Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 4 Mei 2019

 

Neeeee wat, daar’s niks waarvoor Acqua skrik nie. Sê nou daar’s 250 brode? Nee, Acqua skrik nie vir so baie brood nie. En sê nou daar’s 75 kg maalvleis?  Nee. Soveel maalvleis hou geen verskrikking in nie. Wat van 2000 bestellings? Nee, daar’s níks waarvoor Acqua skrik nie. Acqua se dapper muisies (sic) ken van Langenhoven se swaarkry wat met GROOT lekkerkry klaar gekry word.

 

Verlede jaar se wins van R18 000 is met R5000 verbeter. Ja, Acqua se spaarvarkie is trommeldik gevreet aan so ‘n bietjie meer as R23 000 se baie welkome wins. Dit is ten spyte van onkoste wat vanaf R3000 in 2018 vanjaar tot meer as R10 000 geklim het. Die lewe is duur en borgskappe aan die skraal kant. Die winsmarge is sonder twyfel erg deur die verhoging in insetkoste beïnvloed. MAAR. Die jaffels was nog steeds ‘n gehalte-produk. Baie lekker. Beslis waarde vir jou geld. Is daar nie nog wat ons kan koop nie? Aldus die honderde mense wat bestel het.

 

Die jaarlikse JAFFELBAK is ‘n instelling op die Acquakalender. ‘n Vrolike, albeit arbeidsintensiewe, manier van fondse insamel. Fondse wat die tak se Goedheid & Guns Projekte befonds en moontlik maak.

 

Annalize Smit, Jeanette Serfontein en Anneri Nielsen

 

Linda Juta en Jeanette Serfontein

 

Na soveel jare loop die jaffelpoging op gladde, ge-oliede, wiele. Die maalvleis word op die Vrydag gaar gemaak. 2 kg op ‘n slag, met dieselfde hoeveelheid geurmiddels en bestanddele, sodat elke jaffel dieselfde proe. Die brode word ook dan gesmeer. Op Saterdagoggend word daar skinkborde en skinkborde broodjies met maalvleisvulsel (volgens ‘n spesifieke maat)voorberei om in die ysters gelaai te word. Daar word spottenderwys gepraat van die “boustasie”, “bakstasie”, “pakstasie” en “betaalstasie”. Tussen die gebou, gebak en gepak word daar met oorgawe gelag, gesels, gedrink en geëet. Sienderoë is die werk met groot lekkerte klaar gekry.

 

 

MOEG!!!!, maar tevrede!

 

Elke lid het haar kant gebring. Donasies, bestanddele, bestellings en tyd. ‘n Grootse poging. ‘n Suksesvolle poging. Soos alles wat Acqua aanpak.