Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Studierigting: Opvoeding & Kultuur

Saamroeper: Suzette Hanekom

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 11 April 2019

 

Daar was so amper ‘n stok in die speke met Acqua se 3de vergadering van die jaar. Alles was gereël en bepraat. Die spreker, haar geskenk, vermaak, die ete, middelplasings en funksie-gunsies was gereed om te gebeur. So het ons gedink.

 

Die mouterkarre het al gebewe vir die wegtrekslag vergadering toe, toe die spreker laat weet sy moet ‘n hooggeplaasste in die Metro se hand gaan vashou. As ons haar goeie raad kon gee, sou sy beslis nie ‘n VLV-byeenkoms vir sy Agbaarheid versaak het nie. Nietemin. Acqua laat g’n toe dat ‘n klein hikslag ‘n aand van samesyn bederf nie.

 

Lede, en ‘n gas of twee, het in volle vaart opgeruk. Die getal vroue was so raak-raak aan die 90-kerf. PEGC se groot funksielokaal is amper kant en wal toegesit. Daar’s natuurlik altyd plek vir nog siele in die Kwa-Kwa-kwela. Die lokaal kan gemaklik nog 60 gaste akkommodeer. Ons moet hulle loop soek, want ons is mos eintlik op pad stadion toe. Acqua is net so ‘n paar oulike voorslag-vroue kort om die 46 000 sitplekke in die stadium vol te maak. Entoesiasme en ‘n positiewe ingesteldheid het nog nooit skade berokken nie.

 

Die halstarrige verdwene spreker het toe eintlik mooi in die portefeulje se hand gespeel. Acqua begin die jaar altyd met ‘n PowerPoint-aanbieding om lede te wys hoe die Acqua-vurk in die VLV-hef steek. Die blydskap van weersiens laat ongelukkig ‘n paar kardinale stukkies inligting ongemerk verbygaan. Die Aprilvergadering het toe geleentheid gebied om (weer) ons Vereniging en Acqua se plek in die Vereniging onder die loep te neem.

 

Boonop had ons prágtige foto’s van die prágtige Middelland Konferensie om te wys. Na dese verstaan lede ook die onderskeid tussen Konferensie en Kongres sommer baie beter.

Die groot bederf van die aand was twee pragtige, baie talentvolle, jongelinge van ‘n plaaslike hoërskool wat die dames trakteer het met hul sang. Danielle Roux en Anel Young is deur hul onderwyser, Anton Steyn, begelei. Sowat van talent! Dit was beslis nie die laaste keer wat hulle VLV toe genooi sal word nie.

 

Danielle en Anel

 

Benewens die blik op VLV-Acqua, die gespog met Sirkel Middelland se 85ste Konferensie, die genieting van meesleurende sangtalent en ‘n veruklike en baie aptytlike buffet, deur PEGC se sjef, Jeanine Botha, en haar span, het die vroue teenwoordig gedoen wat vroue by uitstek mee goed is. Daar is gesels en gelag. In mekaar se vreugdes en bekommernisse gedeel. Gekuier met ‘n hoofletter K. Tot in die parkeerterrein. Dis mos nou nie verniet dat daar gereken word dat ‘n vrou se koebaai, veral by die wegtrekslag, die beste voorbeeld van die ewigheid is, wat jy jou kan voorstel nie.

 

Gail, Liz & Suzette

 

Acqua is nie sommer so tak nie. Elke lid is ‘n gerekende vrou wie ‘n onbetwisbare merk laat in haar beroep, met haar doen en late, haar betrokkenheid in die gemeenskap en haar bydraes tot die Acquavriendekring. Om ‘n lid van VLV, meer nog ‘n lid van Acqua, te wees, is om jouself te bemagtig. Hoe gelukkig en geseënd kan ‘n mens dan tog wees.