Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Tersia Prinsloo

Datum: 28 Mei  2019

 

Vroeg-oggend op Dinsdag 28 Mei, vertrek vyftien dames van VLV Voëlvlei na Albertinia en Riversdal. Al geselsend en onmiddelik aan die kuier ontmoet ons by Tuinplaas in Albertinia vir vroegoggend koffie en stap ons deur die plaasmuseum waar ‘n ongelooflike versameling van amper 10 000 speelgoedmotortjies veteraan trekkers soos die 1933 McCormick Deering, ‘n werkende modeltrein sisteem en die wêreld se grootste handgebreide trui uitgestal word.  Die dames van Albertinia het vir amper 7 maande saamgebrei en na 250 bolle wol (25 kg) ‘n Guinness World Record Suid-Kaap toe gebring. Die trui is in die kleure en patroon van die Suid-Afrikaanse vlag gebrei.

 

Die feetjietuin en blikwinkel waar ornamente vir jou eie feetjietuin gekoop kan word, het die oeee’s en aaa’s verdien.  Daar is ook ‘n oulike Tiny Town wat jou kinders se verbeelding sal prikkel.

 

Ons tweede besoek was aan die Julius Gordon Africana Sentrum/Versfeld-Huis in Langstraat, Riversdal.  Me Jalize Rheeder en Mnr Andy Stoffels het waardevolle inligting verskaf tydens die toer deur die sentrum.  Die Gordon-familie was die eerste eienaars totdat Theodore Versfeld dit oorgeneem het en in 1956 al die Gordon besittings en skatte aan die nuutgestigte sentrum geskenk het.

 

Ons laaste stop was aan die ou Riversdal Tronk wat aan Louise Malherbe behoort en danksy haar nog bewaar bly.  Dis ontsaglik interessant om onder andere ‘n replika van ‘n rondgaande galg daar te sien.  Louise het met ‘n tikkie humor die geskiedenis van die tronk en staaltjies van oud “inwoners” met ons gedeel.

Louise en haar meisies het toe ‘n ligte middagete bedien en die wortelkoek en kaaskoek is “to die for!”

Na inkopies in onder andere die lapwinkel en slaghuis keer ons huiswaarts vol aangename herinneringe.

 

Vlnr Christine Beytell, AnneMarie van Niekerk en Elize Locke by Tuinplaas

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ina van Zyl by Tuinplaas

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Tiny Town, Tuinplaas

 

Vrolike VLV Vroue saam met Mnr Andy Stoffels en Jalize Rheeder (links in 3de ry) voor die Julius Gordon Africana Sentrum/Versfeld-Huis

 

Louise Malherbe by die Ou Tronk