Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 21 Maart 2019

 

Weergaloos. Indrukwekkend. Stylvol. Die allerbeste konferensie in Sirkel Middelland se 85 bestaansjare. Acquatak mag dalk so ‘n bietjie partydig wees, ons was tog gasvrou, maar . . . . Elke kompliment en lofprysing van die digby 100 afgevaardigdes, dagbesoekers en gaste is welverdiend.

 

Daar word altyd groot moeite gemaak met Acqua se vergaderings. Dit spreek vanself dat die Middelland Konferensie 2019 tot in die fynste detail en met groot sorg beplan en uitgevoer is. Die VLV-lede van Middelland verdien niks minder as die allerbeste nie.

 

Die Sun Boardwalk Internasionale Konferensiesentrum, op Port Elizabeth se strandfront, was waar konferensiegangers op Woensdag, 20 Maart, bymekaar gekom het vir inspirasie en om VLV-sake te bepraat. Dit was ook ‘n viering van Sirkel Middelland se 85ste bestaansjaar. Nog meer rede om gróót te gaan!

 

 

 

 

Konferensiegangers en gaste kon Woensdagoggend vanaf 07h30 arriveer. Artikels in die afdelings van gebak, gebottel en lekkers is in ontvangs geneem vir beoordeling deur Louretta Lötter en Sharon MacDonald. Twaalf blomskeppings met die tema “Kom ons dans”, is in die kompetisielokaal voltooi en deur Susan Viljoen beoordeel.

 

 

Almal moes teen 08h45 op hul sitplekke in die konferensielokaal wees. Elkeen van die Sirkel se 14 takke was verteenwoordig. Benewens die afgevaardigdes, was daar ook 45 dagbesoekers en 12 gaste.

 

 

Middelland Sirkelpresident, Lynette Martin, 2008 – 2019

 

Annette Deyzel, vorige Sirkelpresident (2000-2008), Emsie Stander, een van Acqua se stigterslede, wie die trofees oorhandig het, Maretha Badenhorst van Sirkel Kaapstad, wie by haar dogter en Acquabestuurslid, Ateline Meiring, gekuier het (spesiaal in die tyd van Konferensie) was Middelland en Acqua se  “VLV-gaste”.

 

Annette Deyzel, Maretha Badenhorst, Emsie Stander

 

Die Middelland Juweeltoekenning was vanjaar vir die eerste keer aan ‘n man toegeken. Charlie Josephs en sy gade, Shirley, was teenwoordig sodat Charlie sy oorkonde as Juweelpersoon 2019 persoonlik in ontvangs kon neem. Die toekenning word gegee aan persone wat uitsonderlike gemeenskapsdiens lewer. Charlie het die toekenning ontvang vir sy onbaatsugtige betrokkenheid by en bydraes tot die gemeenskappe van Addo en Colchester. Na ontvangs van sy oorkonde het hy Konferensie vertel van sy betrokkenheid by die gemeenskappe ten opsigte van rekenaarvaardigheid, sportontwikkeling, leesonderrig en herwinning. ‘n Waardige keuse vir hierdie toekenning.

 

Charlie Josephs

 

Francois Grobbelaar, vergesel deur sy twee kollegas, Dolly Diliwe en Nontsindiso Nzimande, van FASfacts (Fetal Alcohol Syndrome) het Konferensie meer vertel van die gevare en gevolge van ma’s wat drank gebruik tydens swangerskap. Die baba van so ‘n ma word gebore met fetale alkoholsindroom. Die sindroom is onomkeerbaar. Verstandelike gestremdheid, hiperaktiwiteit, liggaamlike gebreke soos hartdefekte, beenmisvorming en kenmerkende gelaatstrekke, asook lae emosionele intelligensie, het ‘n baie groot impak op die samelewing waarin die slagoffers grootword en leef.

 

Nontsindiso Nzimande

 

Om 10h45 is ‘n spogtee in die nisarea van die ICC aangebied. Die Sun Boardwalk Hotel bied gewoonlik ‘High Tea’ aan op ‘n Saterdagmiddag. Dié bederf, met van die lekkerste tot die fynste eetgoedjies, is aan die Konferensiegangers voorgesit. Synde die Sirkel se 85ste verjaarsdag was daar ‘n asemrowende 5-laag koek, gemaak deur die patisserie sjefs van Pastryworks.

 

 

Konferensie het weer om 11h30 hervat.

 

Dankietoekennings is aan Jean Watermeyer van Aberdeentak, Sarie Lahoud van Kraggakammatak, asook Petro en Wilma Human, beide lede van Herculatak, oorhandig. Takke nomineer lede, wie ‘n waardevolle en positiewe bydrae tot die werksaamhede van die tak en VLV gelewer het, vir hierdie toekenning.

