Sirkel:  Overberg

86ste Konferensie

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 20 Maart 2019

 

Die Konferensie is aangebied deur die Jongensklip-plaastak by die Rietpoel Silo’s

 

Die ruim ledesaal by die graansilo’s van Rietpoel was van vroegoggend op 20 Maart 2019 reeds ‘n miernes van bedrywigheid. Voertuie met ‘n stoflagie bedek, gee ‘n aanduiding dat daar met plaaspaaie langs gekom is en oral hoor jy die vreugdevolle groet van vrouestemme. Sirkel Overberg kom bymekaar vir die jaarlikse Konferensie met Jongensklip-plaastak die gasvroue.

 

Die eregaste, sprekers en + 100 konferensiegaste word verwelkom deur sirkelpresident Rienie Lüdick en Annelie Swart, voorsitter van die Jongenskliptak. Groeteboodskappe word oorgedra deur mnr Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap en me Christelle Vosloo, burgemeester van die Theewaterskloof Munisipaliteit.

 

 

 

 

Cornie Swart, president Agri Wes-Kaap aan die woord

 

 

 

 

Mnr Swart skets kortliks die haglike posisie waarin die boere van Kaapland hulle ná die droogte, wat nog glad nie verby is nie, bevind, maar hy sê  “Boere kies om optimisties te bly selfs al staar hulle probleme in die gesig soos droogtes, onteiening, beurtkrag, onbeholpe staatsdepartemente en vervalle infrastruktuur. Boere kies om aan te pas om volhoubaar te boer en ‘n nalatenskap te los. In baie moeilike tye is dit die vrou wat die ondersteuning en die stabiliteit bring wanneer emosies bestuur moet word. Die Wes-, Oos- en Noord-Kaap se landbousektore is geseënd en bevoorreg om ‘n ondersteuningsnetwerk soos die VLV te hê, wie se voetspore veral in die landelike gebiede groot impak het.”

 

 

 

 

 

 

 

Hermien van Zyl (sirkelsaamroeper vir Landbou&Tuinbou oorhandig die toekenning en geskenk pak aan Dirk Hanekom en Oelies Fourie, pa van Jean-Louis Fourie.

 

Sirkel Overberg se Dankie Persoon is Jean-Louis Fourie, die depotbestuurder van Overberg Agri se Klipdale-depot. Hy is vereer vir sy inisiatief om met ‘n rekordgetal van 33 lorries in Desember 2018 voer te gaan aflewer in die droogtegeteisterde Sutherland-gebied. Sy pa, Oelies Fourie en Dirk Hanekom, medewerkers aan die projek , het die toekenning en die geskenkpak in ontvangs kom neem en ‘n kort video gewys om vir die dames ‘n idee van die omvang en die logistiek van die projek te gee.

 

Die eerste gasspreker was Debbie Jackson, ‘n lewensafrigter van Kaapstad wat die lede en gaste laat besef het dat die voetspore wat ons trap, ook ons nalatenskap is. Ons voetspore moet ander mense inspireer, ons woorde moet sensitief wees en ander mense oplig en karakter bou. Ons krag moet lê in hoe ons kies om te reageer op dinge, ons moenie vir dinge wag om te gebeur nie, ons moet dit láát gebeur.

 

 

Rita Delport, links, bedank vir Debbie Jackson ná haar toespraak.

 

Die tweede gasspreker was Tersia Joubert, Navorsings- en ontwikkelingstegnoloog van Soill, die Swellendamse maatskappy wat B-Well canolaprodukte vervaardig. Op interessante wyse het sy die gehoor met ‘n power point-aanbieding deur al die fases van produksie geneem tot waar sy statisties die voordele van canolaprodukte kon bewys. Elke konferensieganger het ‘n 375mg houer met canola mayonnaise ontvang.

 

Elke saamroeper het vir iets interessants gesorg in haar toegelate tydgleuf. Lede het ontstellende feite oor plastiekbesoedeling gehoor, vinnig ‘n geskenksakkie versier, met “broomstick”-hekelwerk kennis gemaak, die verstommende storie gehoor van ‘n ma se stigting van ‘n tuisskooltjie vir haar outistiese seun.

 

Met die oog op die Konferensie van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue in Melbourne, Australië, in April, is aan die hand van ‘n uitstalling van Aussie memorabilia, belangstelling opgewek vir hierdie gebeurtenis.

 

Hermien van Zyl, wat as waarnemer die Wêreldbond van Plattelandse Vroue se Konferensie in Melbourne gaan bywoon, by die uitstalling oor Australië. Elkeen van die afgevaardigdes het ‘n Australiese vlaggie gekry

 

 

150 jaar se VLV-betrokkenheid! Maria Whitehead, Hermien van Zyl en Johlene Viljoen ontvang hulle 50-jaardiensknopies van sirkelpresident Rinie Lüdick.

 

Vir drie lede van sirkel Overberg was dit ‘n besondere geleentheid toe hulle elkeen hul 50 jaar kenteken van sirkelpresident Rienie Lüdick kon ontvang. Maria Whitehead, tans die beoordelaar van Kleinmondtak én sirkel Overberg, maar ‘n voormalige vise-sirkelpresident van Suid-Ooskus, Hermien van Zyl, Kleinmondtak en sirkel Overberg se saamroeper van Landbou&Tuinbou en die sirkelpresdent 2001 – 2014, en Johlene Viljoen, Villiersdorptak se voorsitter en Hulpleefstylsaamroeper van sirkel Overberg.

 

Johlene Viljoen, jarelange vriendin, oorhandig die eretoekenning aan Annatjie Liebenberg, uittredende sirkelsekretaresse

 

Ná 15 jaar moet die sirkel ook nou afskeid neem van hulle geliefde sekretaresse Annatjie Liebenberg wat uittree. ‘n Eretoekenning is aan haar oorhandig en sy word opgevolg deur Lanita Marais van Gansbaai.

 

Die kompetisietafels was ‘n fees vir die oog met Bredasdorp wat die dorpstradisie van besondere gehalte handwerk voortsit, alhoewel hulle sterk mededinging van Hermanus gehad het. Bredasdorp verower die meeste trofees en het ook die meeste punte, met Hermanus tweede en Gansbaai derde. Gansbaai het ook die Presidentstrofee vir takprestasie in 2018 verower.

 

 

Jongensklip se afgevaardigdes v.l.n.r. Marieta Groenewald, Annelie Swart en René Fourie

 

 

Eregaste v.l.n.r Erna de Waal, vise-pres Kaapstadsirkel, Charlotte Kriek, president Kaapstadsirkel en Marinda Rall, president Paarlsirkel saam met Rienie Lüdick, president Overbergsirkel

 

 

Carien Dreyer was die begeleier en later gaskunstenares met ‘n besondere vertolking van Koos du Plessis se “Gebed”

 

Annatjie Liebenberg, uittredende sirkelsekretaresse, oorhandig een van die trofeë aan Annette van Eeden, voorsitter van die Bredasdorptak, algehele wenner.