Sirkel: Cradock

Tak: Hofmeyr

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer:  Teresa Opperman

Datum: 2019-04-16

 

Isabel Willken, Sirkelpresident van Sirkel Cradock, is ook Hofmeyr Tak se leefstylsameroeper.  Sy het haar buurvrouens en skoondogter opgekommandeer om hul naaimasjiene saam te bring VLV toe, en sy het vir dae lank lappies geknip.  Haar doel:  sy wil almal leer om die “Log Cabin” laslappatroon onder die knie te kry, en jou waarlikwaar, elke VLV-lid is met ‘n splinternuwe vatlap huistoe.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die “log cabin”  laslappatroon het in  Amerika ontstaan en daar is altyd verwys na die senter blokkie wat as die hart van die huis (hearth of the home) bekend gestaan het.  Hierdie vuurherd moet in ‘n donkerder skakering wees, en dan word die ‘logs’ (stompe of plankies) kloksgewys om hierdie blokkie vasgestik.  Almal het meegedoen en met groot vreugde die eindprodukte vertoon.   Isabel gebruik graag ou handdoeke vir vatlappe se voering en vir kwilts maak sy gebruik van Lumetex.  Dit is ‘n superligte, superdun maar diggeweefde sagte watteersel, wat ook baie mooi kwilt.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

As kompetisie-artikel was daar ses inskrywings vir ‘n Rooi fluweellaagkoek wat kaal vertoon is.    Rika Pienaar,  beoordelaar,  het die dames meegedeel dat ‘n laagkoek nie op ‘n diep bord vertoon mag word nie, want dit maak dit baie moeilik om te sny vir beoordeling.  Ook moet die koek na afkoeling omgekeer word vir vertoning, aangesien die rakkie se patroon nie mag sigbaar wees op die kaal koek nie.   Sy beveel aan dat die dames aandag daaraan gee om goeie kwaliteit kleursel wat ‘n diep rooi weergee, te gebruik.  Spikkels op die korsie van die koek word veroorsaak wanneer die suiker nie opgelos en gesmelt is, voordat die beslag in die pannetjies gegooi word nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Tuiniers kon hul laaste ruiker rose inskryf onder Landbou.   Groot was die verrassing toe daar ‘n massa rose opdaag vir hierdie Aprilvergadering, want gewoonlik het die meeste karootuine al teen die tyd ysige koue en ‘n ryp gehad.

 

 

Beoordelaar Rika Pienaar deel ook mee dat ‘n gastehanddoekie, wat met borduurwerk of kant versier word, se versiering dieselfde wasmetodes moet kan hanteer as die handdoekie self.  Sorg dat dit altyd baie netjies afgewerk word, jou gaste gaan dit immers gebruik, en ‘n VLV-vrou wil immers altyd ‘n goeie indruk maak.    Jou versierings gaan jou eie persoonlikheid weerspieël, en hoewel die spreekwoord sê “minder is mooier”, is dit nie noodwendig almal se smaak nie, en jou eie linnegoed mag maar jou eie stempel dra.

 

Gesondheidsameroepster, Nadia Bosch, gee hier voor die winter ‘n wenresep vir winterskurfte en growwe vel.

Meng ‘n halwe houer kamferroom met ‘n groot blik  samboksalf,  ‘n buisie bababoudesalf of 1 eetlepel speensalf,  ‘n paar druppels van jou gunsteling  tissue-olie, en ‘n vol houer aqueous room.  Meng goed en smeer soggens en saans om die winterskurfte te flous.

 

Elisma de Jager moedig die dames aan om ‘n Dankbaarheidsdagboekie by te hou.  Dit kan jy deesdae met ‘n Gratitude App op jou selfoon doen.   As jy elke dag weet waarvoor jy als kan dankbaar wees,  gaan jy soveel meer kry om voor dankbaar te wees.