Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Ada Gericke

Datum:30 April 2019

 

Die lede van Voëlvlei se VLV-tak is by hul April-vergadering  breedvoerig  ingelig oor mond- en tandesorg.

 

Dr. André van Lill, tandarts van Gouritsmond, het met ‘n interessante praatjie en ‘powerpoint’-aanbieding verduidelik hoekom dit so belangrik – en soms so duur – is om gereeld die tandarts te besoek.  Dis baie belangrik om op gereelde basis die tandarts en ‘n mondhigiënis te besoek en om goeie tuisversorging van jou tande te doen.

 

‘n Tandarts se teater word toegerus met baie duur apparate soos die sterk oorhoofse ligte, kompressor, suier, steriele instrumente en ander materiale soos skroewe, watterolle, bindingsmateriaal en spuitstof.

 

Hy het ook gewaarsku daarteen om nie naels en taai lekkers te kou nie, sure soos suurlemoensap asook  wyn te vermy of te borsel na gebruik, nie spelde of spykers te byt nie, bottels oop te maak, gaskoeldrank te drink, dwelms te gebruik of gereeld soetgoed te eet nie.  Verder moet mondspoelmiddel sonder alkohol gebruik word en tande op die regte manier geborsel en geflos word.

 

Voorkomingsmaatreëls en oorsake, sowel as behandeling van mondsiektes soos tandkaries, giginvitis en kankers van die mond, is ook verduidelik.

 

Verder is die dames ingelig oor verskillende prosedures om tandprobleme op te los sodat elkeen met ‘n breë glimlag kan spog.

 

Ander onderwerpe deur bestuurslede was die komende verkiesing, die fisiese, geestelike, emosionele en finansiële behoeftes van kinders en die tendens om ‘huisies’ in verskeie groottes en vorms as versiering in en buite die huis te gebruik.

 

Die kompetisies het groot belangstelling uitgelok en baie inskrywings is gekry vir ‘n verjaarsdagkoek met ‘n verrassing binne-in.  Christine Beytell het met die louere weggestap met haar pragtige koek waaruit veelkleurige lekkers gestort het toe die koek gesny is. Pragtige skilderye van plaashuise het die vergadering verder opgevrolik.

 

Almal is na al die heerlike eetgoed by die tee, haastig huis toe om hulle tande te gaan borsel!

 

 Dr Andre van Lill

 

 Kartonhuisies

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Verjaarsdagkoek met die verrassing