 

Linette Botha is spesiaal vereer en bedank vir haar insette met die voorbereiding en samestelling van Woordjuwele / Gems of Thought en 4 Seisoene / 4 Seasons. Beide boekies was die breinkind en pennevrug van oud-Sirkelpresident, Helen Crouse.

 

Lynette Martin, Sirkelpresident, het haar presidentsrede gelewer en Natania Schmidt het Helen Crouse (President 1992-2000) se geskiedkundige oorsig van Sirkel Middelland voorgelees. Die groot bederf van die dag was toe die nimlike, uiters talentvolle en baie bekende Pedro Kruger konferensiegangers laat lag en ook laat huil het. Pedro is nie net ‘n klaviervirtuoos nie, maar ook ‘n woordsmid. Die VLV het uit sy hand geëet.

 

 

Middagete was ‘n feestelike en baie smaaklike afffêre.  Die tafels het met die hulp van AW Events en Flower and Gift Shop, wat gesorg het vir pragdekor, konferensiegangers sommer lekker laat kuier. Die sjefs van die Sun Boardwalk Hotel het ‘n aptytlike buffet voorgesit. ‘n Broodmandjie, gepluisde vark Caeserslaai, paella met chorizo en garnale, Mexikaanse ribbetjies met gepiekelde rooi uie, lendeskywe met ‘n mosterd-kruie salsa en botter-gesmoorde hoender is maar enkele van die geregte waaruit gekies kon word.

 

 

Om 14h35 het almal weer hulle plekke ingeneem vir die voorlaaste konferensiesessie. Die prysuitdeling was ‘n besliste hoogtepunt. Nie net omdat die suksesvolle lede en takke beloon is nie, maar omdat Pedro vir Emsie (Stander) hand gegee het met die oorhandiging van die trofees. Die gasvroutak vir volgende jaar se Sirkelkonferensie, Willowmoretak, het geleentheid gekry om ‘n uitnodiging na die 2020 Konferensie te rig.

 

Die nuwe, 10de, Middelland Sirkelpresident is aangekondig. Acqua is breëbors. Nie alleen is Lynette Martin ‘n stigterslid van Acqua nie, maar Hannelie Low, wie by haar oorneem as Sirkelpresident, is óók ‘n Acqualid.

 

 

Middagtee het die aanname van die Sirkelsaamroepersverslae, die aansteek van die nuwe Sirkelpresident se kenteken, bedankings en die uittog van die vlae voorafgegaan.

 

Kwakkie was natuurlik een van Acqua s dagbesoekers

 

Acqua is regtens baie trots op die stylvolle 85ste Konferensie wat aangebied is. Noukeurige beplanning, aandag aan fyn detail, foutlose uitvoering en ruim borgskappe het gesorg dat almal teenwoordig vol inspirasie en met hernude ywer om ‘n voetspoor in hul gemeenskappe te los, huiswaarts gekeer het.

 

Daar word graag en met groot dankbaarheid erkenning gegee aan:

  • Sun Boardwalk Hotel, Convention Centre & Spa

LOKALE vir Sirkelbestuursvergadering, kompetisies en beoordeling, konferensie, spogtee, middagete

VERSNAPERINGE, MIDDAGETE vir Sirkelbestuur en beoordelaars

VERBLYF vir Pedro Kruger

  • AW Events

DEKOR & LINNE

  • CB Entertainment

AUDIOVISUELE versorging – skerms, mikrofone, podium, kateder, personeel

  • Col’Cacchio

ETE vir Sirkelbestuur, beoordelaars, Acquabestuur

  • Pastryworks

VERJAARSDAGKOEK

  • Heinz In Style

GESKENKE vir Sirkelbestuur en afgevaardigdes

  • Seasons

GESKENKE vir dagbesoekers en gaste

  • Flower & Gift Shop

BLOMDEKOR vir ontvangs, spogtee, konferensietafels, tafels vir middagete

  • Just Water

WATER met konferensielogo vir konferensiegangers

  • @47 Guest House

VERBLYF vir beoordelaars, Sirkelbestuur, gaste

  • Penmark

LÊERS & PENNE

  • JA Floral Distributors

SERVETTE

  • Minuteman Press

DRUKWERK

  • Robert Gillmer Events Entertainment

SANG tydens middagete

  • Taryn Rahl Photography

FOTO’S

  • Lilian Zeelie

KLAVIER vir Pedro Kruger