Sirkel: Middelland

Konferensie

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 20 Maart 2019

 

 

Sirkel Middelland Vier 85 Jaar!

 

Sirkel Middelland se 85ste Konferensie word op 20 Maart 2019 deur Acqua Tak in 5-ster swier by die Sun Boardwalk Internasionale Konferensiesentrum in Port Elizabeth aangebied.  Vyftien borge dra by tot die sukses van die dag.  Die tema, “Laat ‘n Voetspoor”, is deeglik verweef in die dag se verrigtinge – van die stylvolle aanbieding en dekor, tot die sprekers en kunstenaar, die toekennings en dan ook die afskeid van Sirkelpresident. Lynette Martin.

 

Pastoor Helena Oosthuizen open met gedagtes uit die Woord.  Ons moet in die voetspore van Jesus volg – bereid om diensbaar te wees.

 

Na afhandeling van openingsformaliteite en verslae van die Sekretaris, Tesourier en Bemarker is Jackie Barnardt, Leefstyl Sirkelsaamroeper, aan die woord.  Met haar kenmerkende energie inspireer sy lede vir oulaas om iets nuuts en mooi by die huis te probeer.  Haar praatjie, getiteld “Sjokolade Fantasie” gee agtergrong oor sjokolade en wys verskillende maniere om verruklike sjokolade versierings vir gebak te maak.

 

Francois Grobbelaar, stigter en CEO van FASfacts, doen ‘n aanbieding oor Fetale Alkohol Sindroom (FAS).  Die organisasie se missie is die implimentering van programme om die voorkoms van FAS te verminder, aangesien die babas met breinskade gebore word en nie kan herstel nie.  Daar is ‘n program vir leerders wat hulle die feite vroegtydig leer sodat hulle ‘n verskil kan maak in voorkoming.  Maatskaplike werker, Nontsindiso Nzimande, vertel meer van die mentorprogram vir swanger vroue waar hulle opgevoed en bygestaan word om nie te drink nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Francois Grobbelaar, FASfacts

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Konferensiegangers word bederf met ‘n spogtee – die fokuspunt ‘n besondere 5-laag koek om die Sirkel se 85 jaar te vier.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Daarna word Dankietoekennings gedoen – dit gee erkenning aan ‘n VLV-lid wat passie het, wat ander inspireer en ‘n wat verskil maak in die gemeenskap.  Dankietoekennings word deur Lynette Martin voorgelees en oorhandig aan: Sarie Lahoud van Kraggakamma; Petro Human en Wilma Human van Hercula; Jean Watermeyer van Aberdeen; asook Linette Botha wat deur die Sirkel bedank word.

 

Dankiepersoon Jean Watermeyer by Lynette Martin

 

Die Juweeltoekenning gee erkenning aan ‘n persoon in die gemeenskap wat deur leierskap en vrywillige diens hulle omgewing en gemeenskap ophef.  Lynette Martin oorhandig die toekenning aan Charlie Josephs, bestuurder van die Mayibuye Ndlovu Development Trust wat in Colchester gesetel is.  Die Trust sluit 8 gemeenskappe om die Addo Olifant Park in en die naam beteken “Laat die olifante terugkom”.  Charlie Josephs se aanbieding, getiteld “Laat ‘n Voetspoor”, gee ‘n oorsig oor al die projekte wat die Trust bestuur om gemeenskappe op te hef en te bevoordeel – dit sluit in opvoeding van kleuter tot naskoolse opleiding, sport, kuns, musiek, landbou, natuurbewaring.

 

Juweelpersoon Charlie Josephs, Mayibuye Ndlovu Development Trust

 

Hannelie Low, Sirkelsaamroeper Kunste & Handvlyt, vertel meer oor Magriet Scmidt, Sirkel Middelland se plaaslike Kunstenaar van die Jaar en wys van haar werke.  Een van haar skilderye word uitgeloot as fondsinsameling en gewen deur Marlene Erasmus.

 

In haar Presidentsrede herinner Lynette Martin dat ons voetspore op verskeie maniere agterlaat – dit is veral ook ons digitale voetspoor wat versigtig bestuur moet word in die tye waarin ons leef.  Natania Schmidt, Voorsitter Acqua, doen ‘n treffende voorlesing van Sirkel Middelland se 85 jare, geskryf deur Helen Crouse, Eresirkelpresident.

 

Pedro Kruger, gesogte kunstenaar, sanger en klavierspeler, doen ‘n optrede op klawerbord, getiteld “Klavierkuier met myself”.  Hy vervleg ‘n vertelling oor sy grootwordjare en gesin met die sing van bekende liedjies en sorg vir ‘n lag en traan op elke wang in die gehoor.

 

Kunstenaar Pedro Kruger

 

Met die prysuitdeling word 34 trofees oorhandig en Carpe Diem verwerf die meeste punte vir die kompetisies, met Alexandria in die 2de plek.  Lynette Martin bied ‘n oorsig van die jaarverslag en sirkelorganisasie aan en beklemtoon die projekte wat Takke vir die 85-jarige viering doen.

 

Hannelie Low word aangewys as nuwe Sirkelpresident, Lea van der Vyver as Vise-Sirkelpresident, Marlene Erasmus as Leefstyl Saamroeper en Mariët van Niekerk as Bemarker sowel as Kunste & Handvlyt Saamroeper.  Daar word afskeid geneem van Jackie Barnardt, Leefstylsaamroeper, en Lynette Martin, Sirkelpresident, wat albei uittree na jare se ywerige diens aan Sirkel Middellland.  Hulle laat voorwaar albei groot voetspore om te volg.

 

Keurig gedekte tafels vir middagete

 

Trofeetafel

 

Wenblomme “Kom Ons Dans”

 

Sirkelbestuur: Voor vlnr: Annette Deyzel (vorige Sirkelpresident), Lynette Martin (uitgaande Sirkelpresident), Lea van der Vyver (nuwe Vise Sirkelpresident), Hannelie Low (nuwe Sirkelpresident).

Agter vlnr: Joey Fourie, Sunette van Deventer, Mariët van Niekerk, Moniques Buchner, Jackie Barnardt (uitgaande Saamroeper), Marika Taljaard