gedoen word om die tafels mooi te maak. So wys ‘n mens mos darem jou waardering vir diegene wat by jou tafel aansit.

 

PEGC se sjef, Jeanine Botha, en haar span het ‘n aromatiese kerrie voorgesit. Net reg vir ‘n koue wintersaand. Acqua is baie dankbaar vir die lekker etes wat met sorg mooi voorgesit word.