Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 10 April 2019

 

Die dames van Aberdeen VLV het vir die April 2019 vergadering sommer straat af gestap en te voet twee plekke in die dorp besoek wat deur Suzanne Lategan, Saamroeper Openbare Sake, gereël is.

 

Die eerste stop was die Departement van Sosiale Ontwikkeling se sentrum voor die Polisiestasie.  Hier het Projekbestuurder Yvonne Frasenburg en haar mede-werkers Bernado de Vos en Debbie Blaai, lede meer vertel van die werk wat hulle in die gemeenskap doen.  Die sentrum dien as Trauma-eenheid waar ‘n slagoffer van enige geweld of mishandeling kan aanmeld om hulp en berading te ontvang,  Daar is gereeld voorvalle van huishoudelike geweld en seksuele misbruik wat aangemeld word.  Die sentrum tree egter ook pro-aktief op deur opvoedingsprogramme by skole aan te bied wat kinders leer hoe om veilig te wees.  Tuisbesoeke word ook in die gemeenskap gedoen en vroueprogramme word aangebied om vroue te bemagtig en te leer.  Verder word daar nou saamgewerk met die polisie, kliniek, hospitaal en die hof om ‘n volledige diens aan slagoffers te bied.

 

Die tweede stop was Standard Bank, waar Nadire Flippies lede vertel het hoe die nuwe Standard Bank “App” vir selfone werk en watter dienste daarop beskikbaar is.

 

Terug by die Aberdeen Klub is VLV-sake en -projekte bespreek.  Lede is ingelig oor die erkenning wat die Tak by Konferensie ontvang het.  Behalwe vir tannie Jean Watermeyer wat as Dankiepersoon aangewys is, het die Tak die trofeë ontvang vir Uitstaande Administrasie, sowel as 3de meeste nuwe lede.  Annalie Lategan het ook 3de plek in Woordkuns verower en kry 89% vir haar prosa getiteld “Niemand het dit verwag nie”.  Voorsitter, Lea van der Vyver, wat reeds sedert  2017 Sekretaris van Sirkel Middelland is, is tydens hierdie konferensie ook as Visepresident van die Sirkel verkies.

 

Lea van der Vyver (Voorsitter – links) en Elna van Niekerk (Aberdeen Konferensie Afgevaardigde – regs) met die trofee vir Uitstaande Administrasie wat die Tak ontvang het.

 

 

 

 

 

 

 

 

Lede skenk paaseiers aan die Trauma Sentrum om uit te deel aan leerders by laerskool opvoedingsprogramme voor die Paasnaweek.  Daar word ook paaseiers afgelewer by Aalwynhof Ouetehuis en vir die Bambino Sopkombuis se kinders.  Die projekte vorm deel van die Sirkel se 85-verjaarsdagprojek en ‘n totaal van 312 paaseiers is uitgedeel.

 

 

 

 

 

 

Tafelversiering tydens vergadering