Sirkel: Tygerberg

Tak: Goodwood

Portefeulje: Kultuur

Beriggewer: Alet Colyn

Datum: 16 April 2019

 

Die uitgewer, Izak de Vries, het die lede oor Afrikaanse kinder-en jeugboeke kom toespreek.  Hy is o.a. ‘n ambassadeur vir Durbanville Kinderhuis, wat maratons kaalvoet hardloop om so geld vir die instansie in te samel.

 

Vroeër is baie boeke, o.a die van Enid Blyton, vertaal omdat dit goedkoper was as om outeurs vir oorspronklike werke te betaal. Rhona Rupert en Alba Bouwer het graag stories vertel wat om die vuur ontstaan o.a.  spook-, lieg-, slaap- en geskiedenisstories.  A.G. Visser was bekend vir sy kinderverse rondom 1967.  MER het in 1920 Die Tweeling Trek Saam geskryf en C.J. Langenhoven skryf reeds in 1923 wetenskapfiksie, nl. Loeloeraai; in 1925 verskyn Brolloks en Bittergal; in 1931 My sewe Maters en Kootjie Totjie.  Irma Joubert se ouma, Tienie Holloway, skryf in 1945 Hasie Kalbassie, in 1947 Nuwe Kleuterverse en in 1949 Doempie Domkop.  In 1932 skryf Stella Blakemore die Maasdorp-reeks, en in 1940 die Keurboslaan-reeks (onder die skuilnaam Theunis Krog).  Cor Dirks het o.a. in 1949 Die Uile en in 1981 Die Otters die lig laat sien.  Topsy Smith het beide Trompie en Saartjie onder die skuilnaam van Bettie Naude geskryf.  Alba Bouwer het in 1955 Stories van Rivierplaas en in 1963 Stories van Bergplaas geskryf – stories waar swart en wit in harmonie saamgeleef het.  Leon Rosseauw van Human en Rosseauw-faam het al in 1956 Fritz Deelman laat skype, in 1958 Marco Polo van Venesië geskryf en in 1959 Die Florentyn, wat oor Da Vinci handel, die lig laat sien.  P.H. Nortjè skryf in 1959 Pennie se Vuur en Doc Immelman in 1963 Die Groot Maroelas.  Pieter W. Grobbelaar laat Inheemse verhale uit Swart en Wit Afrika die lig sien en in 1965 Antjie Somers loop weer.

 

‘n Paar skrywers publiseer boeke wat relevante dinge aanspreek o.a. Elsabè Steenberg in 1992 met Skuite tussen Riet (bloedskande), 1976 Klawervyf (Downsindroom), 1980 Boom, Bomer, Boomste (tienerrebellie) en Rona Rupert in 1967 Die Koningskind van die Hantam (arm kinders met besondere probleme).  Maretha Maartens in 1989 met ‘n Pot vol Winter (tienerseks), Marion Erskine se Vlerke vir Almal (boelies) en Fanie Viljoen se Pleisters vir die Dooies (skoolskieter).

 

Volgens Miemie du Plessis moet kinderboeke se storie lekker kan lees en die taal moet kindervriendelik wees.  Jaco Jacobs, Fanie Viljoen en Carina Diedericks-Hugo is deesdae gewilde kinderboekskrywers.

 

Enola Venter, Izak de Vries (spreker) en Mara Binedel (sameroeper).

 

                       Lede moes ou kinderboeke uit hul boekrakke saambring.

 

Ons neem afskeid van Lida

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Lida van Niekerk is op 22 Mei 1939 gebore.  Sy sou hierdie jaar 80 word maar het op 11 April haar jarelange stryd teen kanker verloor.  Sy was 20 jaar lid van ons tak.  Ons sal Lida se glimlag en humorsin onthou.  Ons was lief vir haar want sy was ‘n “sagte Lida”.